|
keer nie so erg is nie," vertel Jean dié week, terwyl sy regterarm leweloos langs sy sy afhang.
"Ek moet die 'sling' die heeltyd dra, maar dit raak ongemaklik," sê Jean terwyl hy met sy linkerhand sukkel om weer die arm terug in die hangverband te kry.
Anders as die vlymskerp-senter wat met sy kookwater-breekslae die WP-skare uit die onderste holtes van hul mae laat gil, lyk De Villiers moeg.
"Ek slaap maar min, die arm is ongemaklik en ek is ook nie gewoond daaraan om op my rug te slaap nie.
"Daar is ook 'n hele pak pynpille en slaappille wat ek drink," vertel hy met 'n effense glimlag waar hy voor die televisie uitspan in sy ouerhuis in die Paarl.
Die belowende 22-jarige se skouer word vandag deur dr Joe de Beer geopereer.
"Ek weet nie hoe lank die operasie gaan wees nie, maar ek weet dit is baie seer.
"Ek het gevra of die pyn wat ek nou ervaar dieselfde gaan wees as ná die operasie. Hulle sê dit sal nog seerder wees."
Hoe groot die skade presies is, weet hy self nie.
"As dit nou 'n knie was, kon ek presies vir jou verduidelik," skerts Jean wat al die ligamente in beide sy knieë geskeur het.
"Maar skouers ken ek glad nie. So ek verwag die ergste."
Sy verblyf by die Springbokke was net vir drie dae, tog is hy nie spyt nie.
"Die gevoel in die kamp is positief, die ouens glo hulle kan dit doen en hulle vra net die ondersteuning van die hele Suid-Afrika," beskryf Jean die Bok-opset.
"Op die ou end het dinge nie vir my uitgewerk nie, maar om deel te kon wees van die opset - al was dit net vir drie dae - was steeds 'n groot geleentheid. Ek voel ek het iets bereik."
Hy is veral spyt oor die feit dat hy nou juis in puik vorm is.
"Dis wat dit hartseer maak. Ek het goeie rugby gespeel vir die WP en geen beserings daar gehad nie, maar toe ek die groen en goud aantrek...
"Dit is altyd goed om in vorm na die Wêreldbeker te gaan - ongelukkig het ek dit nie so ver gemaak nie," sê hy ietwat afgehaal.
"Maar jy moet maar positief deur die ding gaan. Dit is weer 'n lang pad om te stap, maar baie mense was al daar deur en ek glo ek sal ook daardeur kom.
"Op die oomblik fokus ek op die operasie, waarna ons finaal sal weet wat aangaan en hoe lank ek buite aksie sal wees." |