|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
HIERMEE wil ek die geregsdienaars van die Paarl, en veral die betrokke verkeersbeampte, gelukwens met die optrede die aand toe die burgemeester vir 'n verkeersoortreding aangekeer is (Paarl Post 27/3). 'n Mens hoor en lees so baie dat veral verkeersbeamptes nie na wense sou optree nie, en hier sien ons dat 'n oortreder, ongeag sy status, aangeskryf word. So moet dit wees. 'n Oortreding bly 'n verbreking van die wet, of die betrokke motorbestuurder nou die burgemeester, 'n vriend of 'n onbekende is. Ek hoop die verkeersman kry 'n pluimpie van die stadsraad. Hy, en die hele departement, verdien dit. Reg so |
|
|
|
|
NA aanleiding van die Paarl Post op 27 Maart, waarin berig is oor die Paarlse burgemeester wat vir dronkbestuur in hegtenis geneem is, wil ek net die volgende as Bybelversie in die koerant voorstel (uit Predikers 10 vers 17): "Dit gaan goed met die land waar die amptenare op die regte tyd feesvier met selfbeheersing en nie met drinkery nie." Paarliet |
|
|
|
|
EK het onlangs die nuus gehoor dat die President oorweeg om 'n Adjunk Minister van MIV/Vigs aan te stel. Dit is natuurlik wonderlike nuus. Sover ek weet het nog net enkele Afrikalande, waaronder die Ivoorkus, 'n minister vir Vigs. Europa, die Weste en selfs Latyns Amerika is ons ver vooruit wat kliniese studies en die waarde daarvan betref. Mense is nie proefkonyne nie, maar gee ingeligte, skriftelike toestemming as hulle aan 'n studie deelneem. Kliniese studies kan tot voordeel wees van die pasiënt (hy/sy word beter gevolg, die dokter hou beter dossiers by) sowel as tot voordeel van die dokter of instelling (wat die nodige toestelle en apparatuur sal kry). Al die NGO's wat besig is met Miv/Vigsprobleme moet gekoördineer word. Die befondsing moet bekyk en beter bestuur word. Die tradisionele genesers moet begelei en opgelei word. Die verskillende departemente (Gesondheid, Onderwys, Sosiale Dienste, Behuising) kan eindelik dan konsentreer op ander belangrike dienslewering as op MIV/Vigs. Hospitale, oorplantingseenhede en verpleegstersproblematiek kan dan eindelik weer die aandag geniet van die Minister van Gesondheid, wat nou net besig is met Miv/Vigs hofsake. Dr Audrey van Zyl |
|
|
|
|
DIE Paarl is sowaar die enigste dorp in die land wat parkering in die middedorp vir motors minders maak en so desnoods die "Koop Plaaslik" ideaal drasties die nek inslaan. Waar Boland Bank reeds maande lank ongerief veroorsaak aan voetgangers op die hoek van Hoof- en Lady Greystraat, is motoriste nou ses parkeerplekke ontneem, wat darem 'n opsie was as Jan Phillips plein Saterdae en voor Kersfees onbruikbaar was. Gaan die paar staanplekke om die ou OK nou ook in die slag bly? In 'n dorp die grootte van Paarl sonder publieke vervoer, verwag 'n mens dat die munisipale beplanner die feite in ag sal neem dat motorverkeer desnoods moet toeneem en daarvoor voorsiening maak. Wil hul hê die middedorp se besighede moet geheel en al doodgaan? Hulle is klaar halfpad daar. "To Let" borde is volop. Bekommerd Philip Wessels, besturende direkteur van BoE Bank, reageer: Een van die aspekte waaroor Paarl gekritiseer word is dat die dorp nie veel doen om die middedorp te verfraai soos dit op Stellenbosch die geval is nie. Aangesien die plaaslike owerheid se finansies hom dwing (en tereg so in my opinie) om geld op meer noodsaaklike aspekte van die minder bevoorregte gemeenskap te bestee, glo ek dat daar dus 'n plig op die sakegemeenskap is om sy deel tot voordeel van Paarl by te dra. By BoE Bank het ons gevoel dat ons in hierdie verband graag die sypaadjie voor die Hoofkantoor wil verfraai met groenigheid, plante en 'n beter ingang vir die Bank wat tog net kan gebeur as daar 'n wyer sypaadjie is. Hierdie veranderinge wat die nuwe bome, plante en plaveisel insluit het ons op ons eie koste aangegaan, wat ons voel is tot voordeel van die Paarl. Daar is soveel wat die Paarl aanbied, en een van die aspekte waar die sakegemeenskap 'n rol kan speel is om hand in eie sak te steek om toeriste te lok en so meer werksgeleenthede te skep en eiendomspryse te laat styg. Dit kan net gebeur as die middedorp dieselfde aantrekkingskrag het as plekke soos Stellenbosch en Franschhoek. Miskien is ons bydrae klein, maar as almal in die Paarl iets soortgelyk doen, sal dit tot die dorp se voordeel wees. Vir ons by BoE Bank is dit jammer dat ons konstant gekritiseer word as ons 'n positiewe bydra tot Paarl lewer. Enige verdere beleggings in Paarl deur ons sal dus baie krities oorweeg word. |
|
|
|||||||||||||
|
DIE nuwe Suid-Afrika is ná agt jaar lankal nie meer in sy kinderskoene nie. Tog is daar nog steeds mense wat nie deel in die vreugdes van die nuwe bedeling nie. Een van die groepe wat nog op die randjie van die demokrasie huiwer, is ons plaaswerkers. Dikwels geïsoleerd weens afstande, maar meer dikwels weens 'n gebrek aan boekgeleerdheid, is die lot van hierdie belangrike komponent van ons landbousektor dikwels 'n geslote boek vir die groter gemeenskap. Die teendeel is natuurlik ook waar en daar is net soveel onbesonge verhale van voorspoed en vooruitgang op plase waar werkgewers hulle heelhartig agter die demokrasie geskaar het. 'n Mens word egter telkens in jou spore tot stilstand geruk wanneer stories van misbruik op die tafel beland, soos nou weer in die Paarl gebeur het waar 'n hele plaasgemeenskap sonder inkomste gelaat is. Dit is teen hierdie agtergrond dat die aanstelling van Herman Bailey as arbeidskonsultant vir die Wes-Kaapse Minister van Landbou verwelkom moet word. Met sy lang verbintenis met Landelike Stigting en grondige kennis van armoede in plattelandse gebiede, behoort hy 'n wesentlike bydrae te kan maak om hierdie agtergeblewe groep ook te demokratiseer. |
||||||
|
||||||