|
MIN mense sal toustaan om hul lyf voor 'n klipharde bal in te gooi wat teen 140km/u nader gevlieg kom,
maar vir Mariëtte Rix is daar niks beters nie.
Dié 23-jarige oud-Gimmie het in Januarie vanjaar 'n lankgekoesterde droom bewaarheid toe sy as
doelwagter in die Springbok vrouehokkiespan ingesluit is.
"Ek geniet dit om doelwagter te wees. Ek weet nie of dit die adrenalien is nie, maar dit is vir my die
beste ding wat daar is," vertel die aantreklike donkerkop wat by die Maties Sportburo op Stellenbosch werk.
"Ek swot nog deeltyds bedryfsielkunde om deel te bly van Maties. Vir my hokkie-toekoms is dit die
beste klub om lid van te wees, hier in die Wes-Kaap," sê Mariëtte.
Sy voeg by dat sy haar studies vanjaar eers op die agtergrond gaan skuif om op haar hokkie-loopbaan te
fokus.
Mariëtte se eerste kennismaking met hokkie was in standerd vyf.
"Ek was verveeld met netbal. My hoof by Laerskool Klein Drakenstein, mnr Stofberg, het gereël dat ek
die hokkie-oefening by Paarl Gimnasium kon bywoon," vertel sy.
Toe sy dus in standerd ses by Gim instap, was hokkie haar sport van keuse en weens 'n tekort aan
doelwagters is dit dan ook die posisie waar sy begin speel het.
"Hulle het die wedstryde so gereël dat ek doelwagter kon speel vir die o.14A, o.14B en die o.16-span.
Ek moes omtrent van veld tot veld hardloop," vertel sy met 'n glimlag. Sy speel ook in dié jaar die eerste keer vir Boland (o.14).
Van standerd sewe af speel sy vir Gim se eerste span, terwyl sy in die twee daaropvolgende jare
onderskeidelik die Boland o.16 en o.18B spanne haal.
In matriek speel sy vir die Boland o.18A, Boland o.21 en Boland senior binnenshuise span.
Tydens haar eerste twee jaar by Maties speel Mariëtte vir Victoriane en word ook in die
Skiereiland-span ('n WP o.21B-span) opgeneem.
Mariëtte het egter haar groot deurbraak in 2002 gemaak. Sy word gekies om vir Maties I te speel en
maak ook haar debuut vir die WP o.21, SA o.21, en WP senior span.
Sy word dan ook ingesluit in die SA A-span wat na Zimbabwe toer.
"Ek was nou vir die eerste keer in die SA oefengroep. Sedertdien is ek na al die SA seniorspan se
oefengroepe genooi."
Die jong Paarliet speel dan ook vir die SA Universiteite-span teen Skotland.
Verlede jaar was sy 'n nie-reisende reserwe vir die SA hokkiespan wat in Athene aan die Olimpiese
Spele deelgeneem het.
"Nie-reisend beteken jy is in die span, maar jy toer nie saam nie," verduidelik Mariëtte. "My doel was
om een van die top drie doelwagters in die land te wees. Ek het geweet dat as daar 'n gaping kom, gaan ek speel."
Daardie kans het uiteindelik op 16 Januarie aangebreek, toe die Proteas op Potchefstroom in hul eerste
van drie wedstryde teen Engeland te staan gekom het. Dit was 'n geleentheid wat Mariëtte effe onkant betrap het.
"Op die eerste oefenkamp van die jaar was ons net twee doelwagters, aangesien Smurf Engelbrecht in
Duitsland was weens klubverpligtinge."
Gevolglik is sy in die span ingesluit.
"Tydens die spanpraatjie het ek gedink ek sal op die reserwebank begin, maar 'n uur voor die wedstryd
moes ek hoor dat ek in die beginspan is.
"Hokkie is vir my grootliks 'n mental spel. Ek is iemand wat baie dink, fokus en visualiseer voor 'n wedstryd. Toe ek dus hoor ek speel dadelik, was my voorbereiding ietwat uitgegooi.
"Maar miskien was dit beter so, ek het nie tyd gehad om te veel daaroor te dink en te stres nie.
"Ek het dit nog altyd vreemd gevind as atlete so emosioneel raak wanneer die volkslied gespeel word,
maar toe ek self daar staan, moes ek baie hard keer dat dit nie ook met my gebeur nie. Dit was 'n ongelooflike ervaring," beskryf sy dié besonderse dag.
Mariëtte het vroeër die maand reeds haar verskyning vir die Proteas teen Engeland gemaak. Dié twee
wedstryde was, weens politiek, as nie-amptelik beskou en volglik moes dié doelwagter weer eens wag totdat sy teen Skotland haar amptelike 'cap' kon kry.
"Hokkie is vir my 'n patience game. Ek is 'n baie, baie geduldige persoon en ek dink die geduld en harde werk van die afgelope jare het nou vrugte afgewerp."
Mariëtte is 'n self-erkende perfeksionis as dit kom by hokkie en is self haar grootste kritikus. Dit
is dus geen wonder dat sy reeds verdere doelwitte vir haarself gestel het nie.
"My langtermyn-plan is om vir die SA hokkiespan te speel in die 2008 Olimpiese Spele. Vanjaar is daar
vyf oefenkampe en 'n toer na Argentinië en ek glo my kanse is bogemiddeld goed om daarvoor gekies te word."
Volgens Mariëtte het haar Gim-afrigter, Elsabé Conradie en haar huidige Matie-afrigter (en ook
nasionale afrigter) Jenny King 'n groot rol gespeel in haar sukses.
"Daarby is die raad en advies van die ander twee doelwagters in die SA span, Smurf en Caroline Birt,
ook van onskatbare waarde. "Hulle help my baie, veral met motivering. Omdat ek so hard is op myself, moedig hulle my dikwels aan."
Hoewel sy in die begin half uit nood uit, moes doelwagter speel, is dit vandag die enigste posisie op
die hokkieveld wat vir Mariëtte saak maak.
"Ek geniet dit om doelwagter te speel. Ek glo dit is iets wat jy moet wil doen. "As jy daar staan en
mense slaan 'n bal teen 140km/u na jou en jy geniet dit nie, is jy mal.
"As jy iets geniet, sal jy dit ook goed doen."
|