|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
SOOS verlede jaar die geval was, sal die eerste span van die Paarl Krieketklub Saterdag op Daljosafat alles moet uithaal om te verhoed dat hulle na die Premierliga gerelegeer word. Paarl het laaste op die punteleer van die Superliga geëindig. Op die keersy van die munt is Bergrivier wat die seisoen bo-aan die Premierliga voltooi het. Maties II het eintlik eerste geëindig, maar omdat hulle volgens ooreenkoms nie gerelegeer of bevorder kan word nie, omdat daar reeds twee Matie-spanne (Maties I en Victoriane) in die Superliga deelneem, kry Bergrivier 'n kans om na die top liga op te skuif. Die twee speel om 10:00 op Daljosafat teen mekaar, met Earl Hendrickse en Irwin van Kerwel wat die skeidsregters is. Maties I het vanjaar die Superliga gewen, gevolg deur Hermanus, Victoriane en Wellington. Op die Parysvelde sal Oostelikes I teen Malmesbury te staan kom in hul promosie-relegasiewedstryd. Skeidsregters Joerg Neethling en Trevor Davy sal hier diens doen. Op Worcester ding Citrusdal (onderaan die Premierliga) en Swellendam (top in eersteliga) mee vir plek in die Premierliga. Marais Erasmus en Cuan Snell sal daar die witjasse dra. Volgens Lize de Bruin van Boland Krieket sal die wedstryde Sondag gespeel word, indien dit die vorige dag uitreën. Maar met 'n verwagte sonnige 37 grade Celsius in die Paarl behoort dit nie die geval te wees nie. Sou daar wel Sondag gespeel word en reën onderbreek weer spel, sal die klubkomitee volgens meriete 'n wenner aanwys. Al eindig die wedstryde ook onbeslis, sal 'n positiewe gelykop-uitslag goed genoeg wees vir bevordering. As 'n wedstryd gestop moet word weens swak lig, het De Bruin gesê, sal Boland die inisiatief neem met die aanwys van 'n wenner. Dit sal interessant wees as Oostelikes I gerelegeer word, aangesien sowel die eerste as die tweede span dan in die Premierliga sal meeding. * Young Peoples Krieketklub het hulle krieketseisoen op 'n hoogtepunt geëindig met 'n groot oorwinning oor Oostelikes die naweek op Daljosafat. Die besoekers word vir 'n skamele 46 uitgeboul, met Mark Borchards (4/22) en die 16-jarige Lester Opperman (6/14) wat die kolwers kasty. Peoples behaal die wenlopies sonder moeite vir 'n oorwinning van sewe paaltjies. |
|
|
|
|
DIE manne van Wellington Rugbyklub het hul voorneme vir die komende seisoen duidelik gemaak toe hulle op hul tuisveld vir Worcester Villagers met 36-17 in die eerste reeks Boland Superliga A wedstryde geklop het. Die tuisspan het van die begin af die oorhand gehad, en was teen rustyd reeds 36-5 voor. In die tweede helfte het die Villagers egter die spel begin rek, met al sewe hul reserwes wat ook hul verskyning op die veld gemaak het. Hoewel die besoekers 12 punte aangeteken het in die tweede helfte, kon dit meer gewees het, was dit nie vir Wellington se goeie verdediging nie. Onder die hoofoorsake dat die tuisspan nie sy voorsprong verder kon vergroot nie, was 'n gebrek om hul stempel in die tweede helfte op die spel af te druk, vyftig-vyftig aangeë en 'n mate van onervarenheid van dié jong span. Wellington speel Saterdag op Ceres teen die nuwelinge in die Superliga A, Delicious. Dié span sal hoogs gemotiveerd wees ná hul verrassende 35-25 sege oor die 2002 klubkampioene, Ceres, verlede Saterdag. |
|
|
|
|
'n TITANIESE stryd word Saterdag op Pniel verwag wanneer Pniel Villagers en Tygerberg kragte meet in hul WP Superliga A-wedstryd. Dit is Pniel Villagers, nuwelinge in die liga, se eerste tuiswedstryd vir die jaar teen 'n gedugte Tygerberg-span wat homself as een van die WP se top-spanne onderskei het. Keith Cyster, voorsitter van Villagers, glo egter albei spanne het 'n gelyke kans om met die louere weg te stap, ondanks Villagers se eerste nederlaag van 22-13 teen die Ikeys verlede Saterdag. Vir Villagers is die wedstryd teen Tygerberg van groot historiese belang. "Ons albei het 'n lang geskiedenis van rugby binne die strukture van die voormalige Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) wat die beginsel van nie-rassige sport verkondig het. Nou ding ons vir die eerste keer in die nuwe bedeling mee as gelykes binne die WP se top kompetisie. "Die wedstryd sal 'n goeie tentoonstelling wees van hoe rugby in ons gemeenskappe gespeel word," het Cyster gesê. Tygerberg is een van die klubs met die meeste toeskouers en alles dui daarop dat die wedstryd groot openbare belangstelling sal genereer op Pniel en naburige dorpe in die Drakensteinvallei. "Die wedstryd teen Tygerberg is een waarvoor ons baie lank en baie deeglik voorberei het." Wedstryde begin om 13:30. Toegang is R7 (R3 vir studente). |
|
|
|
|
DIE driehoekige derde ronde van die Brodie-liga putjiespelkompetisie van die Boland Gholf-unie wat Saterdag op Langebaan gespeel is, is gekenmerk deur besonderse spel deur die Paarl span. Die onoorwonne Vredenburg/Saldanha-span het 6-2 teen die Paarliete geswig, terwyl die Brodie-kampioene van 2000 en 2001, Devonvale, 7 1/2-1/2 verneder is. Cassie Viljoen (no 1) en Renso Nel (no 2) het geskitter deur 72 en 73 bruto onderskeidelik aan te teken. Cassie het vir Bartlett Barnard met 8-7 van die baan gevee en vir Peter Kenmuir met 2-0 geklop. Nel het vir Bokkie van Dyk en Ruben Nienaber met 5-3 elk verslaan. Die nuweling Kurt Muller het uitstekend vertoon deur albei sy wedstryde te wen. Paarl en Weermag lê nou gesamentlik bo-aan die punteleer, met nog ses wedstryde oor. Paarl t Devonvale: Clive Fredericks k Brendon Barnes 3-2, Mike Lochner k Wayne Kruger 4-3, Kurt Müller k Jaco van Niekerk 3-1, Eric Troost k Darryll Caldwell 6-4, Johan Neethling k Charl du Plessis 5-4, Herman Fredericks g Eugene Kruger 0-0, Renso Nel k Ruben Nienaber 5-3, Cassie Viljoen k Peter Kenmuir 2-0. Paarl wen 71/2-1/2. Paarl t Vredenburg/Saldanha: Clive Fredericks k Basil Sutton 3-2, Mike Lochner g Steve Borstlap 0-0, Kurt Müller k Joop Luus 3-2, Eric Troost k Hendrid Rudman 1-0, Johan Neethling g Arrie van Wyk 0-0, Herman Fredericks v Hannes Sterkste 0-2, Renso Nel k Bokkie van Dyk 5-3, Cassie Viljoen k Bartlett Barnard 8-7. Paarl wen 6-2. |
|
|
|
|
DIE wenners by die Boland Fietsrykampioenskappe wat Saterdag op die Faurestraat Stadion gehou word, sal vanjaar volgens 'n nuwe formaat aangewys word. Waar daar voorheen 'n goud, silwer- en bronsmedaljes aan die wenners van elke item oorhandig is, sal daar Saterdag 'n veelsydige wenner aangewys word in elke ouderdomsgroep. "Wenners in die onderskeie items sal punte kry, wat aan die einde opgetel word om die uiteindelike wenner te bepaal. "Ons het die nuwe formaat met al die klubs bespreek en almal is ten gunste daarvan," het Henry van der Merwe van die Boland Fietsry Unie gesê. Die aksie begin om 11:00 en toegang is R5 (R3 vir skoliere). * Die nuwe bestuur van die Boland Fietsry Unie is Elrick Kulsen (voorsitter), Cornelia Opperman (ondervoorsitter), Howard Heneke (tesourier/sekretaris), Eddie Kulsen (baankomitee en tegniese komitee), Coenrad Lesch (padkomitee) en Henry van der Merwe (ontwikkeling). |
|
|
|
|
DAAR is 'n groot hoeveelheid gholftalent in die Boland en danksy die nuwe kantore van die SA Gholfontwikkelingsraad (Sagor) in die Paarl sal die ontginningsproses nog meer vlot verloop. Sagor se kantore is op die eerste vloer van die Schneider-gebou geleë, met André Rossouw (koördineerder) en Isaac Mahoney (afrigter) wat aan die beheer staan van sake. "Voorheen moes ons vanuit Somerset-Wes werk, waar die hoofkantoor van Sagor is. Maar met die kantore in die Paarl is ons nou meer sentraal in die Boland geleë en is dit makliker om ontwikkeling in dorpe soos Malmesbury en Worcester te doen," het Mahoney verduidelik. Ter illustrasie van die werk wat Sagor in die Boland verrig, het 'n groep van 28 o.14 en o.18 spelers Maandag aan 'n kompetisie op die Paarl Gholfbaan deelgeneem. "Die talentvolle spelers is almal geïdentifiseer tydens oefensessies by hul skole en is in 'n groep van potensiële spelers opgeneem. "Die vlakke van ontwikkeling strek van beginners, leerders, potensiële spelers en uiteindelik tot 'n elite-korps van spelers aan wie ons spesialis-afrigting gee," verduidelik Mahoney. Spelers van Paarl, Wellington, Somerset-Wes, Stellenbosch en Blue Downs het in die Paarl aan 'n enkelhouespel oor nege putjies deelgeneem. "Dit is die eerste keer dat hulle op 'n gholfbaan speel, en ondanks die moeilikheidsgraad van die baan het van hulle baie goed gedoen," het Mahoney gesê. Nog twee soortgelyke kompetisies sal eersdaags in Somerset-Wes en Wellington gespeel word, waarna 'n elite-groep gekies sal word. Skole wat Isaac Mahoney wil nader, kan hom skakel by 082-995-3300. |
|
||||