|
DIE stryd om die beheer van KWV het verlede week geëindig toe KWV se direksie aangekondig het dat 'n konsortium bestaande uit die KWV Werknemerbemagtigingstrust en Christo Wiese ('n KWV-direkteur) Anglo African Trading konsortium se aandele gekoop het.
Hulle het die 85 miljoen aandele van Anglo African Trading en ander aandeelhouers (AAT konsortium) gekoop teen R157 miljoen.
AAT het in die voorafgaande weke gepoog om sowat 15% van KWV aandele te bekom teen R1,60 per aandeel, wat hom die grootste aandeelhouer gemaak het.
Dit het veroorsaak dat die hoeveelheid aandele wat vir swart ekonomiese bemagtiging beskikbaar was, gekrimp het.
Die aandele wat nou aan Wiese verkoop word, sluit ook dié in wat oorspronklik deur die Groep van Vyf (vroeër GT Ferreira, Pug Roux, Paul Meaker, Hannes van Niekerk en Thys du Toit) teen laer pryse bekom is.
Die ooreenkoms volg op KWV se aankondiging verlede week dat 'n aanbod van R1,85 per aandeel deur sy voorgenome bemagtigingsvennoot, Phetogo, gemaak gaan word met die oog op 'n swart bemagtigingstransaksie.
Die transaksie het nou 'n konsolidasie van eienaarskap tot gevolg wat kan meehelp om die beoogde swart bemagtigingstransaksie te fasiliteer.
Christo Wiese, voorsitter van Pepkor, is eienaar van beide Lanzerac en Lourensford wynlandgoedere.
Die beduidende aandeel wat hy na verwagting nou in KWV sal hê, toon volgens KWV sy vertroue in die potensiaal van die maatskappy en die kompeterende vermoë van die Suid-Afrikaanse wynbedryf.
Benewens Wiese sal KWV se grootste aandeelhouers - na afloop van die transaksie, en na die finalisering van die swart bemagtigingsinisiatief - Phetogo (25,1%) en VinPro (10%) wees.
Phetogo sal nou voortgaan met sy proporsionele aanbod aan bestaande aandeelhouers, aangesien die Phetogo konsortium 'n totaal van 112 miljoen aandele wil bekom.
KWV het ook besluit om 'n spesiale dividend van 23c per aandeel uit te betaal op 15 Oktober, na afhandeling van die SEB transaksie.
Dit beteken dat SEB aandeelhouers effektief net R1,62 per aandeel sal betaal.
Die woordvoerder van AAT, Niel du Bois, het vandeesweek gesê, "Dit was nie vir ons strategies die moeite werd om die aandele te behou, indien ons nie genoeg kon verkry om werklik 'n invloed op die bestuur van KWV te hê nie.
"Gevolglik het ons besluit om te verkoop toe ons deur Wiese genader is." |