|
Die Swarttruie het gereeld binne trefafstand van hul bure se doelgebied gekom, maar 'n gebrek aan afronding het verhoed dat die punte realiseer.
Die Boland sal veral swaar leun op die akkurate skopvoet van die lenige Bergh, wat tot dusver dié seisoen 70 punte in tien wedstryde só aangeteken het en daarby nog vyf drieë gedruk het.
Op agtsteman is Louw op sy beurt 'n groot aanwins in die lynstane en met sy lang, fors bou word hy moeilik platgetrek wanneer hy om die skrums breek.
Albei spelers het heelwat kamerade in die provinsiale span, met ses Hugenoters wat vir die Boland speel en vyf Boishaaiers in WP se span.
As verdedigende kampioene is dit vanselfsprekend dat die WP in die visier van elke ander span sal wees.
Volgens Louw het vanjaar se WP-span, waarvan ses spelers insluitende hyself in 2002 ook gespeel het, nie een oorheersende sterkpunt nie.
"Ons het 'n goeie pak voorspelers en 'n goeie agterlyn, hulle moet net goed by mekaar aansluit," sê Louw.
Volgens Bergh is daar by Boland net vier spelers wat verlede jaar al Craven-week gespeel het.
"Maar toe ek die eerste keer die ouens bymekaar gekry het, het ek gesien hier is 'n besonderse span. Hulle wíl goed doen," beskryf Bergh sy span se missie.
Altwee meen die ontvangs op Boland Stadion sal goed wees, want hulle is naby die huis.
"Die mense gaan definitief agter ons wees, maar die druk gaan ook baie hoog wees om goed te doen as gasheerspan," sê Bergh.
'n Groep van 18 spanne wat elke provinsie in Suid- Afrika verteenwoordig, asook spanne van Namibië en Zimbabwe, sal teen mekaar kragte meet.
Wedstryde sal Maandag, Dinsdag, Woensdag, volgende Donderdag en volgende Saterdag gespeel word.
Daar sal oorgenoeg stalletjies met eetgoed en snuisterye wees, asook met groot TV-skerms.
Die eerste dag se wedstryde skop reeds om 10:30 op Boland Stadion af wanneer Oostelike Provinsie teen die Blou Bulle (Platteland Distrikte) se span kragte meet.
Om 11:50 pak die Blou Bulle en Griekwas mekaar, gevolg deur Vrystaat en Grens om 13:10.
Die amptelike opening deur Silas Nkanunu, hoof-uitvoerende beampte van Sarvu en Dries van Heerden, voorsitter van Ussasa Rugby geskied om 15:00, met klopse en valskermspringers.
Daarna skop die hoofwedstryd tussen Boland en die Luiperds om 16:00 af. Dinsdagmiddag in die hoofwedstryd pak Westelike Provinsie die Valke.
Toegang is R15 (week-pakket is R60). Skoliere betaal R5 (pakketprys R20).Vir navrae, skakel Piet Bergh by 873-2317 of 082-563-4155, of besoek www.bolandrugby.com.
* The Craven Week tournament starts in Wellington on Monday. |