safetop
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost

 

ppostgothic
uitlefstreep

Thursday 2 December 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 9 December 2004.

Aida

Sport


VOEL-VOEL. Andrew Puttick, paaltjie wagter van die Nashua WP-Bo land krieketspan, wag vir die bal nadat die Mercedes Warriors se Dusima Makalima (59) na 'n aflewering druk. Die Wes- Kaapse krieketspan het Vrydag vir die eerste keer op Boland Park gespeel, maar die tuisskare teleurgestel toe hulle met 48 lopies teen die Oos-Kapenaars verloor het.                           


Paarl onoorwonne ná Tiere pak kry

[ Top ]


DIE Novel Paarl-krieketspan het Saterdag op die Parysvelde sy onoorwonne status in die Bolandse Premierliga behou toe hy Young Peoples tydens hul jaarlikse derbykragmeting met vier paaltjies geklop het.

Die tuisspan se Denver van Reenen (4/35) was Young Peoples se doodsteek en het met die nuwe bal in sy skof van 15 ononderbroke boulbeurte die hart uit die besoekers se kolforde geruk.

Ná 'n afwesigheid van twee seisoene is Van Reenen vinnig besig om sy beste vorm te herwin, wat onheil voorspel vir teenstanders in Paarl se oorblywende ses wedstryde.

Peoples het ineengestort en was op 91/9 reeds teen die planke, maar danksy 'n laaste paaltjievennootskap van 44 lopies deur Deon Smith en Henley Julies, kon hulle aan die tuisspan die teiken van 136 in 60 boulbeurte stel.

Die feit dat Julies (27 nie uit nie) as nommer 11 kolwer die hoogste telling moes kry, is 'n aanduiding van Peoples se treurmare met die kolf in hul 57 boulbeurte voor die penne.

Die tuisspan het so vinnig afgeskop dat die punt-veldwerker reeds teen die derde boulbeurt op die grens stelling ingeneem het.

Dave Callaghan (23) is egter onnodiglik uitgehardloop, en Wesley Euley het kort daarna gevolg. Die besoekers se lyftaal het gewys dat hulle weer hoop het, maar hulle lelik misgis met die diepte van die ligavoorlopers se kolflys

Hoewel die 18-jarige Lee-Roy Walters (13) 45 balle trotseer het, het hy onder moeilike omstandighede met groot volwassenheid gekolf teen die ervare Jacques Krynauw, wat baie hulp van die blad gekry het.

Ná kaptein Lynal Jansen se sierlike ses vanaf Krynauw se boulwerk, is hy been voor paaltjie betrap.

Walters het egter hierna vir kalmte gesorg aan die een kant, terwyl Euley en Hilton Solomons met sesse teen Brendon Adams die telbord aan die rol gehou het.

Utallyn Ernstzen se reuse ses teen Winston Fortuin het die wedstryd beklink.

Paarl II het op Daljosafat gesorg dat hul klub kan spog met die Grand Slam, toe hulle in 'n rillerstryd teen Young Peoples II met nege lopies gewen het.

Toe Graham Adams (25) uit is op 80/5, was Paarl kniediep in die moeilikheid, maar verantwoordelike kolfwerk deur Lindsay van der Berg (32), Kurt Martin (51) en Alfredo Adams (31) het gesorg dat hulle 'n teiken van 160 kon stel.

Martin het 87 balle trotseer en beïndruk met sewe netjiese grenshoue, terwyl Alfredo Adams se twee sesse teen Javier Alexander die beurt 'n hupstoot gegee het.

Gercian Gabriels (3/20) en Edwin Jacobs (4/23) het moedig met die bal probeer.

Die tuisspan was op 137/7 goed op dreef, danksy Jacobs (36), Alexander (30) en Wade Anderson (29). Anderson het egter 91 balle trotseer, en kon nie oorheers teen die gekombineerde draaiboulwerk van Rohan Goetham (2/13), Richard Cunningham (4/37) en Alfredo Adams (3/40) nie.

Selfs op 148/8 was die tuisspan nog hoopvol, maar Cunningham het met goeie afwisseling ontslae geraak van Frans-Loots van der Merwe en David Gabriels, om die tuisspan uit te knikker vir slegs 150.

Paarl III het op Bergsig maklik met 45 lopies teen Van der Stel gewen, nadat hulle 269/5 opgestapel het in hul toegelate 50 boulbeurte.

William-Anthony Petersen se 75 (4x12) was die hoogtepunt, met goeie ondersteuning van Llewellyn van der Lingen (57 4x10, 6x2) en Paul Campbell (39 4x3, 6x3).

Die tuisspan is in die 46ste boulbeurt uitgehaal vir 224, ná goeie boulwerk deur Bjorn Hollenbach (3/40) en Neville Adams (2/32)

Saterdag speel Paarl I (tuis) en II (weg) teen Malmesbury terwyl die derde span op die Parysveld teen Paarl-Oos te staan kom.


Krieketvroue deur na kwarteindstryd

[ Top ]


DIE Boland Vroue-krieketspan het Saterdag hul plek in die kwarteindronde van die nasionale kompetisie verseker deur 'n oortuigende ses paaltjie oorwinning oor Westelike Provinsie te behaal.

Die vorige kragmeting tussen die twee spanne het tot 'n naelbyt-sege vir die Bolanders gelei, en 'n soortgelyke wedstryd is Saterdag verwag.

WP het die loot gewen en besluit om eerste te kolf.  Hulle kon slegs 173/6 op die telbord sit, met Lauren Penny (68*) wat die beurt goed geanker het.

Alecia Smith het deurentyd druk op die kolwers geplaas en is beloon met syfers van 2/22. Sy is goed bygestaan deur Sunette Loubser (1/18), Suné van Zyl (1/28) en Josie Barnard (1/24).

Boland se kolfbeurt het stadig begin met net 28 lopies op die telbord toe die tweede paaltjie val.

Barnard (32) en Van Zyl (46) se derde paaltjievennootskap van 66 het egter die Boland weer op koers gesit.

Die 74 lopies wat Alecia Smith (39*) en Madeleine Lötter (30*) om die vyfde paaltjie aangeteken het, het verseker dat Boland die teiken in die 36ste beurt behaal.

Die kwarteindstryd word op 20 Februarie gespeel en die Boland se teenstanders is nog onbekend.


Super Schalk swem in toekennings

[ Top ]


DIE Wellingtonner en Springbok-speler, Schalk Burger, se harde, in- klim-rugby is die afgelope week beloon toe hy as die Internasionale Rugby- raad (IRB) se Speler van die Jaar vir 2004 aangewys is.

Burger het vier ander kandidate om dié toekenning geklop: sy Springbok-spanmaat, Marius Joubert, asook die Franse flank Serge Betsen, die Ierse senter Gordon D'Arcy en Wallabie-senter Matt Giteau.

Dié toekenning wat Sondagaand in Londen tydens die IRB se jaarlikse toekenningsaand oorhandig is, is die derde internasionale eerbewys wat Burger die afgelope twee weke ontvang het.

Die blonde vuurvreter-flank is ook as die Internasionale Spelersvereniging se Speler van die Jaar en Nuweling van die Jaar aangewys. Dit is die eerste keer dat 'n speler albei die toekennings ontvang.

Burger speel Saterdag vir die Barbarians teen die All Blacks op Twickenham.


Gimmie lei Boland se o.19 krieketspan

[ Top ]


DIE draaibalbouler van Paarl Gim, Marnus Hugo, sal die Boland o.19A Coke span aanvoer wanneer hulle eersdaags in Pretoria in die interprovinsiale toernooi speel.

Dit is vanjaar die derde jaar dat Hugo in die Boland se o.19A-span opgeneem is. Hy het in 2001 ook sy provinsie in die PG Bison o.15-span verteenwoordig waar hy ook as kaptein diens gedoen het.

Ander plaaslike spelers wat ook in die Boland o.19A span ingesluit is, is Dawid Malan, Lee-Roy Walters, John Uys (aldrie van Boishaai), Godfrey Stevens, Hillroy Paulse (albei van New Orleans Sekondêr), Randall April (Bergrivier Sekondêr), Gysbert van Zyl (Paarl Gim) en Garth Fortuin (Charleston Hill).

Plaaslike spelers in die ander spanne is (o.19B) Nico de Vries (Paarl Gim), Lorenzo Jacobs (Klein Nederburg), Nico Human (Boishaai), Anele Nanase (Desmond Tutu). (o.19 Platteland) Stefan Elsbury (Paarl Gim), Lee-Trevino Hoffman (Bergrivier), Jody Carolissen (Boishaai). (o.17) Tennyson Botes, Damian Fuller (albei Boishaai), Dewald Duvenage, Pieter du Plessis, Lee-Irvine Alexander (aldrie Paarl Gim), Stiaan van Zyl (Boland Landbou), Jonwyn Pietersen (Bergrivier), Burton Francis (Klein Nederburg). (o.15 Platteland) George Hlazo, Hein Adonis (albei Paarl Gim), Dane Schoor (New Orleans), Lucian Arries (Charelston Hill), William Clift, Franco Marais (albei Boishaai). (o.15 PG Bison) Robyn Andrews, Tiaan Cloete (albei New Orleans), Rossouw de Klerk (Paarl Gim), Juan Mong, Carl Nyman (albei Boland Landbou), Shaun Solomons (Charleston Hill), Charl Malan (Boishaai).


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@paarlpost.co.za  

[ Top ]