|
SPEEL is lekker, maar om in graad een te wees, is 'n ernstige saak vir die kleinspan. Paarl Post het gaan gesels met nuwelinge van
Drakenstein Laer en Mary Help of Christians Primêr om te hoor hoe die eerste paar skoolweke was en wat hulle vir die toekoms beplan.
Vir Peter Nicholson (Mary Help) is dit alles baie eenvoudig: hy is in die skool omdat hy van skoolgaan hou. Ook Michaela Siebrits
en Thimna Lingani (Mary Help) geniet dit om met hul maters te speel.
Inkleur, speel en stories is beslis gunsteling aktiwiteite. Soos Inigo Steyn (Drakenstein) wat nog glad nie seker is wat hy gaan
doen ná skool nie, maar die inkleur geniet.
Vir sy klasmaatjie, Teneale Messina, is teken die lekkerste.
Alexander Bosch (Drakenstein) stem saam, want hy wil eendag 'n kunstenaar word.
Sommige leerders is meer akademies en geniet die somme maak, soos Samantha Fourie (Drakenstein), wat eendag model wil word, nes
Janke Alberts.
Almal is baie lief vir hul juffroue. In Mitch Davids (Mary Help) se woorde, "My teacher, she learn me to read and she learn me to
write".
Thimna Lingani (Mary Help) is só lief vir haar juffrou dat sy ook een wil word.
Die vraag "wat wil jy wees wanneer jy groot is", het 'n paar interessante antwoorde opgelewer. Bjorn van Dyk (Drakenstein) wil 'n
"MediClinic-man" word en Kim-Lee Cornelissen (Mary Help) 'n haarkapper.
Drakenstein se Jacques Alberts wil graag 'n wildbewaarder wees, en Shaun Els 'n veearts omdat hulle dan "met slange kan werk".
Shaun sê hy hou baie van slange en dat sy pa hulle altyd vang.
Nog 'n interessante beroepskeuse is Angie Daniëls (Drakenstein), wat beplan om 'n radio-omroeper te word.
By Mary Help of Christians is daar twee vlieëniers, Amber Goliath en Reece Andrews. Nog een wil sommer 'n "helikopter" wees.
Raold Basson (Drakenstein) is in die skool "om punte te kry" en wil baie graag eendag huise bou.
Baie van die jongspan wil graag die Paarl 'n beter plek help maak. Onder die groep is daar heelparty voornemende brandweermanne,
soos Mary Help of Christians se Kyle Muller, Mitch Davids en Tyrone Manuel ("want hy mag dan altyd vuil wees").
Die polisie kan ook reken op Lubabalo Yawa, Austin-Lee Hendricks en Jamie-Lee Cupido (Mary).
Ook in die noodhulp-lyn, wil Riekert Klopper (Drakenstein) 'n ambulansman word.
Dan is daar 'n paar met meer ambisieuse planne: hulle gaan dokters word. Onder hulle is Jaimie Davids (Mary), asook Simoné Williams
en Raquel Matthews (Drakenstein).
Sport bly ook 'n groot gunsteling. Milton Mackier (Drakenstein) wil eendag rugbyskeidsregter wees en sy klasmaatjie, Kaylin
Benjamin, 'n netbalspeler. Kaylin skryf ook graag.
Duran Williams en Henlo Marais (Drakenstein) is ook baie lief vir sport, veral swem.
Nog 'n buitelug-kind is Antonio Manuel (Drakenstein). Hy hou van swem en buite speel. Hy teken graag en sy beroepskeuse is argitek.
Dit lyk of die volgende geslag Paarliete hoë aspirasies het en ons wens hulle sterkte toe met hul skoolloopbaan!
* Local Grade ones are enjoying their first weeks at school.
|