|
GROOT was my teleurstelling toe my volle reaksie op die klagte dat die Dros nie 'n carvery voorgesit het nie, nie
verlede week gepubliseer is nie. Dit moes beslis 'n wanpersepsie wek oor my vermoë om klagte te hanteer.
Dit bly een van die Dros se sterkpunte om sy kliënte so ver moontlik tevrede te stel, soos my getroue
ondersteuners deeglik bewus van is.
Daar was die spesifieke dag 'n misverstand rondom die aanbieding van die carvery aangesien dit die Sondag voor
Kersdag was, dit baie warm was en die carvery die vorige Sondag maar traag ondersteun is.
Daar was daardie dag twee agtsitplekbesprekings waarvan mev Hendricks een was.
Toe ek bewus raak van die probleem, ongeveer 2 nm, het ek dadelik opdrag gegee aan my bestuurder om hulle te
skakel, wat wel gedoen is. Dit is die Maandag weer op ons bestuursvergadering bespreek.
Eers toe die brief via die Paarl Post aan my gestuur is, is besef dat die verkeerde tafel gekontak is.
Mev Hendricks is gekontak en die situasie volledig bespreek. Verskoning is verskeie kere aangebied, wat nie vir
haar aanvaarbaar was nie.
Feit is dat aan die groep 'n volledige voorgereg, enige hoofgereg en nagereg aangebied is, wat omtrent dubbeld die
waarde van 'n carvery is.
Ek versoek die gemeenskap vriendelik om die openbare debatte tot die minimum toe te beperk. Dit is moeilik genoeg
om in die Paarl besigheid te doen en berokken mense onnodig skade.
Kom ons ondersteun mekaar, konsentreer eerder op mekaar se sterkpunte en vat hande om hierdie pragtige pêrel van
ons te laat blink.
U weet die Paarl is 'n dorp met ongelooflike potensiaal wat juis nie ontwikkel nie weens 'n groot gebrek aan
plaaslike ondersteuning.
Lucas van Aswegen (Dros Paarl)
|