|
net-net die medaljes misgeloop het.
Magdalena, wat die verstand van 'n sesjarige kind het, is sedert 12-jarige ouderdom 'n leerder by Ligstraal Skool vir Gestremdes.
Voor dit het sy by Nieuwedrif Primêr skoolgegaan, waar sy reeds haar talent op die atletiekbaan begin wys het.
Vir die afgelope nege jaar is sy deur Leroy van Graan by Ligstraal afgerig.
"Magdalena het van die begin af presteer, nog voor ek hier by die skool begin het," vertel Van Graan.
"Magdalena was van 1995 tot 1999 die nasionale kampioen in die 100m en 200m. Haar beste tye nog is 13,50s vir die 100m en 21,70s in die 200m.
"Sy doen ook verspring met 'n beste afstand van 5,20m, maar spesialiseer in naellope," sê Van Graan.
Magdalena blink ook op die netbalbaan uit. Sy is kaptein van die skoolnetbalspan en is in die Bolandspan opgeneem vir gestremde spelers ouer as 16.
Na afloop van 'n onlangse vierhoekige byeenkoms is sy ook in die Wes-Kaap netbalspan opgeneem wat in September in Durban aan die nasionale Elite Spele van die Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir Verstandelik Erg Gestremdes (SASVEG) gaan deelneem.
Magdalena se sportprestasies het nie ongesiens verbygegaan nie en sy is verlede jaar as Boland se Gestremde Sportvrou van die Jaar aangewys.
Volgens Magdalena het haar broer, Robert, haar van kleinsaf gehelp met afrigting op die plaas St Peter's Roche in Agter-Paarl, waar sy deur haar tante Angeline de Bruyn grootgemaak is.
"Dit is baie lekker en ek sien baie dinge," antwoord sy skamerig oor hoe dit voel om oorsee deel te neem.
Volgens Gerald Lackay, president van SASVEG, is die byeenkoms in Tunisië 'n kwalifiserende byeenkoms vir die 2004 Para-Olimpiese Spele in Athene.
"As sy nou goed doen, is die kanse goed dat sy wel na die Para-Olimpiese Spele kan gaan," sê Lackay.
En dit is juis 'n droom wat Magdalena nog koester.
"Ek hoop ek kan baie sukses vorentoe behaal en sal baie graag aan die Para-Olimpiese Spele wil deelneem," sê sy met 'n glimlag.
Hoewel leerders van Ligstraal op 21 jaar die skool verlaat, is Magdalena as 'n "huismoeder" opgelei wat onderwyseresse in die klas bystaan.
Benewens haar atletiekprestasie is sy ook 'n uitblink-rolmodel vir die kinders wat sy in die klas help.
"Sy is onmisbaar. Ek is 'n departementshoof en gereeld uit die klaskamer, maar met Magdalena hier hoef ek nie bekommerd te wees nie.
"Sy hou die kinders besig en is amper soos 'n ma vir hulle. Die kinders is net so geheg aan haar," vertel Juffrou Marinda Grain.
* An intellectually disabled woman is to travel to Tunisia for the world athletics. |