|
TWEE plaaslike wynkelders, Boland en Wamakersvallei, is onder vyf Suid-Afrikaanse wynkelders wat op die Internasionale Wyn- en Spiritualieë Kompetisie (IWSC) in Londen wêreldroem verwerf het.
Van die 20 trofeë toegeken op hierdie prestigeryke kompetisie, het Suid-Afrika die meeste trofeë ingepalm. Drie trofeë is verower deur Frankryk en twee deur Australië.
Boland Kelder in die Paarl het die trofee vir Beste Shiraz in die wêreld verwerf met die Boland Shiraz 2000.
Dit volg op Boland se sukses in 2001 toe die Boland Shiraz 1998 dieselfde trofee ontvang het en die Boland Cabernet Sauvignon 1999 aangewys is as die Beste Cabernet Sauvignon ter wêreld.
Wamakersvallei Wynkelder op Wellington se La Cave Cabernet Sauvignon 2001 het op sy beurt die internasionale trofee vir die Beste Cabernet Sauvignon ontvang.
Volgens Wamakersvallei se keldermeester, Chris Roux, was 2001 'n besondere oesjaar wat gesorg het vir hoë ekstrak op die korrels wat aan die wyn afronding en 'n geweldige lang nasmaak gee.
Hy het die kelder se spanwerk, van wingerdbestuur tot in die vat, geloof.
Ander Suid-Afrikaanse trofeewenners was L'Avenir Pinotage 2000 (beste Pinotage), Hamilton Russell Pinot Noir 2001 (Beste Pinot Noir) en Vergelegen Flagship 2000 (Beste Rooi Versnit).
Die IWSC is een van die grootste en gesaghebbendste wynkompetisies in die wêreld en dit is die tweede keer in drie jaar dat Suid-Afrika met rooiwyne die kalklig steel.
In 2001 was Boland Kelder ook aangewys as die Internasionale Wynmaker van die Jaar omdat die kelder twee internasionale rooiwyn trofeë verower het.
Die Boland Kelder Shiraz 2000 se internasionale trofee by vanjaar se IWSC het as geen verrassing gekom nie. Dieselfde wyn het op vanjaar se Citadelles du Vin in Frankryk die Prestige Trofee verower as die Beste Shiraz en op vanjaar se Vino Lubljana Wynkompetisie in Slovenië 'n goue toekenning ontvang.
Die Boland Pinotage 1999 en Cabernet Sauvignon 2001 het ook op laasgenoemde kompetisie goue toekennings ontvang.
Volgens Boland Kelder se keldermeester, Altus le Roux, is hul sukses te danke aan spanwerk tussen die wynboere, die wingerdboukundige Jurie Germishuys en wynmaker Naudé Bruwer.
Hy was veral bly dat hul sukses op die prominente internasionale wynkompetisie herhaal is en dat Suid-Afrika in geheel uitstekend gevaar het, aangesien dit ons land se status as 'n top internasionale produsent van puik wyne bevestig.
Die IWSC word al meer as dertig jaar aangebied. Altesaam 66 lande het vanjaar meer as 4 500 produkte ingeskryf en Suid-Afrika het die rooiwynkategorië oorheers met vyf internasionale toekennings. Die pryse word op 10 Julie in Londen oorhandig.
* The Boland Shiraz 2000 and Wamakersvallei's La Cave Cabernet Sauvignon 2001 have been adjudged world champions at the International Wine and Spirits Competition in London. |