|
|
 |
Letters - Briewe |
 |
Stadsraad steur hom nie aan publiek se wense |
|
|
 |
|
|
|
 |
 |
|
EK verwys na die advertensie in die Paarl Post van 19 Junie aangaande kommersiële ontwikkelingsvoorstelle vir Die Kraal en wil beswaar aanteken teen die voorgestelde verkoop van dié historiese sportterrein.
By 'n geadverteerde publieke vergadering wat op 19 Maart gehou is, is besluit dat die stadsraad nie dié eiendom moet verkoop vir kommersiële ontwikkeling nie.
Inteendeel het die mense wat daar teenwoordig was, baie sterk gevoel dat die grond ontwikkel moet word vir sport sodat skole in Paarl-Oos nie noodwendig elke week hul sport in Daljosaphat moet beoefen nie.
'n Hoofrede hiervoor is dat die kinders wat in Paarl-Oos in gebiede Mountain View, Amstelhof, New York, Lantana en ander plekke ver van Daljosafat, aangerand word wanneer hulle huiswaarts keer van sportbeoefening.
Die Kraal beteken nog steeds vir baie mense in Paarl-Oos iets wat hulle saam met hul na hul dood kan dra.
Hierdie monument word nou ligtelik verkoop omdat die Raad kwansuis nie geld het om dit as sportfasiliteit te ontwikkel nie.
Indien die Raad hierdie jaar begin met 'n begrotingsprojek wat verdeel word in fases, kan dit binne 'n paar jaar 'n werklikheid word. Waarom die haas om Die Kraal nou te verkoop ?
Die perseel agter die gemeenskapsaal wat deur die Raad geïdentifiseer is vir die ontwikkeling van sportfasiliteite, is deurspek van dienste. Dit word oorstroom tydens groot reëns.
Hierteenoor het die ou A, B en C velde van die Kraal nooit probleme gehad met water wat nie dreineer nie. Ek is ook bekommerd oor die proses van konsultasie wat deur die Raad geïnisieer is met die gemeenskapsvergadering. Ek het gedink hier is 'n kans vir Jan Alleman om deelname te hê in besluite van die Raad.
Wat is die uitslag? Die betrokke raadslede daag nie op nie, en hulle ignoreer die publieke gevoel. Dit was 'n vermorsing van Jan Alleman se tyd en hy sal nooit weer so 'n vergadering bywoon nie.
Ek is bewus daarvan dat die Raad die reg het om te verskil en ook die finale besluit moet neem - maar hoekom is nie weer met die gemeenskap gekonsulteer oor die raadsbesluit, soos by die vergadering onderneem is nie?
Dit is gebiedend noodsaaklik dat, voordat daar voortgegaan word met die tenderproses, daar insae gekry moet word in die titelakte en koopkontrak van Die Kraal wat na oorlewering aan die Raad bemaak is as sportterrein en niks anders nie.
Die Raad moet die hele terrein as geheel beplan, en nie stuk-stuk nie. Wat het geword van die struktuurplan vir die gebied wat enkele jare gelede opgestel is?
Ek hoop die Raad sal aandag gee aan die wense van die publiek.
A Carolissen |
 |
|
|
|
 |
Dankie aan goeie Samaritaan vir sy hulp |
|
|
 |
 |
|
OMSTREEKS 11:30 op Dinsdagoggend 25 Junie was ek op pad vanaf 'n winkel in die Paarl na Malmesbury. Ek het gewag om by die Boulevard in te draai toe die bestuurder van 'n wit Mercedes Benz, wat aan die anderkant van die Boulevard was, en ook gewag het om in te kom, vir my waai en wys ek moet stil hou.
Hy het by die pad ingedraai en toe agter my stil gehou. Ek het my venster afgedraai en voor ek nog mooi vir hom kon vra wat die moeilikheid is, gee hy my tjekboek vir my.
Die tjekboek het ek op die kap van die motor neergesit toe ek my baadjie uitgetrek het voor ek in die kar geklim het by die winkel.
Voor ek enigiets kon sê was my weldoener in sy kar. Ek kan nie aan hierdie man sê hoe dankbaar ek is nie - al my kredietkaarte was saam met my tjekboek.
Ek wil daardie Samaritaan bedank. Dit laat sommer weer baie vertroue in die mensdom kry en jy voel weer lus om te gaan.
J Vercuil |
 |
Wettige wapeneienaars nie die probleem nie |
|
|
 |
|
|
|
 |
DIE berig genaamd "Wapens gesoek" in die Paarl Post van 19 Junie verdien kommentaar.
Volgens hierdie berig word "Operasie Sethunya" deur die polisie geloods om onwettige vuurwapens in sirkulasie aan te spreek, en sal daar by wapenhandelaars en wettige eienaars besoek afgelê word om daarna te soek.
Dit is 'n massiewe weerspreking en mistasting, aangesien die geteikendes in hierdie operasie reeds aan die landswette voldoen deur lisensies te hê.
Volgens die berig word daar al hoe meer geweldsmisdade met vuurwapens gepleeg. Siende dat die offisiële syfer van misdade gepleeg deur wettige eienaars slegs 0,05% is, word daar duidelik op die verkeerde groep gefokus. Misdade word met ONWETTIGE wapens gepleeg!
Wat die berig nie vertel nie, is dat regeringsamptenare maandeliks meer as 3000 vuurwapens verloor en verkoop, en die grootste bydraers is tot die poel van onwettige wapens.
Wat hierdie operasie in werklikheid is, is die voorloper van die drakoniese, nuwe vuurwapenwette wat binnekort geïmplementeer word, daardie wetgewing wat slegs wettige wapeneienaars raak.
Dit is dieselfde wetgewing waardeur die meeste van die wettige eienaars as kriminele beskou gaan word, jou huis sonder lasbrief deursoek word, en etlike ander vergrype uitgevoer kan word.
Dit is wetgewing wat die belastingbetaler meer as R1,2 biljoen (ja, 'n B!) kos, en nie een nuwe misdadiger agter tralies sal sit nie, want die huidige wetgewing maak reeds daarvoor voorsiening.
Skrikwekkend genoeg, word amptenare wat die wette moet onderhou, vrygestel van die gevolge daarvan, sou hulle self in gebreke bly.
Indien daar regtig sulke besorgdheid bestaan om onwettige wapens uit sirkulasie te haal, moet die mannekrag en biljoene eerder ingespan word om werklike oortreders te gaan soek, en nie van die reeds-oorlaaide en onderbetaalde polisielede gebruik te maak om wetsgehoorsame burgers te teister en viktimiseer nie.
Ontevrede wapeneienaar
Kapt John Waterhouse, kommunikasie-offisier Boland area, reageer namens die SAPD: Die groot aantal onwettige vuurwapens tans in sirkulasie dra by tot die hoë vlakke misdaad aktiwiteite in Suid-Afrika.
Die bedreiging wat dit inhou vir persoonlike veiligheid en menslike waardigheid skep 'n vrees binne ons samelewing, want gemeenskappe is al hoe meer blootgestel aan geweld wat deur vuurwapens gepleeg word.
Die eindresultaat is dat onskuldige mense die slagoffers word. Met dit in ag geneem, het die Suid-Afrikaanse Polisiediens Operasie Sethunya geloods en word dit in twee fases uitgevoer.
Tydens die eerste fase word daar gelet op individu en instansies wat wettiglik vuurwapens besit maar teenstrydig met die vereistes van die vuurwapen wet.
Aangesien wetgewing verander, moet daar voldoende en korrekte rekordhouding gedoen word oor alle vuurwapens in persone en instansies se besit (insluitend lede van die SAPD). Alle fasette van die wet word opgevolg, van lisensies tot die veilige bewaring van sulke wapens.
Die tweede fase teiken vuurwapens wat onwettig in die besit van individu en instansies is. Hierdie sal deur middel van padblokkades en kordoneringsoperasies aangespreek word.
Dus kan gesien word dat almal geraak word en wettige vuurwapeneienaars wie se lisensies volgens wetgewing in orde is, het dus niks om te vrees nie. Dié wat egter in besit is van onwettige vuurwapens het rede tot kommer. |
 |
|
 |
Hoekom glo Paarliete die hele bedrogspul oor Alaska? |
|
|
 |
|
|
|
 |
 |
|
EK reageer op die brief in die Paarl Post van 27 Junie, waarin mense gewaarsku is teen die skelmstreek met kastige "vispakwerk in Alaska".
Nie net is baie mense al so ingeloop nie, hulle het selfs hul werk verloor!
Op Sondag 15 Junie is 'n vergadering in Paarl-Oos gehou, waarin mense vertel is dat hulle Dinsdag 17 Junie oorsee sou vertrek om te gaan vis pak in Alaska. Hierdie 130 mense vertrek nou nog!
Elkeen van hierdie mense het R450 betaal vir hierdie "reispakket". Dit beteken die vrou wat aan hulle hierdie "pakket" verkoop het, sit met R58 500 in haar sak, en hulle het niks!
Hoe kan hierdie mense so dom wees om te glo dat 'n mens vir R450 oorsee kan vlieg en boonop 'n werk kry?
'n Vliegtuigkaartjie oorsee kos meer as R6000 - wie gaan vir jou 'n kaartjie gee vir R450?
Maar sy beloof aan die mense dat die vispakfabriek in Alaska die kaartjie uitreik op die geld wat nog in die fabriek verdien gaan word.
Dit werk nie so nie - daar is hope mense baie nader aan Alaska wat die werk sal doen, hoekom sal hulle mense van Suid-Afrika soontoe vlieg?
Na verneem word ,is die Amerikaanse ambassade en die fabrieke in Alaska al op van die navrae van die arme dom Suid-Afrikaners wat vir hierdie slim storie geval het.
En hierdie dame sit lekker daarin met al die geldjies wat sy so versamel het.
Die skelmstreek is gebaseer op 'n advertensie wat gereeld in die pers verskyn waarin mense hoor dat hulle vir duisende dollars per maand kan gaan vis pak in Alaska, op 'n skip of olieboor kan gaan werk, of wat ook al.
Wanneer jy bel, hoor jy dat jy R450 moet betaal vir die handboek met die adresse en telefoonnommers van die oorsese firmas wat die werk aanbied.
Dan moet jy ten duurste self verder oorsee bel om jou eie reëlings te tref, en dan moet jy nog 'n visum verkry (R1000) en tot R20 000 vir jou vliegtuigkaartjie betaal.
Nou is daar sekere geslepe mense wat die handboek gekoop het en daarmee loop en mense werf om (glo dit of nie) vir R450 "in Alaska" te gaan werk.
Daar word vir hulle vertel hierdie bedrag sal vir hulle die visum verkry waarna hulle "kosteloos" oorsee kan vlieg, want die werknemer in Alaska sal die vliegtuigkaartjies "van hul salaris aftrek".
Hoekom het die slagoffers nog nie 'n klag van bedrog by die polisie gaan lê sodat hierdie mense gestraf kan word nie?
Of hoop hulle nog vir daai "gratis" vliegtuigkaartjie? Ek hoop nie hulle is so dom nie.
Moeg vir jakkalse |
 |
|
 |
Donker toekoms vir Drakenstein inwoners |
|
|
 |
|
|
|
 |
 |
|
EK wil, as gewone lid van die publiek, my kommer uitspreek oor die Drakenstein munisipale raad se onlangse besluit oor skuldinvorderings, waarteen die stadstesourier ook beswaar gemaak het.
Hoe meer skuld, hoe meer vry elektrisiteit kry jy. Klink dit vir u vreemd? Wel in Drakenstein is dit nou 'n draak wat sy kop uitsteek.
Op aandrang van raadslid Mkabile (ANC), het die ANC/NNP Uitvoerende Komitee op 19 Mei besluit dat die verhaling van agterstallige skuld in die geval van persone met vooruitbetaalbare meters (pre-paid) waar die uitstaande skulde baie hoog is, nie meer op die 80% skuld/20% elektrisiteit verhouding sal geskied nie, maar wel op 'n verhouding van 50% skuld/50% elektrisiteit.
Dit beteken nou dat indien 'n persoon rekeningverpligtinge van slegs R100 per maand het (elektrisiteit uitgesluit), en die persoon se elektrisiteitsbehoefte is sowat R50 per maand, kan die persoon die R100 wat in elk geval betaal moet word, aanwend om R50 se krag te bekom (wat die behoefte) is, en R50 betaal van 'n rekening van R100, sonder dat die krag afgesny of ander dienste beëindig word.
Anders gesien, die persoon betaal sy rekening van R100 en dan beloon die munisipaliteit die persoon met R50 vry elektrisiteit. Dit was 'n slim set van die ANC wat deur die NNP ondersteun word.
Soos almal al by dié tyd weet, wissel die uitstaande skuld in Drakenstein maandeliks tussen R80 miljoen en R110 miljoen, afhangende van watter tyd van die maand mense betaal.
In sekere wyke is daar feitlik geen skuld nie, maar in ander wyke is die wyk as 'n geheel tot 35 maande agterstallig. Dit was in Junie verlede jaar. Moet liewer nie vra hoe dit nou, 'n jaar later, lyk nie.
Die Hoof van Finansies het by die vergadering van 19 Mei die lede van die Uitvoerende Komitee daarop gewys dat die 50/50 beginsel nie die agterstallige skulde gaan aanspreek nie, maar dat die skuld eerder sal styg.
Die verslapping van die Raad se kredietbeleid beteken dat die R15 miljoen wat in die begroting vir slegte skuld (aangedui as bedryfskapitaal) begroot word, hopeloos te laag sal wees, en dalk eerder R25 miljoen sal wees.
Die R15 miljoen verteenwoordig ongeveer 21% van die totale eiendomsbelastingsinkomste van R70 miljoen. Indien alle skuld betaal word, sal die eiendomsbelasting dienooreenkomstig verlaag kan word.
'n Gedeelte van die belastingbetalers moet dus reeds hoër belasting (9,5% hoër van 1 Julie) en tariewe betaal omdat ander belastingbetalers nie hulle agterstallige skuld vereffen nie.
Geen wonder die Hoof: Finansies het sy teenstem laat notuleer nie.
Hoe wil die ANC/NNP-raad hierdie probleem oplos? Nie deur hul wetlike plig uit te voer en die skuld in te vorder nie, maar deur R22 miljoen van die R42 miljoen se reserwes wat oor die afgelope twee jaar opgebou is, op die boeke van die munisipaliteit van reserwes na oninbare skulde te verskuif.
Hierdie reserwes van R42 miljoen is die afgelope twee jaar opgebou deur die mense van Drakenstein wat hul rekeninge betaal het. Hulle het eintlik te veel betaal, aangesien 'n munisipaliteit nou nie juis veronderstel is om 'n "wins" te toon nie.
Indien sake so voortgaan, sal eiendomsbelasting onbetaalbaar duur word, en sal ouer mense wie se inkomste nie tred hou met verhogings nie, hul huise verloor.
Drakenstein se Raad moet dus ernstig besin oor die invorderingsbeleid asook die beleid ten opsigte van tariewe en eiendomsbelasting, want soos dit nou staan, stuur die hele munisipale gebied op 'n finansiële ramp af.
Deetlefs du Toit (DA raadslid) |
 |
|
|
|
 |
Is this really such a hell? |
|
|
 |
I WOULD like to respond to the letter from "Lady Grey" of 26 June, relating the trials of shopping in central Paarl.
No, you are not unique. I too take a deep breath of self-restraint when I quickly want to pop into the shop and I am confronted by crowds of "car care" attendants.
It adds a little more stress to my day.
However, I am under the impression that many of these people are well-educated refugees, and I have to admire them for trying to do something to help themselves in an unwelcoming environment.
I'm sure they would rather use their skills in more constructive ways.
What can we do to find a solution to this problem?
After all, I feel that your terms "nightmare" and "hell" can better be applied to fleeing your war-torn country, having to leave your family behind, living in poverty, and having no money to go grocery shopping.
Citizen |
 |
 |
|
Kommissaris behoort hom te skaam |
|
|
 |
|
 |
GRAAG wil ek my misnoeë uitspreek oor die toespraak van kommissaris Ganief Daniels by 'n publieke vergadering, soos gerapporteer in die voorbladberig van die Paarl Post op 26 Junie.
Kommissaris Daniels, dit is u werk om die groot gaping tussen die publiek en die polisie nouer te maak, maar inteendeel maak u dit groter.
Interne sake van die Polisie moet intern opgelos word en nie in die publiek nie.
As Popcru-verteenwoordiger was ek gaande oor u aanstelling as kommissaris van die Boland Area, maar ná die berig het my oë oopgegaan.
Om met sulke ongegronde feite na die publiek te gaan, is uiters laag.
U is aangestel as vader van Boland Polisie en elke polisieman en -vrou is u kroos. Beskerm hulle, moet hulle nie in die koue los en die deur agter u toemaak nie.
Ek het simpatie met Paarl-Oos SAPD-lede indien hulle nie met ywer en spoed hulle werk verrig nie. Wie kan, indien jy so in die publiek geïmpliseer word?
Die publiek sien elke polisieman en -vrou op straat as korrup aan en so gaan die respek verlore.
Volgens die berig sal u verstaan wanneer 'n lid R15 000 vat. Of daar nou een bottel bier gevat word of R15 000, dit bly mos korrupsie?
Kommissaris Daniëls, ek dink u skuld elke polisieman en -vrou 'n deeglike verskoning.
EC Delport (Popcru) |
 |
|
 |
 |
 |
|
Editorial: |
|
|
Why are we surprised? |
|
|
 |
|
 |
 |
 |
 |
|
THE deterioration of the Paarl CBD is continuing unabated, while the Drakenstein Council wavers. Now even children are being targeted by criminals and robbed of their belongings in the streets.
Despite a number of submissions from businessmen who wish to upgrade the town centre, the Council seems unable to come to a decision on the matter.
This is hardly surprising, taking into account that there has been a "changing of the guard", with the ANC/NNP coalition taking over from the DA after the floor-crossing window period in November.
Not only has very little happened in municipal affairs since then - very little happened for months before that illustrious event, as every town councillor was sitting on the fence, trying to decide which way to jump.
Following the takeover, councillors have had further exciting matters to deal with: the dishing out of chairmanships of portfolios, deciding who will be executive mayor, and who will serve on his mayoral committee.
This takes agonising hours of decisionmaking, because there is bigf money involved: who the lucky ones are who get the salaries of the full-time mayor and his advisory councillors is understandably a matter close to their hearts.
What becomes of the citizens who voted for them, and are clamouring for order in their towns, is apparently not a matter of concern.
This has become especially clear in the last week or two, when the mayoral committee spent all its time trying to decide on the length of the winter recess.
And we thought they were being paid to serve full time! |
|
|
|
|
|
|
|