ppostgothic
Aida
safetop
uitlefstreep

Thursday 3 June 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 10 June  2004 at 17:30

 Letters - Briewe

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Verskonings oor swak paaie pla

[ Top ]


DIE munisipale bestuurder se reaksie op die brief oor die toestand van die Paarl se paaie is ontstellend, omdat geen oplossings aangebied word nie.

Verskonings soos 'n tekort aan mannekrag en 'n gebrek aan fondse is al holrug gery.

Hoe verklaar 'n mens die feit dat daar jaarliks 'n wesenlike besparing (surplus) is teenoor die begroting en dat salarisse en lone meer as 33% van die begrote uitgawes uitmaak, maar dat fondse en mannekrag 'n alewige probleem is?

Indien spesifieke uitgawes nie begroot is nie, is dit altyd moontlik om by wyse van sinvolle motiverings toestemming by die uitvoerende komitee te kry.

Begrotings dien gewoonlik as riglyne en is nie die alfa en omega nie.

Die plaaslike owerheid is verantwoordelik vir kwaliteit-dienslewering.

Die President, Thabo Mbeki, het onlangs sy bekommernis uitgespreek oor die bevoegdheid van munisipaliteite rondom kwaliteit dienslewering.

Dit is hoog tyd dat plaaslike munisipaliteite soos besighede bestuur word en dat kwaliteit van dienslewering ononderhandelbaar moet wees.

Hersiening van die bestaande strukture binne die plaaslike munisipaliteit is op hierdie stadium seersekerlik noodsaaklik, ten einde die doelwitte van kwaliteit en bekostigbare dienste te bereik.

Dit is noodsaaklik dat wanneer die begroting voorberei word, alle moontlike uitgawes ingesluit moet word om kwaliteit dienslewering te verseker.

Die tyd het aangebreek dat afdelingshoofde en ander uitvoerende amptenare binne die plaaslike munisipaliteit volle aanspreeklikheid en verantwoordelikheid aanvaar rondom dienslewering en ophou verskonings aanbied.

Die dorpe binne die Drakenstein munisipaliteit het dringende verbeterings nodig, anders gaan hulle net verder verval.

Die stelling dat ander munisipaliteite soortgelyke probleme ondervind, is nie 'n verskoning nie.

Skrik wakker en wees meer pro-aktief en prestasie-georiënteerd ten einde die beeld van ons dorpe te verbeter.

Besorgde inwoner


Naamwysiging van tonnel onsensitief

[ Top ]


"SEKERE historiese plekname is vir bepaalde gemeenskappe, as deel van hul kultuurerfenis, baie belangrik en indien 'n bestaande naam soos die Hugenote-tonnel nie polities sensitief of kwetsend van aard is nie, moet nie daaraan getorring word nie."

So is verlede week oor die tonnel geskryf.

Ek woon al lank nie meer in Suid-Afrika nie, maar my band is nog net so sterk as die dag dat ek vertrek het.

In die tyd is daar baie verander, soms ten goede en soms het ek my twyfel. Maar daar moet seker altyd veranderinge plaasvind.

 Nou vra ek my net af, bestaan daar wel genoeg ou paaie, bome, tonnels en damme om al die bes-ondere mense te vereer?

Waarom nie 'n mooie beeld-houwerk in of voor die gebou plaas waar die persoon werksaam was nie? Of in plaas van 'n "walk of fame"

'n "Walk of precious people" waar ons mooi teëls met die name van al die besondere en gedenk-waardige mense op sien"

Met miskien 'n mooi boodskap of woorde van die persoon.

Die voorgestelde naam vir die tonnel is miskien nie polities sen-sitief of kwetsend nie, maar dit is wel 'n behoorlike verandering as die benaminge uit die aard-rykskundeles nie meer juis is nie. Dit word 'n mond vol.

En die huidige generasie Paarliete sal nie sommer 'n ander benaming gaan gebruik nie.

Miskien is dit nie 'n sterk genoeg argument nie, maar ek vind dit ook flou om iets te gaan verander net omdat dit nie "polities sensitief" is nie.

Soek maar eers na 'n ander kreatiewe idee, meen ek!

Liezel Ruter, Nederland


Hoekom laat Munisipaliteit dit toe?

[ Top ]


GRAAG wil ek my mening oor die toestande van La Uva munisipale woonstelle in Noorder-Paarl uitspreek. Ek is 'n inwoners hier en betaal my huur gereeld, waarvan ek nie 'n sent agterstallig is nie.

Daarom wil ek graag 'n paar vrae vra wat my al die afgelope maande pla. Ten eerste wil ek by die Munisipaliteit weet waarom word hier so baie honde en katte aangehou.

Die kontrak sê dan jy kan net een dier aanhou, maar diere hoort hoeka nie by 'n woonstel nie.

Dis 'n gesondheidsrisiko - 'n mens kan nie eens kos maak nie. Die reuke en die gemors van die diere maak my siek. Hoe lyk 'n klomp vlieë waar jy kos maak?

Ek het nie diere nie, maar my voordeur bly vol van hulle gemors en dit stink geweldig.

My kinders kla baie van hulle mae. Dis morsigheid - hier kan mos nie mense en diere gelyk aangehou word nie. Ek is al raadop en moedeloos.

My vensters kan ek nie eens oopmaak nie en as ek mense kry, raak ek skaam. Ons is mos nie in die gemors gebore, hoekom moet ons in die gemors sterwe?

Kan die Munisipaliteit nie iets doen nie. Die reuke slaan in jou huis - hoekom laat julle die vuil dinge toe, maar elke maand moet ons huur op datum wees?

Waarom word die plek nie geverf nie? Die plek lyk baie vuil en morsig. Hier bly baie netjiese mense ook.

Asseblief, doen iets aan die honde en katte. Ons kinders ly daaronder, moenie dit aan ons kinders doen nie.

Die gemors lê somtyds vir dae op die trappe voor dit skoongemaak word. Sies!

Baie ontevrede

Die munisipale bestuurder reageer: Die aanhou van honde en katte is 'n algemene probleem in woonbuurte.

Ingevolge die huurooreenkoms mag huurders van woonstelgeboue nie honde, hoenders en duiwe aanhou nie. Die huurders van La Uva munisipale woonstelle is al verskeie kere oor die aanhou van diere aangespreek, maar die probleem vererger net.

Daar is geen meganisme in plek om die klousule van die huurooreenkoms af te dwing nie.

Die skrywer word versoek om die huurders te identifiseer (adresse verskaf) sodat hul gegewens aan die wetstoepassingsbeamptes vir optrede voorsien kan word.


Hoekom so 'n bohaai?

[ Top ]


EK vind dit regtig verbasend dat mense so 'n bohaai kan opskop sonder die nodige feite.

Daar is mense wat glad nou beweer 'n sekere raadslid het R30 000 gesteel, terwyl dit eintlik 'n misverstand was oor staatstoelaes, soos in die Paarl Post berig is.

Hoekom nou so 'n bohaai maak omdat 'n arme pensioenaris per ongeluk 'n ietsie ekstra gekry het?

Daarmee praat ek dit nie goed nie. Hulle is besig om dit terug te betaal.

Mense van Paarl-Oos - wanneer gaan ons mekaar bou in plaas van afbreek?

B Kruger


Sonde met al die bure se diere

[ Top ]


GRAAG verneem ek in 'n tyd waar menseregte seëvier, wat beskerm jou teen jou bure se troeteldiere?

Aangesien ons van 'n plaas in Mpumalanga na die Paarl verhuis het, het ons al ons troeteldiere weggemaak. Helaas, min het ons geweet hoeveel sonde ons sou hê.

Ons bly in 'n gegoede buurt bo die hoofstraat in Sentraal-Paarl. Die buurman reg langs ons se skaaphond lê alewig in die pad en jaag elke liewe motor.

Hy terg die buurman oorkant die pad se twee labradors wat dag en nag staan en blaf vir enigiets wat roer in die straat.

Op warm dae swem hulle lekker in ons swembad.

Die rondloperkatte miaau en baklei in die nag onder ons kamervensters en les bes, die doring in die vlees, Swart Sluiper, die miserabele, benerige swart Great Dane brak.

Hy kom visenteer elke aand ons asblikke en gooi dit om, sleep die swartsakke rond en strooi die inhoud oor die hele erf.

As mense nie na hulle troeteldiere kan omsien nie, en dit versuur almal se lewens om hulle, hoekom hou hulle troeteldiere aan?

Gif-in-die-Polonie

Volgens die munisipale ordonnansie mag 'n hond slegs aangehou word indien die erf volledig omhein is sodat die hond nie kan ontsnap nie. Geen hond mag buite 'n erf op straat wees tensy op 'n leiband nie. Daar mag slegs twee honde per erf wees. Geen honde mag in woonstelle aangehou word nie. Oortredings kan by die verkeersafdeling aangemeld word, waarna die loslopende hond(e) geskut sal word. - Red.


Ontevrede oor aflewering van stene

[ Top ]


VERLEDE week het 'n brief oor swak diens in die Paarl Post verskyn en wat my veral beindurk het was die positiewe terugvoering van die handelaar.

Ongelukkig kan ek nie dieselfde sê van Brick and Tile Paarl nie. So 'n maand gelede het ek sowat 2000 sierstene ten duurste by hulle aangekoop.

Op die terrein was die stene mooi en netjies in eenhede van 500 verpak.

Met die afleweringslag was die plastiek rondom die eenhede verwyder en daardie sierstene met die hand afgepak - iets waaroor niemand my vooraf ingelig het nie, anders sou ek ander reëlings getref het om die stene te karwei en netjies met 'n "crane" af te lewer.

Die hoop stene voor my deur lyk soos 'n hoop stene wat ek iewers by 'n agterdeur gekoop het.

Verskeie fakse en telefoonoproepe is al na hul konsultant, Sharene Rourke, gestuur sonder enige positiewe reaksie.

Al wat ek wil hê is dat die stene afgelewer moet word in die toestand soos wat ek as kliënt dit op hulle terrein gesien het.

Ek moes toe van Sharene verneem dat dit my meer as R1 200 gaan kos om die stene weer verpak te kry. Het ek nie daarvoor betaal nie?

Raleigh

Sharene Rourke van Brick and Tile Paarl reageer:

Die bakstene is wel per hand afgelewer.

Soos ek aan die kliënt verduidelik het, word slegs vragte van 4000 stene en meer per 25 ton vragmotor met hyskraan afgelaai.

Kleiner vragte word op 'n 8 ton vragmotor gelaai met 'n vurkhyser. Die meeste kliënte het egter nie 'n vurkhyser by die aflaaipunt nie, en die bakstene word dan per hand afgelaai.

Indien die kliënte gesê het hy wil die 2000 bakstene met die groot hyskraanvragmotor afgelaai hê, sou ek hom ingelig het dat die vervoer dan duurder sou kos, in welke geval dit in plastiek gehul sou wees.

Ons bou geen wins in die vervoer in nie aangesien dit deur 'n subkontrakteur afgelewer word. Baie baksteenmaatskappye lewer nog bakstene per hand af.

Ek het die kliënt ook ingelig dat, indien die brekasie meer as die gemiddelde 5% tot 10% is, ons hom kon vergoed daarvoor.


Betaal as jy kan

Editorial

[ Top ]


'n MENS moet jou hoed afhaal vir die Drakenstein stadsraad wat dit reggekry het om die styging in tariewe tot 7,5% te beperk.

Dít gesien teen die agtergrond van belastingbetalers se skuld wat steeds  toeneem. Op die oomblik staan dit op 'n skokkende R112 miljoen rand, volgens die burgemeester.

Die burgemeester het tydens die begrotingstoespraak hom sterk uitgelaat teen inwoners wat nie hul verantwoordelikhede teenoor die Munisipaliteit nakom nie.

Almal verwag dienste, en ons is baie vinnig om te kla as dit nie na ons sin is nie, maar as dit by die betaalslag kom, is baie van ons maarkopsku.

Die burgemeester het 'n ernstige beroep gedoen op belastingbetalers om hul burgerlike plig na te kom, of dan ten minste met die Munisipaliteit in aanraking te kom om hul skuld te bespreek.

Bygesê, die Raad maak ruim voorsiening vir die armer deel van die gemeenskap. In die nuwe begroting is 'n totale bedrag van veertien miljoen rand eenkant gesit om arm mense te help.

Onder dié hulp tel verligting met belasting, water en krag. Pensioentrekkers kan ook aansoek doen vir belastingverligting.

Dit hang nou van elke munisipale belastingpligtige af om verantwoordelik te gaan kyk na hul finansiële pligte.

Kortom, laat dié wat enigsins kan betaal, betaal, en dié wat regtig nie kan nie, reëlings tref met die Munisipaliteit.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za  

[ Top ]