|
'n BERGSTROOM wat hierdie somer bedags kurkdroog was, vloei weer sterk vandat 'n wattelbos verlede week teen Groenberg by Wellington uitgekap is.
Die eienaars van die plaas Foxenburg, Jan en Marianne Hemmes, het tydens die hittevlaag verlede maand besef hulle moet professionele hulp kry om hul watervoorraad te red.
Saam in die verknorsing was nog twee plase, Boplaas en 'n ander Foxenburg, wat uit dieselfde stroom bedien word.
Barry Stander, indringerdeskundige van Wellington, het die 1,8km lange kloof besoek en besef die digte bos wattelbome is verantwoordelik vir die waterskaarste.
Navorsing toon dat een volgroeide swart wattelboom tot 100 liter water per dag opslurp. Die volume water wat opgesuig word, is selfs hoër in die geval van die bloekom, wat deur die groter blare nog meer transpireer.
"Die water kom uiteindelik weer terug aarde toe, maar intussen droog die grond om die bome uit," sê plantkenner Sieg Kröger van Wellington.
Stander, sy twee seuns Paul en Jaco, en 'n span van 20 man het 'n week lank met kragsae en kapmesse die kloof al met die stroom langs skoongemaak.
Die bome is afgesaag en afgekap en die stompe met omgewingsvriendelike stowwe vergiftig.
"Teen die einde van die week het die water weer verskyn, en nou vloei dit dwarsdeur die dag en nag," sê Stander.
"Maar dit is net die begin. Dis die opvolg wat uiters belangrik is, anders mors jy net jou tyd en jou geld.
"En brand die berg, kom die wattel en die bloekom soos hare op 'n hond se rug op."
Kröger en Dries Strydom van die Paarl was altwee voorheen by natuurbewaring. Hulle is verlede jaar deur die departement Landbou aangestel as indringerinspekteurs in die Boland munisipale area.
Hulle besoek vrywillig probleemareas en waarsku grondeienaars oor die indringerplante waarvan hulle moet ontslae raak.
Strydom vertel die Zulu naam vir die bloekomboom is Puza Manzi (wat "hy drink water" beteken).
"Die blare van een volgroeide boom beskik oor 'n massiewe oppervlakte waardeur transpirasie deur die dag plaasvind," sê Strydom.
Verskillende saaddraendes veroorsaak probleme, veral aan die beskikbare watervoorraad.
In Groenberg en Bainskloof is dit veral die wattel, bloekom en hakea, terwyl die Paarlberg veral 'n probleem met dennebome en Port Jackson ondervind.
In Dutoitskloof is daar reeds groot vordering gemaak deur die staatsondersteunde Werk vir Water projek se werkspanne wat indringerplante uitkap.
Die spanne werk egter so wyd, dat die uiters noodsaaklike opvolgaksies agterweë bly, het Strydom gesê.
Die wattel se saad word nie deur die wind versprei nie, maar dit val om die bome en spoel teen die berg af. Dit is 'n groot probleem langs waterstrome.
Die denne en hakea se saad het vlerkies en word tot hoog teen die kruine opgedra.
"Dit kan duisende rande kos as die probleem groot is. As inspekteurs wil ons die besoeke gebruik as 'n opvoedingsproses. Ons kan tog nie die private persoon met 'n sweep aanvat terwyl die staat met groot gronde vol indringerplante sit nie."
Behalwe vir 'n strook staatsgrond op die kruin van Groenberg, behoort die grond teen die berghange meestal aan boere met plase aan die voet van die berg.
"Dit is so dig en so erg dat ons dalk net met 'n helikopter uit die lug die indringerplantegroei sal kan doodspuit," het 'n boer opgemerk. "Maar eers sal konsensus bereik moet word."
Die Vriende van Bainskloof vergader op 26 Mei op Wellington waartydens belangstellendes en grondeienaars welkom is om met beamptes van bosbou, natuurbewaring, plantbou en Drakenstein Munisipaliteit te praat. Navrae kan gerig word aan Kröger by 082-745-9810.
Terwyl die veldtog aan die gang is om van indringer-bloekombome ontslae te raak, het die Departement Landbou gewaarsku dat byeboerdery en die bestuiwing van boorde skade ly met die uitkapping van bloekomwoude.
Daar is ook kommer oor die brandgevaar van dennebome teen Paarlberg.
Die dennebos bokant Hoër Meisieskool Paarl behoort aan die Onderwysdepartement oorgedra, wat moet sorg vir vuurbane en om indringerplante te verwyder.
Nie net fynbos nie, maar ook Port Jacksons en wattelbome, het teen die Paarlberg opgeslaan ná die brand verlede jaar. Die Munisipaliteit het reeds kwotasies aangevra om die indringers uit te roei in hierdie gebied.
* After a dense forest of black wattle trees was removed on Groenberg, Wellington, a dry steam started flowing again. |