|
INDIEN die Suid-Afrikaanse wynbedryf 'n ernstige speler in die internasionale wynmark wil word, het die plaaslike bedryf geen ander keuse nie as om wyntoerisme as 'n vername komponent vir toekomstige sukses in die wêreldwye markplek te aanvaar.
Volgens mnr Pietman Retief, lid van die Suid-Afrikaanse Wyn- en Brandewynmaatskappy se uitvoerende komitee wat pas teruggekeer het van die wêreld se eerste Internasionale Wyntoerismekongres in Australië, is daar 'n sterk ooreenkoms tussen wynlande se sukses in wynmarkte en hul sukses op die gebied van wyntoerisme.
"Ongeveer 24% van alle toeriste na Australië kom byvoorbeeld uit Brittanje, en dié persentasie is omtrent gelyk aan die Australiese wynmark se aandeel van die Britse wynmark," sê Retief.
"Almal praat ook oor hoe dinamies die Australiese wynmark die afgelope paar jaar gegroei het en die land se mededingers wil weet hoe hulle dit doen.
"Maar as jy kyk na die syfer wat toon dat wyntoerisme na Australië oor die afgelope drie jaar met 19% gegroei het, dan is dit ooglopend dat wyntoerisme een van die sleutelfaktore van internasionale wynbemarking uitmaak."
Retief, wat ook direkteur van die SA Brandewynstigting is, het die Internasionale Wyntoerismekongres bygewoon namens die Suid-Afrikaanse Wyn- en Brandewynmaatskappy, wat wyntoerisme geoormerk het as een van die komponente waarmee die plaaslike wynbedryf uitgebou kan word.
Volgens Retief eindig die internasionale sukses van wyntoerisme ook by verre nie by die Australiërs nie.
"Amerika se Napavallei-wynstreek, wat in Kalifornië geleë is, is tans die derde gewildste toeriste-bestemming in Noord-Amerika. Dit is grootliks as gevolg van die groeiende besef van die waarde wat opgesluit lê in die bemarking van 'n wynstreek om buigsaam te wees en in die behoeftes van die besoeker te voldoen," sê hy. "Gits, selfs die kultureel-sensitiewe wyntoerisme-bemarkers in Toskane, Italië, het dit begin besef - deesdae is padtekens daar in Engels aangebring om dit makliker vir die wyntoeris te maak om in die wyngebiede rond te ry."
Retief sê die sukses van veral die Australiese wyntoerismebedryf, wat tans sowat R25 miljard na daardie land se ekonomie laat invloei, toegeskryf kan word aan energieke bemarking en inisiatiewe wat sorg dat die toeris die wynlandervaring vir niks in die wêreld wil misloop nie.
"Neem byvoorbeeld die Leeuwin-landgoed in Wes-Australië se Margaretrivier-wynstreek. Dié landgoed lê behoorlik in die boendoe, ongeveer drie ure se ry van die naaste lughawe. Tog kry hy dit reg om 200 000 besoekers per jaar te lok. Dít terwyl die totale permanente bevolking van die Margaretrivierstreek maar net 10 000 is."
Hy sê dat die sukses in die Australiese wyntoerismebedryf aan 'n paar faktore toegeskryf kan word.
"Die ervaring wat die wyntoeris by die kelderdeur gebied word, is seker een van die belangrikste redes," sê Retief.
"Die kelder se aangesig van buite, sy voorkoms en atmosfeer, die doeltreffendheid van die personeel en die kundigheid en geesdrif van die toergidse - jy kan sien dat daar 'n oorkoepelende strategie in plek is om te sorg dat wynkelders ware toeriste-attraksies is.
"As mens na hulle diensvlakke kyk, is dit ook geen verrassing nie dat toeriste alleen ongeveer vier miljoen bottels wyn ter waarde van R325 miljoen by die kelders self koop nie."
Volgens Retief is reispakkette ook van belang.
"Buigsame pakkette word aangebied wat wyntoerisme insluit, maar ook ander interessante ervarings bemark - soos kultuur, kuns en die natuur. Laasgenoemde is veral belangrik, aangesien opnames wat vir die Internasionale Wyntoerisme Kongres gedoen is, toon dat 25% van alle wyntoeriste die natuurskoon en die omgewing as die belangrikste komponent van hul besoek beskou."
Retief sê dat alhoewel daar oor die afgelope tyd vordering gemaak is, staan die Suid-Afrikaanse wyntoerismebedryf steeds in sy kinderskoene.
"Die Suid-Afrikaanse wynlande is al vir meer as 30 jaar besig met wyntoerisme, maar dit is grootliks op 'n ongekoördineerde wyse toegepas," sê hy.
"Daar is tekens van verbetering, veral in gebiede soos Stellenbosch en Robertson. En dit is verblydend dat wyntoerisme belangrik genoeg geag is om ingesluit te word in die Wynbedryfsplan (WIP), wat deur die nasionale regering goedgekeur is en tans deur die Suid-Afrikaanse Wyn- en Brandewynmaatskappy uitgevoer word.
"Maar as daar gekyk word na als wat Suid-Afrika het om te bied, het die besoek aan die Internasionale Wyntoerisme Kongres my frustreer omdat ons so ver van ons potensiaal is."
Volgens Retief is Suid-Afrika se unieke natuurryk, gehalte wyne en brandewyne, goeie infrastruktuur, nabyheid aan Europa en die wynlande se ligging naby 'n internasionale lughawe en 'n groot stad almal faktore wat die land een van die voorste wyntoerismebestemming in die wêreld kan maak.
Die noue verbintenis tussen Suid-Afrika se wyn- en brandewynbedryf is ook 'n unieke verskynsel waarop daar meer klem in toerismekringe gelê moet word.
"Daar is egter æn paar gebreke wat dringend aangespreek moet word," sê hy.
"Die wynbedryf en die toerismebedryf moet nouer saamwerk. Groter klem moet gelê word op die gevoel en atmosfeer wat by die wynkelders se ingangsportaal heers, asook op die daarstel van vriendelike en kundige personeel.
"En daar moet 'n hoorbare stem wees om die waarde van wyntoerisme te onderstreep en die uitbouing daarvan te bevorder.
"Toerisme is nie net 'n tierlantyntjie vir die wynbedryf nie - dit het die vermoë om te verseker dat Suid-Afrika sy regmatige aandeel in die internasionale markplek nie net inneem nie, maar ook uitbou tot die ekonomiese en werkskeppende reus wat dit kan wees," aldus Retief. |