|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
DIE Boland Kavaliers sal gretig wees om hul nederlaag van 49-17 teen die Valke verlede Saterdag op Springs so gou moontlik te vergeet as hulle môre op Boland Stadium teen die Cheetahs te staan kom. Boland se spel is deur 'n horde foute gekenmerk, wat met groot doeltreffendheid deur die Valke uitgebuit is. Vyf van die tuisspan se ses drieë was die direkte gevolg op foute van die Wynboere. Die Kavaliers het weer eens gesukkel om aan die gang te kom en was teen rustyd 34-3 agter. Hoewel Boland in die tweede helfte twee drieë kon druk, was die Valke se verdediging goed en deurkomkans min. Die Cheetahs het in sy wedstryd teen die Grens teen rustyd 28-13 voorgeloop maar 'n verstommende terugvegpoging het die Bulldogs 33-31 laat seëvier. Die Cheetahs sal nie dieselfde fout môre wil maak nie en die Kavaliers sal van die staanspoor af die punte moet begin opstapel as hulle 'n oorwinning op Wellington wil verseker. Rudolf Straeuli het die Bolander, Wayne Julies, opgeroep om saam met die Springbok-groep te oefen vir die komende Drienasies-wedstryd in SA. Die Bolandse breier Jerome Paarwater sal dus vir die volgende paar wedstryde sonder dié staatmaker senter moet klaarkom. |
|
|
|
|
DIE Boland krieketspan sal die komende seisoen aanpak sonder sy kaptein en staatmaker-kolwer, Louis Koen, nadat hy Maandag sy uittrede aangekondig het. Koen het die Boland Krieketraad van sy besluit in kennis gestel by wyse van 'n faks waarin hy toenemende werksdruk en emosionele redes as verduideliking gee vir sy besluit. "Daar is verskeie redes, maar ná 27 jaar van krieket speel, voel ek dit het tyd geword om te prioritiseer. Ek het 'n druk werkprogram en my kinders is nou ook op daardie ouderdom waar ek meer tyd saam met hulle wil deurbring," het Koen gesê. Hy het bygevoeg dat die gebrek aan vordering met die oplos van probleme in Boland Krieket weens alewige ge-politiekery ook 'n rol gespeel het. Volgens Pietie Williams, hoof uitvoerende bestuurder van die Boland Krieketraad, is die Vrystater, Louis Wilkinson, en Kenny Jackson van Boland 'n kontrak aangebied. |
|
|
|
|
PAARL RANGERS het Saterdag behoorlik die derby teen Young Gardens oorheers deur vier van die sewe wedstryde te wen en een gelykop te speel op Gardens Park. Die hoofwedstryd was 'n tawwe stryd en die uitslag was in die weegskaal tot in die laaste minute van die wedstryd. Hoewel albei spanne gretig was om met die bal te hardloop, was die verdediging aan albei kante rotsvas en is deurkomkans tot die uiterste beperk. Omdat daar geen ligapunte op die spel was nie, het Rangers 'n paar jong spelers 'n kans in die begin-vyftiental gegee. Gardens het eerste punte op die bord gesit toe Randall George met 'n strafskop slaag. Teen rustyd is geen verdere punte aangeteken nie en die telling bly 3-0. Vroeg in die tweede helfte maak die jongeling Claude Swarts sake vir Rangers gelykop met sy skopskoen. Ondanks die meedoënlose aanvalle van albei spanne kon geeneen weer punte aanteken nie. Die besoekers se moeite is egter beloon in die laaste kwartier toe die bal blitsig langs die agterlyn beweeg het en die heelagter, Phillip van Staden, seepglad tussen die senters deursny om die enigste drie van die wedstryd te druk. Swarts het verdoel en Gardens wen 10-3. Van Staden is as speler van die wedstryd aangewys. Die ander uitslae is: o.14 Rangers wen 23-3, o.16 Rangers wen 22-14, C-span Rangers wen 17-12, B-span Gardens wen 13-12, vroue Gardens wen 12-7, veterane gelykop 5-5. |
|
|
|
|
ONSEKERHEID oor die weerstoestande het Saterdag beteken dat minder as die verwagte aantal fietsryers aan die Criterium van die Rhadsport Fietsryklub deelgeneem het. Danksy 'n paar WP-jaers het die hoofbondel van junior, senior en veterane darem uit 'n groep van 15 fietsryers bestaan. Soos verwag, was dit die twee plaaslike jaers, Garth Thomas en Ricardo Heneke, wat die meeste aanvalswerk in dié afdeling gedoen het. Heneke het vroeg in die wedren 'n stewige voorsprong opgebou nadat hy van die bondel af weggekom het. Thomas het in die eerste rondte 'n lekkende band gehad en moes met 'n pap wiel tot by die wenstreep ry waar hy eers sy wiel kon omruil. 'n Grasie-rondte word onder dié omstandighede toegelaat - ook maar goed, aangesien nog vier deelnemers later dieselfde probleem gehad het. Ná Thomas se terugkeer in die wedren, moes hy hard jaag om Heneke in te haal. Laasgenoemde het weer die voortou geneem en probeer wegjaag, maar is gou deur Thomas agternagesit. Die twee jaers het gou 'n groot gaping tussen hulself en die res van die bondel oopgemaak en daarna was dit 'n tweeman-wedren. Thomas (Rhadsport) het die naelrit na die wenstreep met 'n kortkop gewen gevolg deur Heneke van Yorkshire tweede. Ashley Kulsen van Paarl Fietsryklub het derde geëindig. Wayne Benjamin (Rhadsport), Orpheus Opperman en Michael Jacobs (albei van Elfin) het die top drie plekke in die veterane-afdeling beklee, met Lucian Adonis (Yorkshire), Verdi Farao (Rhadsport) en Anton Wynand (Rhadsport) wat dié plekke in die junior afdeling ingeneem het. In die o.16-groep moes Durwin Benjamin, die Boland kampioen, toekyk hoe Brinley Hector (Paarl), Justen Cacket (City) en Bertram Siebritz (Rhadsport) voor hom oor die wenstreep jaag. Die broers Jardino en Webster Jacobs van Yorkshire het onderskeidelik die o.12 en o.14 afdeling gewen. Courtney Martin (Rhadsport) het vir 'n verrassing gesorg toe hy in die tweede plek voor Robin November in die o.12 groep klaargemaak het. Arthur Benjamin (Worcester) was die tweede o.14 gevolg deur Reginald Benjamin van Rhadsport. * Dieselfde wedren word weer Saterdag gehou om 14:00 by BoE Park. |
|
|
|
|
DIE eerste rugbyspan van Wellington het Saterdag sleg tweede gekom in sy wedstryd teen Ceres wat op 'n swaar modderveld van OKB beslis is. Die besoekers het van die staanspoor af alles reg gedoen en hul pak voorspelers het met groot doeltreffendheid in die modder baljaar. Wellington het vroeg kans gekry om punte op die bord te sit, met 'n strafskop. Maar die losskakel, Mark Kotzé, se skop van sowat 15m buite Ceres se kwartgebied het net nie genoeg woema gehad nie en hop aan die verkeerde kant van die dwarslat af. Ceres druk hierna sy eerste drie nadat 'n slim tikskoppie deur Connie Malherbe (10) vir senter, JP Redelinghuys, geleentheid gee om op die bal te val vir 'n drie. 'n Afgestormde skop in die 25ste minuut gee Ceres hul tweede drie na goeie opvolgwerk deur Jaco Immelman. Ná die toekenning van 'n strafskop enkele treë van Wellington se doellyn, het Kobus le Roux (flank) die bal vinnig geneem en eiehandig oorgestorm vir sy drie en die telling op 17-0 gebring. Kort voor rustyd word die Wellingtonse slot De Wet Neethling afgestuur vir trap in die skrum en Malherbe verleng hul voorsprong na 20-0 met die strafskop. Die Ceresiete het met al groter gemak gespeel in die toetsende omstandighede, terwyl die Wellingtonners gesukkel het om hond haaraf te maak. Malherbe druk weer en verdoel voor die halftydfluitjie kan blaas met die telling op 27-0. In die tweede helfte het Wellington steeds gesukkel om sy voete te vind. Nadat Ceres weer gedruk het, het die tuisspan egter goed druk uitgeoefen. Wellington kry 'n strafskop in die besoekers se kwartgebied en na 'n stormlopie en maal-dryfbeweging druk De Wet Neethling met Kotzé wat verdoel. Ceres se goeie verdediging het deurkomkans onmoontlik gemaak terwyl hul uitstekende ondersteunende spel op die aanval die gapings vir hulle oopgemaak het. Die besoekers druk nog drie keer en verdoel nog een. In die laaste minute druk Wellington se senter, JD de Bruyn, 'n troosprys-drie in die hoek om die eindtelling op 44-12 te bring. Hoewel Wellington die wedstryd verloor het, is hy steeds op koers na 'n plek in die eindstryd nadat Rawsonville, sy naaste teenstander, ook Saterdag verloor het. Wellington se derde span het met hulle oorwinning van 48-0 verseker dat hul bo-aan die punteleer bly. |
|
||||