|
DIE tiende Nasionale Hennie Joubert Klavierkompetisie word dié naweek deur die Kaapse Technikon (Wellington kampus) in samewerking met die Wellingtonse Musiekvereniging op Wellington aangebied.
Die halfeindronde was gisteraand op Wellington en die gala is môreaand in die Endlersaal op Stellenbosch. Die finaliste word dan deur die Kaapse Filharmoniese Orkes, gedirigeer deur die Skotse dirigent George Michie, begelei.
Vanjaar se beoordelaars is André Serfontein (Kaapse Technikon: voorsitter), John Roos (Unisa), prof James May (Universiteit van Kaapstad), Marie Gaerdes (Pretoria), Juliana de Villiers (Stellenbosch), Bennie van Eeden (Universiteit van Stellenbosch) en Johan de Klerk (Wellingtonse Musiekvereniging).
Daar word ook tydens die gala-aand hulde gebring aan die Skotse pianis Virginia Fortescue wat vanjaar 80 is.
Sy was vir 40 jaar deel van die Suid-Afrikaanse musiektoneel en was sedert die ontstaan van die kompetisie tot in 1994 die voorsitter van die beoordelaarspaneel.
Sy woon tans in Frankryk en onderneem tans 'n konserttoer deur die land saam met die Kanadese fagotspeler, George Zuckerman.
Kaartjies vir die gala-aand in die Endlersaal op Stellenbosch is by Computicket beskikbaar.
Vir meer besonderhede besoek die kompetisie-webwerf by www.ctech.ac.za/conf/piano of kontak André Serfontein by 873-1131 x228.
* The final of the Hennie Joubert Piano Competition is in Stellenbosch tomorrow. |