|
MET die nuwe belastingstrukture van Drakenstein Munisipaliteit soos tans van toepassing kry ons die volgende scenario:
Indien 'n wooneenheid (huis en erf) vir R50 000 of minder gewaardeer is, word geen eiendomsbelasting daarop betaal nie. Teen hierdie reël word geen beswaar gemaak nie.
Indien dieselfde eiendom verbeter word en dit word vir R51 000 gewaardeer, is belasting op die volle R51 000 betaalbaar, dit wil sê R542,13 per jaar (R51 000 x 0.01063).
Waarom volg Drakenstein Munisipaliteit nie die voorbeeld van die Kaapse Metropool, naamlik om R50 000 van die waardasie van alle woonhuise af te trek vir die berekening van eiendomsbelasting nie?
Dit is baie duidelik dat met 'n belastingstruktuur soos dié deur ons plaaslike munisipaliteit toegepas, daar geen aanmoediging is vir diegene met huise wat vir R50 000 of minder gewaardeer is, om hulle eiendomme of omgewing op te gradeer nie.
In die Kaapse Metropool beloop die belasting op 'n huis van R60 000 nou R107,83 per jaar (R60 000 - R50 000, dit is R10 000 x 0.010783). In Drakenstein Munisipaliteit is dit R637,80 (R60 000 x 0.01063), dit wil sê R493,9% hoër.
Is dit hoe ons munisipale raadslede wat so graag hoog opgee oor hoe agtergeblewe gebiede opgegradeer moet word, die eienaars van eiendomme aanmoedig om dit self op 'n bekostigbare wyse te doen?
Tot my verbasing en teleurstelling het ek vasgestel dat die raadslede die huidige beleidsbeginsel aanvaar het in weerwil van die aanbeveling van die verantwoordelike amptenare dat die Kaapstadse voorbeeld gevolg word!
Regstelling van hierdie uiters onbillike belastingstruktuur kan nie wag tot die volgende belastingjaar nie!
Ontnugterde Belastingbetaler
Die munisipale bestuurder, Jacques Carstens, reageer: Daar is na verskeie belastingopsies gekyk, maar die Raad het hierdie een verkies, omdat die verlies aan inkomste uit eiendomme wat minder as R50 000 gewaardeer is, opgemaak sou word uit die deernishulpskenking van die sentrale regering.
Die idee van die deernishulp is om die armste van armes te help.
Nog 'n rede is dat die kwytskelding van die belasting op die eerste R50 000 waarde van alle eiendomme die eiensdomsbelastingkoers met meer as 9,5% sou opgestoot het.
Die tariefstyging op groot huise sou dan ongeveer 22% gewees het. Dit is juis dié belastingbetalers wat twee jaar gelede groot verhogings in eiendomsbelasting gehad het na die algemene waardasie van eiendomme. |