safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday 2 May 2002

uitlefstreep

This site will be updated on: 9 May 2002 at 17:00

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

 Letters - Briewe


Buitelandse toeriste trek aan kortste ent

[ Top ]


DIT wil voorkom of buitelandse toeriste aan die kortste ent trek in ons dorp (brief "Toeriste loop deur" 18 April).

'n Familielid vanaf die VK het op 9 April 'n dokter nodig gekry. Ek het die PaarlMed24 kliniek op Patriotplein aanbeveel omdat ek ook soms my kinders daarheen neem. 

My broer moes R340 kontant betaal vir die konsultasie. Geen medikasie was hierby ingesluit nie. In Januarie het ek slegs R100 betaal vir 'n soortgelyke  besoek.

Dit klink vir my onredelik. Of die dorp se inbrekers nou die oortredings begaan of die dokters die mense uitbuit, alles gee op die einde ons dorp 'n slegte naam

R Lombard

Die praktykbestuurder van PaarlMed24, Hugo Jansen van Rensburg, reageer: Tariewe vir mediese dienste word deur die Board of Healthcare Funders (BHF) en die SA Medical Association (SAMA) voorgeskryf.

Die tariewe van BHF is meer as 130% goedkoper as die tariewe wat deur SAMA voorgeskryf en gevra mag word. Geneeshere is egter nie verplig om die tariefstrukture soos voorgeskryf te gebruik nie.

Die beleid van PaarlMed24 is om 'n koste-effektiewe mediese diens van 'n hoë standaard aan die gemeenskap van Paarl en omgewing te lewer, daarom word van die BHF tariewe gebruik gemaak.

Alle fooie wat deur PaarlMed24 gehef word, word deur die BHF voorgeskryf en geen "uitbuiting" vind plaas nie, hoewel buitelanders 'n hoër tarief betaal.

PaarlMed24 is een van die mees koste-effektiewe mediese sentrums in die land. Ons is trots daarop dat Paarl wel 'n fasiliteit soos PaarlMed24 het, wat mediese diens van uitstekende standaard lewer, en dat ons wel buitelandse toeriste kan akkommodeer en bedien.


Waarom moet eekhorings uitgeroei word?

[ Top ]


VYFTIEN jaar gelede het ons as gesin Paarl toe verhuis en groot was my vreugde toe ons eekhorings in ons tuin opmerk. Vir 15 jaar lank lewe ek al saam in harmonie met hierdie diertjies.

Vandag word ek genoodsaak om te moet sê dat dit nie meer die geval is nie. My buurman vang hulle en ry hulle in sy bakkie weg.

Drie vanghokke is strategies rondom sy neutboom gerangskik om die eekhorings te vang.

In belang van harmonie het ek op 13 April oorgestap na die buurman om die aangeleentheid met hom te gaan bespreek.

Toe ek hom vra hoekom hy die eekhorings vang, het hy geantwoord dat hulle 'n plaag is en dat hulle sy neute en avokadopere eet.

Ek het aangebied om die avokadopere wat die eekhorings beskadig het, te vervang en het ook aangebied om neute te koop en aan hom te gee ter vergoeding van die neute wat gevreet word.

Tot my verbasing het hy die voorstel egter van die hand gewys en gesê hy sal voortgaan om die eekhorings te vang en van kant te maak. Dit bekommer my dat van die kleintjies dan 'n hongerdood sterf.

Die eekhorings gee my, my vriende en ander bure baie plesier. Daar is niks lekkerder as om op jou voorstoep te sit en kyk hoe 'n eekhoring met 'n dennebol speel of vir die kleintjies leer hoe om akkers te begrawe nie.

Hoe nou gemaak?

Alet Swanepoel, Courtrai, Paarl

Volgens 'n woordvoerder van Natuurbewaring word die eekhoring beskou as 'n knaagdier en word dit soos rotte en muise geklassifiseer as 'n onbeskermde plaagdier weens die skade wat dié diere aan dakke en bedrading kan aanrig. - Red.


Gaan Paarl later een groot toilet word?

[ Top ]


WAAR mense ook al woon, wettig of onwettig, skep hulle vullis. Indien daardie vullis nie deur die Munisipaliteit verwyder word nie, eindig dit in hope gemors op enige oop stukkie grond, in strate, op straathoeke, voor openbare en staatsgeboue en in parke.

Om vullis te verwyder is 'n duur storie, maar as dit nie skoongemaak word nie, veroorsaak dit gesondheidsgevare en word dit 'n skuil- en broeiplek vir peste soos rotte.

Tans mag onwettige plakkers nie diens ontvang nie, want dan erken die Munisipaliteit glo hul verblyfreg op die grond waar hulle is.

Dus hoop die vullis net oral op - maak nie saak wat dit aan ons mense (ook die wettige inwoners) se gesondheid doen nie.

Word die vullis verwyder erken die Munisipaliteit kwansuis die onwettige plakker het 'n reg om te bly waar hy is en dan kan die mense nie verwyder word nie.

Waar in jou lewe het jy al gesien (en ek praat nou nie van die era van die Groot Krokodil nie) dat 'n plakker verwyder word sonder dat jy iewers vir hom in elk geval 'n smarty of milky town moet gee?

Ons kan dit maar net sowel aanvaar en hierdie mense se vullis begin verwyder. Ons dorp/e sal skoner wees en ons sal menswaardig kan lewe.

En dan kan daar ook gerus 'n plan gemaak word met die plakkers se riool - of gaan Paarl een groot toilet word?

Anti-vullis


Mense gee werklik nog om

[ Top ]


DIE werkers van die plaas Parys wat sonder inkomste gelaat is nadat die eienaar die plaas verlaat het, wil baie graag dankie sê aan plaaslike supermarkte en die gemeenskap wat ons bystaan.

Die bestuur van Pick 'n Pay het voedsel voorsien na die verskyning van die eerste berig in die Paarl Post. Woolworths help steeds - dankie vir die oop hand aan hulle wat nie het nie.

Baie dankie ook aan alle individue en besighede wat hulle oor die werkers ontferm het. Dankie aan die plaaslike kliniek vir voedsame voedselpakkies vir die kinders.

Ons beleef nou werklik dat mense nog omgee.

Anoniem


Neem eienaarskap van dié bate

[ Top ]


ABSA Bank het vir ons 'n outoteller by Foodworld in Paarl-Oos geïnstalleer. Vir baie in die gemeenskap was en is dit 'n welkome uitkoms.

Nou hoef ons nie meer dorp toe te gaan om geld te trek nie, met eie motor of met taxi welke kant toe ook al. Dit is minder moeite en minder kostes.

Elke keer as ek die outoteller besoek, merk ek dat die OTM beskadig is of die skerm of sleutelbord loop deur onder kwaadwillige hande.

Ek weet verseker dat jy in elk geval nie daarin sal slaag om by die geld uit te kom, as dit die motief is vir die vandalisme nie.

Hoekom neem ons as gemeenskap nie eienaarskap van alles wat daargestel word vir ons voordeel nie?

Kom ons pas dit op, want in die geval van hierdie OTM sal Absa dit net tot 'n punt verdra en dit dan wegneem  - tot ons nadeel.

NA Johnson


Begraafplaas langs Bergrivier is 'n skande

[ Top ]


OP Goeie Vrydag het ek en besoekers uit die binneland, oud-Paarliete, na die Toringkerk se begraafplaas in die Bergrivier Boulevard gegaan, die ene antisipasie om 'n paar gewyde oomblikke met ons ontslape geliefdes deur te bring in stille dankbaarheid vir wat was en is.

Was my verbasing nie groot toe ek die hek oopsluit nie: oral was komberse, klere, kussings, kosbakke, plastieksakke, bottels, blikke en gemors, half verskans deur die verdroogte tuinvullis.

Wat 'n ontsettende ontnugtering, wat 'n gebrek aan respek, wat 'n skande!

Noord, suid en oos in die eens waardige begraafplaas het agtergeblewenes op oop vure hul potjiekos gekook, altemit met behulp van die afgebreekte grafkelderdeure.

Hul klere het wyd en syd oor die grafstene gedroog, terwyl hulle lustig en luidkeels geselskap gehou het - hul eie fees in die skadu van die bome wat reeds vir dekades oor ons mooi dorp se gewese inwoners waak.

Die stank van ontlasting het swaar in die lug gehang.

Verslae het ek my blomme in die leë potte geplaas, waarvan al die binne-houers uitgesteel is, wel wetende dat hulle heelwaarskynlik voor sononder elders verkwansel sou word vir 'n bottel wyn of 'n blikkie bier.

Is dit ons nuwe Suid-Afrika? Is dit waarvoor ons belasting betaal? Is dit waarvoor ons voorsate bygedra het tot die NG Toringkerk?

Hoe verbrokkel ons waardes in die naam van vooruitgang en ontwikkeling!

S Redelinghuys

Anré Koegelenberg (leier-ouderling van Toringkerk) reageer: Ek wil graag die skrywer gelyk gee dat die toestand van ons begraafplaas uiters onbevredigend is.

Na verskeie noodmaatreëls moet ons erken dat die kerk nie gerat is om hierdie sosiaal-maatskaplike probleem te kan oplos nie.

Ons kan vertel van die tuindiens-kontrakteur wat skoonmaak, operasies van opruim en wegry, na-ure patrollies wat "inwoners" verwilder (tot 17 op een aand), die SAPD wat van tyd tot tyd gevra word om te help, maar dit klink alles na leë verskonings - want dit help nie meer nie.

Die begraafplaas met sy hoë mure bly 'n te aanloklike kwaaddoen- en slaapplek.

In die onlangse verlede het ons munisipaliteit en die SAPD kragte saamgespan in 'n operasie "rivier-skoonmaak".

Vir 'n tyd het dit rustig en goed gegaan soos getuig is by die Gemeenskapspolisiëringsforum, maar helaas is ons weer terug na nuwe laagtepunte.

Op 'n positiewe noot wil ek graag ons gemeente verbind tot samewerking in die soeke na 'n goeie oplossing vir goeie bestuur van ons rivieroewer en openbare grond.

Om skoon, veilige en waardige begraafplase te kan hê, 'n arboretum wat selfs vir enkellopendes veilig is om te besoek, 'n rivieroewer met voetpaadjies waar inwoners en toeriste kan wandel vir ontspanning sonder vrees vir op wie of wat hulle gaan trap - kan mos nie net ydele drome wees nie! Wie wil help?


We lost a hero

[ Top ]


THE nation of South Africa has lost a hero. Rest in peace, Comrade Steve Tshwete.

We hope that the Lord is going to provide us with another leader like you, in the future.

Lizzie Phike (ANC MPL)


Please catch this motorcyclist

[ Top ]


I READ the article on the speed trap camera installed between Wellington and Paarl and the nice additional income for the Municipality, with much interest.

Now, would it not be a marvellous idea to install a few reflector cameras on Main Road in Paarl?

This road is used as a race track by - and listen carefully - not black taxis and the loony CY's, but the local idiots in their "status symbols" and of course the ignorants from the platteland.

And maybe the cops will finally catch the biggest lunatic in this area, who prefers to take his motorbike out on a Friday and/or Saturday and chase up and down the Main Road at two or three o' clock in the morning.

Of course no traffic cops will be around at that hour.

These chaps also need some sleep, although one gets the impression that they are asleep anyway most of the time.

Some people really have no regard and definitely no respect for their fellow human beings.

Like some of these youngsters in Berg Street, who take great pleasure in driving their motorbikes up and down, up and down at any time during the day, where some people would like to have a nap or enjoy a quiet dinner outside.

It is obvious these spoiled brats have very little grey matter and nothing better to do than annoy other people.

Of course it should be the task of the parents to teach them some manners, but what if they themselves have none?

If even the father of one of them defends the lunatic behaviour of his son in a rather crude manner, well then I think it is a matter of "like father, like son"!

Annoyed resident


Verkeershulp vertoon goed

[ Top ]


DIT is 'n lekkerte om te sien hoe die verkeer in Oosboschstraat in Paarl deur vrywillige persone (neem ek aan) gereguleer en beheer word.

Hulle is staatmakers en 'n fees om te aanskou.

Hul handseine en armbewegings (veral die dame by Westhovenstraat se aansluiting) is pragtig.

Ek voel trots op julle en is baie dankbaar dat ek soggens (op pad werk toe) op julle kan staatmaak en nog 'n "vertoning" kan sien.

Dankbare motoris


Redaksioneel:

Dit raak ons almal

[ Top ]


DIE hele gesig van ons gemeenskap is besig om drasties te verander as gevolg van die aanslag van MIV/Vigs.

Die nuutste syfers dui daarop dat meer as 'n kwart van die 2,4 miljoen slagoffers in Suid-Afrika, jongmense is.

Om dit nog meer skokkend te maak, word daar bereken dat daar elke dag nog 1700 mense met die gevreesde virus besmet word.

Hoewel die Wes-Kaap se syfers aansienlik laer is as die res van die land, staan dit nog steeds op 'n ontstellende een persoon uit elke tien.

Dit vat nie veel verbeelding om te besef dat ons almal se lewens hierdeur geraak gaan word nie. Indien jy of 'n geliefde nie self 'n slagoffer is nie, sal die rimpeleffek op die ekonomie en die sosiale omgewing nogtans 'n invloed op jou alledaagse bestaan hê.

Die nood is hoog en die tyd ryp om te gaan kyk na die oorsake van MIV/Vigs en om alles in ons vermoë te doen om onsself en ons gemeenskap te beveilig teen dié pandemie.

Intussen is dit goed om te weet dat owerhede soos die Boland Distriksmunisipaliteit hul volle gewig agter die bestrydingsveldtog ingegooi het.

'n Mens kan net jou hoed lig vir die Boland distriksburgemeester se versekering dat geen inwoners van die Boland weggestuur sal word sonder behandeling nie, ongeag hulle MIV-status.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za