|
LANDBOU vorm die ruggraat van die ekonomie van die Wes-Kaap en daarom is dit dan ook so dat die suksesvolle transformasie binne
landbou van kardinale belang is vir stabiliteit en groei van die ekonomie van die Wes-Kaap.
Só het Cobus Dowry, Wes-Kaapse Minister van Landbou, gesê by die seminaar van die Business Opportunities Network in die Paarl oor
bemagtiging in landbou.
"Die landbousektor is van uiterste belang vir die ekonomiese groei en welvaart vir al ons mense, maar daar is nog ongelooflik baie wat
gedoen moet word om landbou tot sy volle potensiaal te ontwikkel tot 'n bedryf waarin alle rolspelers hulle regmatige plek moet inneem.
"Die geboorte van die nuwe Suid-Afrika tien jaar gelede het ook vir landbou 'n nuwe uitdaging gebring.
"Dieselfde sektor wat vir jare deur 'n relatief klein groepie suksesvolle kommersiële boere oorheers is, het nou van hierdie boere
gevra om betrokke te raak by vestiging, ondersteuning en bemagtiging van nuwe opkomende boere uit voorheen benadeelde gemeenskappe.
"Hierdie proses is reeds goed op dreef in die Wes-Kaap en dit word elke dag met groter toewyding aangepak.
"Grondhervorming geniet die hoogste prioriteit in 'n poging om die ongelykhede van die verlede aan te spreek.
"Dit is egter belangrik dat ons 'n nuwe generasie boere vestig wat toegerus sal word om volhoubaar te boer in 'n poging om nog meer
werksgeleenthede te skep en sodoende 'n positiewe bydrae te lewer tot die bestryding van armoede.
"Die Departement van Landbou in die Wes-Kaap het ook sekere aanpassings gemaak om suksesvol hierdie uitdagings te deel.
"Die program Ondersteuning en Ontwikkeling van landbouers is binne die Departement geskep om spesifiek tot in die kleinste detail te
deel met die vestiging van nuwe boere.
"Ons is in die proses om 63 nuwe aanstellings voor April te maak in 'n poging om van meet af aan soveel moontlik kundigheid en
ondersteuning aan opkomende boere te voorsien. Dit beteken dat die volledige pakket wat deur boere benodig word om volhoubaar gevestig te word, binne een program ressorteer.
"Ons het die afgelope jaar geweldig vordering gemaak ten opsigte van die uitbreiding van vaardigheidsopleiding aan plaaswerkers en
hulpbronarm boere uit veral die histories benadeelde gemeenskappe.
"Aan die Grondhervormingskant is daar reeds 38 000 hektaar grond goedgekeur vir die oordrag aan opkomende boere
(grondhervormingsbegunstigdes) sedert 1 Januarie 2002 tot Junie 2004 in 55 LRAD projekte. Dit verteenwoordig ongeveer 0,3% van die totale landbougrond in die Provinsie.
"U sal dadelik merk dat daar 'n geweldige diskrepansie is. Dit baat nie om opkomende boere in die Karoo te gaan neersit en te weet dat
hulle nie die mas gaan opkom nie.
"So iets sou die aandrang op die oordrag van grond tevrede stel en moontlik party mense se gewetens sus en ons sal goeie statistieke
kan uithaal en wys - maar ons gaan nie suksesvolle boere hê nie. Daar moet dus goeie en bewerkbare grond beskikbaar gestel word en dit is die haakplek.
"Slegs die Departement van Grondsake het die mandaat om grond aan te koop en vanaf 1 Januarie 2002 is 'n bedrag van R130 555 262
gespandeer in die uitvoering van hierdie mandaat.
"Van die 55 projekte is vier projekte se aankoopprys nie ingereken nie - twee projekte is Landbank-projekte waar die grond gehuur
word, een projek is grond geskenk en een projek is befonds deur aandeelaankope.
"Ons het die stadium bereik waar die pas van grondhervorming hiervandaan geweldig sal moet versnel. Ons het dit dan ook vir ons ten
doel gestel om teen April die oordrag van 'n verdere 5000 hektaar aan nog 500 begunstigdes afgehandel te hê.
"Dit is egter so dat die proses gekortwiek word deur verskeie tekortkominge. Die uitvoerbaarheid word verder aan bande gelê deur
onnodige burokratiese rompslomp en 'n tekort aan fondse om aansoeke te diens."
Dowry sê opkomende boere moet van die staanspoor af uit alle oorde die nodige ondersteuning kry om volhoubaar te boer en daarom moet
alle rolspelers, in die proses van bemagtiging van voorheen benadeelde persone, hulle verantwoordelikheid van die staanspoor af opneem.
"Dit is vir ons belangrik dat daar 'n vennootskap sal wees tussen ons en opkomende boere, waar ons aan hulle die nodige ondersteuning
sal bied op verskeie terreine soos wat ek aangedui het.
"Wat ons in ruil daarvoor vra, is dat begunstigdes die nodige toewyding sal openbaar om getroue rentmeesters te wees van die bydraes
en beleggings wat daar in hulle toekoms gemaak word."
* Business Opportunities Network, Western Cape (BON), het 'n kantoor in Kasteelstraat 6, Paarl.
Die doel van BON is om uitvoering te gee aan 'n mandaat van die Kaapse Wynland Distrikmunisipaliteit om sake-ontwikkeling en
-ondersteuning in hul bedieningsgebied te bevorder. Die mandaat is vir drie jaar.
Belangstellendes kan Chrystal skakel, tel 872-6297.
|