ppostgothic
Aida
safetop
uitlefstreep

Thursday 3 June 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 10 June  2004 at 17:30

Business - Sakenuus

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

wdroom

SKENKING. Noel Droomer (naasregs), bestuurder van Droomers, het vir die vierde agtereenvolgende jaar 'n motor aan die Drakenstein  Munisipaliteit se Skolebestuurskool geskenk. By hom is (van links) Japie Cornelissen (verkeershoof van Drakenstein), Herman Bailey (burgemeester) en Desmond Andrews (wetstoepassing).


Wyntoerisme: skrik wakker

[ Top ]


INDIEN die Suid-Afrikaanse wynbedryf 'n ernstige speler in die internasionale wynmark wil word, het die plaaslike bedryf geen ander keuse nie as om wyntoerisme as 'n vername komponent vir toekomstige sukses in die wêreldwye markplek te aanvaar.

Volgens mnr Pietman Retief, lid van die Suid-Afrikaanse Wyn- en Brandewynmaatskappy se uitvoerende komitee wat pas teruggekeer het van die wêreld se eerste Internasionale Wyntoerismekongres in Australië, is daar 'n sterk ooreenkoms tussen wynlande se sukses in wynmarkte en hul sukses op die gebied van wyntoerisme.

"Ongeveer 24% van alle toeriste na Australië kom byvoorbeeld uit Brittanje, en dié persentasie is omtrent gelyk aan die Australiese wynmark se aandeel van die Britse wynmark," sê Retief.

"Almal praat ook oor hoe dinamies die Australiese wynmark die afgelope paar jaar gegroei het en die land se mededingers wil weet hoe hulle dit doen.

"Maar as jy kyk na die syfer wat toon dat wyntoerisme na Australië oor die afgelope drie jaar met 19% gegroei het, dan is dit ooglopend dat wyntoerisme een van die sleutelfaktore van internasionale wynbemarking uitmaak."

Retief, wat ook direkteur van die SA Brandewynstigting is, het die Internasionale Wyntoerismekongres bygewoon namens die Suid-Afrikaanse Wyn- en Brandewynmaatskappy, wat wyntoerisme geoormerk het as een van die komponente waarmee die plaaslike wynbedryf uitgebou kan word.

Volgens Retief eindig die internasionale sukses van wyntoerisme ook by verre nie by die Australiërs nie.

"Amerika se Napavallei-wynstreek, wat in Kalifornië geleë is, is tans die derde gewildste toeriste-bestemming in Noord-Amerika. Dit is grootliks as gevolg van die groeiende besef van die waarde wat opgesluit lê in die bemarking van 'n wynstreek om buigsaam te wees en in die behoeftes van die besoeker te voldoen," sê hy. "Gits, selfs die kultureel-sensitiewe wyntoerisme-bemarkers in Toskane, Italië, het dit begin besef - deesdae is padtekens daar in Engels aangebring om dit makliker vir die wyntoeris te maak om in die wyngebiede rond te ry."

Retief sê die sukses van veral die Australiese wyntoerismebedryf, wat tans sowat R25 miljard na daardie land se ekonomie laat invloei, toegeskryf kan word aan energieke bemarking en inisiatiewe wat sorg dat die toeris die wynlandervaring vir niks in die wêreld wil misloop nie.

"Neem byvoorbeeld die Leeuwin-landgoed in Wes-Australië se Margaretrivier-wynstreek. Dié landgoed lê behoorlik in die boendoe, ongeveer drie ure se ry van die naaste lughawe. Tog kry hy dit reg om 200 000 besoekers per jaar te lok. Dít terwyl die totale permanente bevolking van die Margaretrivierstreek maar net 10 000 is."

Hy sê dat die sukses in die Australiese wyntoerismebedryf aan 'n paar faktore toegeskryf kan word.

"Die ervaring wat die wyntoeris by die kelderdeur gebied word, is seker een van die belangrikste redes," sê Retief.

"Die kelder se aangesig van buite, sy voorkoms en atmosfeer, die doeltreffendheid van die personeel en die kundigheid en geesdrif van die toergidse - jy kan sien dat daar 'n oorkoepelende strategie in plek is om te sorg dat wynkelders ware toeriste-attraksies is.

"As mens na hulle diensvlakke kyk, is dit ook geen verrassing nie dat toeriste alleen ongeveer vier miljoen bottels wyn ter waarde van R325 miljoen by die kelders self koop nie."

Volgens Retief is reispakkette ook van belang.

"Buigsame pakkette word aangebied wat wyntoerisme insluit, maar ook ander interessante ervarings bemark - soos kultuur, kuns en die natuur. Laasgenoemde is veral belangrik, aangesien opnames wat vir die Internasionale Wyntoerisme Kongres gedoen is, toon dat 25% van alle wyntoeriste die natuurskoon en die omgewing as die belangrikste komponent van hul besoek beskou."

Retief sê dat alhoewel daar oor die afgelope tyd vordering gemaak is, staan die Suid-Afrikaanse wyntoerismebedryf steeds in sy kinderskoene.

"Die Suid-Afrikaanse wynlande is al vir meer as 30 jaar besig met wyntoerisme, maar dit is grootliks op 'n ongekoördineerde wyse toegepas," sê hy.

"Daar is tekens van verbetering, veral in gebiede soos Stellenbosch en Robertson. En dit is verblydend dat wyntoerisme belangrik genoeg geag is om ingesluit te word in die Wynbedryfsplan (WIP), wat deur die nasionale regering goedgekeur is en tans deur die Suid-Afrikaanse Wyn- en Brandewynmaatskappy uitgevoer word.

"Maar as daar gekyk word na als wat Suid-Afrika het om te bied, het die besoek aan die Internasionale Wyntoerisme Kongres my frustreer omdat ons so ver van ons potensiaal is."

Volgens Retief is Suid-Afrika se unieke natuurryk, gehalte wyne en brandewyne, goeie infrastruktuur, nabyheid aan Europa en die wynlande se ligging naby 'n internasionale lughawe en 'n groot stad almal faktore wat die land een van die voorste wyntoerismebestemming in die wêreld kan maak.

Die noue verbintenis tussen Suid-Afrika se wyn- en brandewynbedryf is ook 'n unieke verskynsel waarop daar meer klem in toerismekringe gelê moet word.

"Daar is egter æn paar gebreke wat dringend aangespreek moet word," sê hy.

"Die wynbedryf en die toerismebedryf moet nouer saamwerk. Groter klem moet gelê word op die gevoel en atmosfeer wat by die wynkelders se ingangsportaal heers, asook op die daarstel van vriendelike en kundige personeel.

"En daar moet 'n hoorbare stem wees om die waarde van wyntoerisme te onderstreep en die uitbouing daarvan te bevorder.

"Toerisme is nie net 'n tierlantyntjie vir die wynbedryf nie - dit het die vermoë om te verseker dat Suid-Afrika sy regmatige aandeel in die internasionale markplek nie net inneem nie, maar ook uitbou tot die ekonomiese en werkskeppende reus wat dit kan wees," aldus Retief.


Pioneer koop Moir's

[ Top ]


PIONEER Foods het Moir's teen 'n ongeopenbaarde bedrag gekoop van Bromor Foods, 'n filiaal van Cadbury Schweppes.

Die Moir's-handelsnaam is sedert die vroeë 1900s goed bekend vir bakbestanddele.

Die handelsmerk beklee top posisies in 'n aantal voedselkategorieë, waaronder jellie, vla, kitspoeding, voedselessens, geglasuurde kersies, koekmengsels, droë klapper, bakpoeier en suiwelverromers.

Die aankoop van Moir's vorm deel van Pioneer Foods se strategie om sy handelsmerk-besigheid met die verkryging van sterk handelsname uit te brei.

Moir's se produkbestek vul Pioneer Foods se hoofbesigheid besonder goed aan en gee Pioneer die geleentheid om nuwe kategorieë te betree.

Die Moir's besigheid wat uit hul Kaapstadse fabrieksaanleg in Ndabeni sake doen, sal by Bokomo Foods, 'n divisie van Pioneer Foods, ingelyf word.

Bennie Hendricks, besturende direkteur van Bokomo Foods, sê die inkorporering van Moir's by Bokomo Foods skep die geleentheid vir die verdere versterking van die Moir's-naam onder Bokomo se bemarkingsaanslag van 'die tuiste van heilsaamheid'.

"Die Bokomo-naam se ryke geskiedenis gaan ook terug tot die vroeë 1900s en sluit gevestigde name in soos Weet-Bix, ProNutro, Maltabella en Nature's Source," sê hy.

Pioneer Foods se produkbestek sluit voorts vername Suid-Afrikaanse handelsmerke in soos Sasko, Today's, Tydstroom, Nulaid, Safari, White Star, Ceres, LiquiFruit en Fruitree.

Lawrence McDougall, besturende direkteur van Bromor Foods, sê "al die werknemers van Moir's word na Bokomo Foods oorgeplaas onder dieselfde diensvoorwaardes wat hulle by Bromor Foods geniet het."

"Die besluit om Moir's te verkoop, volg nadat die maatskappy se langtermyn-strategie vir markdeelname onder oë geneem is," sê hy.

Die transaksie is nog onderhewig aan die goedkeuring van die mededingings-owerhede voordat dit finaal beklink kan word.


Gratis opleiding vir kleinsakelui

[ Top ]


KLEINSAKE-ONDERNEMINGS wat vaardigheidsheffings (skills levies) aan die Wholesale & Retail (W&R) Seta betaal, kan hul werk-nemers gratis laat oplei. 

Opleiding in 'n verskeidenheid programme word aangebied by Boland Kol-lege deur fasiliteer-ders wat deur die W&R Seta aangewys is.

Twee programme, Providing Customer Services en Using Computer Technology in Wholesale & Retail, het onlangs ten einde geloop met 12 leerders wat bevoeg verklaar is.  Hulle is onder andere werksaam by Zomerlust Kwikspar, Hi-zone Traders, Kilo-treads, Boland Sport en Cathmar TV & Radio.

Die leermateriaal en die befondsing van die programme word deur die Seta verskaf. Die programme word oor 'n tydperk van sewe weke aangebied en opleiding geskied gewoonlik saans vanaf 17:30 tot 20:30. 

Na afloop van die programme word die leerders geassesseer.

Programme wat aangebied word, sluit in kliëntediens, rekenaarvaardighede, finansiële bestuur, voorraadbeheer, verkope en bemarking.

Suksesvolle leerders verwerf kre-diete wat by SAQA (South African Qualification Authority) geregistreer word. Krediete kan dan opgebou word om 'n volledige kwalifikasie te verwerf.

Slegs kleinsakeondernemings wat gebruik maak van die opleidingspro-gramme, kan 'n eis instel vir terugbetaling van die vaardigheidsheffing. 

Die volgende programme begin 12 Julie. kontak Alta Nel, ko- ordineerder, by 872-3323.


Vrouewynmaker van die jaar

[ Top ]


DIE eerste vrouewynmaker van die jaar, Ivy du Toit van Jason's Hill, is Vrydagaand tydens 'n glinsterfunksie by die Cellars-Hohenort Hotel in Kaapstad uit 23 inskrywings aangewys.

Slegs een van die ses finaliste, Alicia Rechner van Backsberg, was van die Paarl-streek.

Die ander finaliste was Theresa Fourie (Raka), Therese Swart (Groot Constantia), Irina von Holdt (Old Vines) en Lizelle Gerber (Eikendal).

Die wenner sal tydens die Europese oestyd na Frankryk reis om by 'n kelder in Bordeaux te werk vir 'n week.

Die internasionale beoordelaar uit Holland, wynskrywer en vinoloog Janna Rijpma-Meppelink, het gesê al die wyne was uitstekend.

"Wynmaak is 'n relatief nuwe beroep vir vroue in die land, maar ek dink dis hoog tyd dat die Suid-Afrikaanse wynbedryf 'n vroulike gesig in die buiteland kry, en hierdie toekenning sal seker maak dat dit gebeur!" het sy gesê.

Die ander beoordelaars was  Christine Rudman (senior wynkonsultant, KMW en wynskry-wer), Margie Barker (KWM), Marilyn Cooper (hoof van die Cape Wine Academy en KWM), Tatiana Marcetteau (sjef-sommelier van die Cellars-Hohenort Hotel).

Die beoordelaars was dit eens dat die kompetisie bevestig het dat daar nie net enorme talent is onder Suid-Afrika se vrouewynmakers nie, maar ook dat die bedryf in sy babaskoene staan wat betref vroue.

En dat hulle die talent het om wonderlike wyn te maak, is nie te bevraagteken nie - die 23 inskrywings en meer as 40 wyne in dié jaar se kompetisie het dit bewys!

Die paneel het saamgestem dat die standaard van die wyne hoog was - met 'n speling van slegs 12% tussen die hoogste en laagste tellings. Die agt top wyne wat die ses finaliste verteenwoordig het binne 2% van mekaar geval.

Die finaliste glo dat wyn gemaak word in die wingerd, en dat hulle so min moontlik daarmee wil inmeng.

Almal het gevoel dat vrouewynmakers meer bedag is op detail, en hierdie deeglikheid in beplanning en uitvoering gaan deur die hele proses tot by bottellering.

Geen wyn word gebottel tot finale analises en aanpassings perfek is nie, en die eindresultaat werklik die beste is wat sy as wynmaker kon doen. Fyn aandag word verder gegee aan die etikette, kur-ke en verpakking.

Almal was van mening dat 'n wynmaker se werk hoofsaaklik bestaan uit goeie organisasie van mense en alle aspekte van die kelder.

Hulle glo dat vrouewynmakers goeie bestuurders is as gevolg van hulle vermoë om goed vooruit te beplan en aan baie dinge gelyk te kan aandag gee.

Sy verteenwoordig die skep van top kwaliteit wyn, goeie organisasie en menseverhoudings in haar kelder, die opheffing en erkenning van ander vroue in die wynbedryf soos diegene wat druiwe verbou en diegene wat navorsing doen in die wynbedryf.

Die hoofborge van die kompetisie is Landbouweekblad en Absa.


Jongwynskou skop af

[ Top ]


DIE tyd raak min om voortreflike jongwyne vir vanjaar se SA Jongwynskou in te skryf. Inskrywings sluit op Woensdag 7 Julie.

Kampioene word bekroon in 17 kategorieë - Chenin Blanc, Sauvignon Blanc, Chardonnay, Semillon, Ander Wit Kultivar, Droë Wit Versnitwyn, Soeterige Witwyn, Edellaatoeswyn, Pino-tage, Shiraz, Cabernet Sauvig-non, Merlot, Ander Rooi Kultivar, Droë Rooi Versnit, Port, Dessert-wyn en Muskadel.

Benewens dié trofeë is die gesogte Genl Smuts-trofee, vir die SA Kampioen Jongwyn, en die Pietman Hugo-trofee, vir die beste punte behaal met die vyf beste inskrywings, ook op die spel.

Die ingeskrewe jongwyne kom van 26 tot 30 Julie op Nederburg teen mekaar te staan. Die SA kampioene sal op Saterdag 28 Augustus tydens 'n galadinee in Kaapstad - aangebied deur die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANW) en Agri-Expo gesamentlik - bekend gemaak word.

Verlede jaar se Jongwynskou het 'n rekord 2 232 inskrywings gelok, waarvan 45 as klaswenners aangewys is. Altesaam 109 goud, 406 silwer en 875 brons medaljes is toegeken.

Kontak Elsabé Ferreira by tel 807-3104, faks 863-2079 of ferreira@vinpro.co.za of besoek www.youngwineshow.co.za.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za  

[ Top ]