ppostgothic
Aida
safetop
uitlefstreep

Thursday 1 July 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 8 July  2004 at 17:30

Sport

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Waterplasse pootjie atlete

[ Top ]


ATLETE wat Saterdag in die Paarl in gietende reën aan die Wes-Kaapse Landloopkampioenskappe deelgeneem het, moes letterlik deur diep waters sukkel vir 'n plek op die podium.

Die byeenkoms word jaarliks gehou om atlete te help met voorbereiding vir die SA Kampioenskappe.

Die atlete van die Boland, WP en SWD moes omtrent hul trap ken op die nat, gladde baanoppervlakte wat by die Boland Park krieketstadion uitgemerk is.

Verskeie van die atlete het tot groot vermaak van die sowat 2 000 toeskouers om die baan se skerp draaie gegly en geval, veral waar daar teen die skuins graswalle afgehardloop moes word.

Ten spyte van die nat toestande was die verwagte stryd tussen die Boland en die WP se senior mans in die 4km-wedloop wel 'n groot hoogtepunt.

wWATERfc

GLY-GLY. 'n Nat en modderige Boland Park het Saterdag tot stadige tye gelei tydens die Wes-Kaapse Landloopkampioenskappe wat in die Paarl gehou is. Hier lewer André Conradie (voor) van Kaapse Technikon Wellington Kampus, Dicardo Jacobs (WP) en Cedric Arendse (ook Boland) bewys van die waterhindernisse wat die atlete op die roete begroet het. Conradie het die 8km-wedloop vir seuns 19 jaar in 23:29 gewen.                                    

Die Boland-span wat gelei was deur Johan Landsman, SA 1500m rekordhouer, was van die staanspoor in 'n taai stryd gewikkel met die WP-span, onder leiding van Sibusiso Valashiya.

Die atlete het vir die grootste gedeelte van die wedloop feitlik kop-aan-kop gehardloop.

Dit was eers in die laaste kilometer wat Landsman (11:12) en Gregory Viljoen (11:13) van Maties van die bondel weggebreek het om onderskeidelik eerste en tweede die wenstreep oor te steek. In die derde plek was nog 'n Boland-atleet, Marius Hendricks (11:23) van Wellington Atletiekklub.

Valashiya was vierde in 11:39.

Die WP-mansatlete was egter weer baas in die 12km-wedloop, met Bonsile Ngculana (35:19), Friedol Maans (35:45) albei van WP en Pieter Koopman (36:15) van Celtics, wat plek gekry het.

Die eerste Boland-atleet wat hier die wenstreep oorgesteek het, was Alistair Kingwill van Maties in 36:58 vir sy sesde plek.

Die Boland-span het die kompetisie gewen met slegs 11 strafpunte teen hulle, en die WP in die tweede plek met 40 strafpunte. SWD het nie 'n volledige span gestuur nie, maar individuele atlete het wel deelgeneem.

Die Boland senior manspan se goeie vertoning voorspel goeie dinge vir die SA kampioenskappe wat in September gehou word.

Landsman en sy span mik om onder die top drie spanne te eindig.

Die volgende Boland Atletiek Ligabyeenkoms is op 17 Julie in Robertson.

Die wenners: m.9: Elana Ceaser (Bol), s.9: Ledimo Barties (Bol), m.10: Melissa Phillipus (Bol), s.10: Stephan Nel (Bol), m.11: Letania Smith (Bol), s.11: Emile Pieterse (Bol), m.12: Deonita Phillipus (Bol), s.12: Teswill Booysen (Bol), m.13: Thinka Fourie (WP), s.13: Jonathan Jacobs (Bol), m.14: Olga Davids (Bol), s.14: Benjamin Ganyathi (WP), m.15: Destiny Titus (WP), s.15: Shaun Zuzani (WP), m.16: Claudza Beukes (Bol), s.16: Elvis Mde (WP), s.17: Dorette Pyper (WP), s.17: Tom Lusaseni (WP), s.19: Nolele Conrad (Bol), s.19: Andre Conradie (Bol), snr vroue 4km: Eveline Julies (Bol), snr mans 4km: Johan Landsman (Bol), snr vroue 8km: Zintle Xiniwe (WP), snr mans 12km: Bonsile Ngculana (WP).


Cravenweek skop af

[ Top ]


DIE Boland Rugby Unie, wat verlede jaar 'n baie geslaagde Cravenweek vir hoërskole op Wellington aangebied het, sal volgende week die laerskoolspelers van dié toernooi hier verwelkom.

Die Laerskool Cravenweek skop Maandag af op Wellington en sal tot Vrydag duur, met spelers wat die Woensdag 'n af-dag sal kan geniet.

Die amptelike opening is Maandag om 16:00 met optredes deur valskermspringers en klopse.

Alle rugbywedstryde sal op die hoofveld van Boland Stadion gespeel word en soos verlede jaar sal toeskouers kan eet, drink en kuier in tente en stalletjies langs die veld. Daar sal saans musiek gemaak word in die restaurant.

Kaartjies is R10 (skoliere gratis) by die hekke te koop. Geen weeklikse pakkette is beskikbaar nie en programme sal daagliks by die hekke te koop wees.

Die eerste dag se program is Boland XV t Namibië (09:00), Griekwas t Grens Distrikte (09:50), Griffons t Grens Bulldogs (10:40), SWD Arende t KwaZulu-Natal (11:30), Limpopo t OP Olifante (12:30), Vrystaat t Noordwes Luiperds (13:20), Leeus t Pumas (14:10), WP t Valke (15:00), Opening (16:00), Boland t Blou Bulle (16:45).


Eerste nederlaag vir Albions

[ Top ]


DIE koue weer het Saterdag behoorlik in die murg van Albions se eerste rugbyspan ingekruip en hulle moes die prys betaal deur 18-7 teen Franschhoek United te verloor.

'n Veelvoud blapse, swak verdediging en slordige hanteerwerk het die Paarliete se spel in dié wegwedstryd gekenmerk terwyl die weer hoegenaamd geen aanskoulike spel toegelaat het nie.

Die tuisspan kry hul eerste punte nadat hulle 'n swak tikskop van Albions onderskep en Lesley Boonzaaier (losskakel) gaan druk.

Hy slaag ook met die doelskop en 'n strafskop om sy span rustyd 10-0 te laat voorloop.

In die tweede helfte druk John Jacobs Franschhoek se tweede drie na 'n strafskop vyf treë van die doellyn toegeken word en 'n vinnige tikskoppie geneem word.

Die besoekers vind eers hul voete in die laaste 10 minute en Jenovan Cornelissen (flank) druk hul enigste drie, met die vleuel Alvin Hugo wat verdoel.

Boonzaaier slaag met nog 'n strafskop om Albions se lot te verseël.

Morné Goetham (agsteman) is as Albions se speler van die wedstryd aangewys.

Franschhoek United II en III wen 22-15 en 15-7.


Koue Newtons klop tog vir Brandvlei

[ Top ]


NA 'n swakkerige eerste helfte wat deur Brandvlei Perseverance oorheers is, het Newtons vier pragdrieë gedruk en 27-13 gewen.

Die besoekers het rustyd 8-3 voorgeloop nadat hulle gebiedsvoordeel geniet het en slegs swak hanteerwerk hul daarvan weerhou het om selfs verder voor te loop.

Hoewel die Worcesteriete se agttal aanvanklik oorheers het, het Newtons se pak later beheer oorgeneem en die platform gelê vir die agterlyn se oorheersing in die tweede helfte.

Kaptein Roderick Loverlott (haker), Mark Arendse (flank) en Rod Demas (slot) het voorlangs uitgeblink terwyl Jonathan Schalkwyk (senter) en Nicolyn Whittles (heelagter) ook goed gespeel het.

Schalkwyk het 'n driekuns behaal, met Chester Cupido (vleuel) en Simon Philander (losskakel) wat ook in die doelgebied gaan kuier het. Skrumskakel Roderick Claasen het met 'n doelskop geslaag.

Newtons speel Saterdag weg teen St Helenabaai. Die bus vertrek om 10:00 vanaf Krystals Supermark en is R30.


Peoples slaan bewaarders hok

[ Top ]


DIE eerste span van Young Peoples Rugbyklub het Saterdag op Daljosafat 'n goeie begin tot die tweede ronde gemaak toe hulle Korrektiewe Dienste met 24-13 geklop het.

Die Tiere het ook 'n waardevolle bonuspunt verdien deur vier drieë te druk en was met rustyd 12-7 voor.

Peoples het voor die wedstryd slegte nuus ontvang toe drie van hul spelers, kaptein Barry Williams (skrumskakel), Giezler Sitzer (senter) en die stut Brian Williams moes onttrek.

Die Tiere het as span egter puik saamgespeel en het die bewaarders in die eerste kwartier goed op hul herrie gegee.

Peoples se voorspelers, veral Irvin Martin, Rowan Claasen en Franklin Mitchell, het indrukwekkend vertoon.

Mitchell het drie vasskoppe gehaak en sy algemene spel was puik.

Agterlangs het Davy de Kock en Sam Titus hul teenstanders geterroriseer met harde laagvatte, terwyl Kurt Martin 'n goeie terugkeer tot die eerste span gemaak het.

De Kock, Irvin Martin, Charles Booysen en Cedric Williams het Peoples se drieë gedruk. Delwaine Cornellisen het twee doelskoppe behaal.

Peoples II en III het 25-7 en 3-0 gewen.


Windmeul  waai Gardens plat

[ Top ]


DIE manne van Young Gardens se eerste span was Saterdag beswaard weg uit die Agter-Paarl toe hulle 19-15 teen Windmeul United vasgeval het.

Richardt Liebenberg en André Andreas het Windmeul se twee drieë gedruk, terwyl Jan Williams met drie strafskoppe suksesvol was.

Tino Prins en Christopher Fortuin het Gardens se drieë gedruk. Prins en Randall George het onderskeidelik met 'n doel- en skepskop geslaag.

Gardens speel Saterdag teen Weermag/Delft op Gardens Park.


Land van klawers wag vir fietsryers

[ Top ]


TWEE ryers wat Saterdag hul wedrenne in die Boland Padkampioenskappe gewen het, mik om eersdaags oorsee hul plek in die SA Statebond Spele-span te verseker.

Magdalene Nicholson (Yorkshire) en Bertram Siebrits (Rhadsport) wat reeds vroeër vanjaar op die SA-kortlys vir die Statebond Spele ingesluit is, het 'n uitnodiging ontvang om in Ierland te gaan deelneem.

Die Suid-Afrikaners sal met ryers van ander lande wat ook in aanmerking kom vir dié Spele in 'n sewe-dag fietstoer kragte meet ter voorbereiding op die byeenkoms wat in Desember in Australië plaasvind.

Nicholson het Saterdag opnuut gewys dat sy in top vorm is toe sy die algehele vrouewenner was in die Boland Padkampioenskappe wat oor 66km beslis is.

Dit volg nadat sy onlangs ook 'n rits medaljes losgery het in die SA Baankampioenskappe. In die afdeling vir vroue o.16 het sy goud gekry in die 500m tydtoets en 2000m enkelagtervolging, silwer in die 8km puntewedren en 1000m naelry en brons in die 1500m-van-streep-af wedren.

Siebrits was verlede Saterdag op sy beurt die wenner van die juniors groep tydens die provinsiale padbyeenkoms.

Siebrits het in Maart vanjaar vir die eerste keer in 'n nasionale span meegeding toe hy die SA junior span verteenwoordig het tydens die Drie Nasies byeenkoms in Bellville.

Siebrits en sy spanmaat het in die 130 ronde madison-wedren teen ryers van Duitsland en Australië algeheel vyfde gekom.

Siebrits en die bekende Carl Swynn, wat tans in Switserland fietsry, is die enigste twee SA-ryers wat op beide die Spele-kortlys is vir pad- en baanfietsry. Hy vertrek môre na Johannesburg om saam met die kortlysgroep te oefen.


Toutrekkers trek saam op Rawsonville

[ Top ]


DIT is vanjaar 100 jaar gelede dat Toutrek Suid-Afrika 'n nasionale span vir die eerste keer na die Olimpiese Spele gestuur het.

Om dié herdenking te vier, hou die toutrekkers dié naweek groot makietie by die Rawsonville Sportterrein.

Tydens die byeenkoms word die nasionale toutrekproewe dan ook gehou. Spanne van regoor die land gaan aan die SA's deelneem waarna die nasionale spanne bekend gemaak gaan word wat op 30 Augustus na Rochester, Minnesota, in die VSA vertrek.

Die SA-span gaan dan 'n aanslag maak op die goue medaljes wat tydens die 2002 Wêreldkampioenskappe net buite hul bereik was.

Piet Fourie, President van die Suid-Afrikaanse Toutrekfederasie, gaan ook terugvoering gee oor die bod wat hy tydens sy besoek aan Italië ingesit het vir die Binnenshuise Wêreldkampioenskappe wat in 2010 by Bellville Velodrome gaan plaasvind, asook die Buitenshuise Wêreldkampioenskappe wat in September 2010 in Pretoria gehou gaan word.

"Tug-of-War International Federation vier ook in 2010 sy 50ste bestaansjaar en nadat Suid-Afrika so 'n reuse sukses gehad het met die wêreldkampioenskappe in 2002 is dit vir ons 'n 'n groot eer om twee Wêreldkampioenskappe in een jaar te kry!" sê Fourie.

"Almal wat op 'n stadium met dié sport betrokke was, word gevra om die naweek saam met ons te kom kuier."


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za  

[ Top ]

[ Top ]