safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday 4 April 2002

uitlefstreep

This site will be updated on: 11 April 2002

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Sport


wvat14GEEN KEER. Ricardo Cornelissen van Windmeul United stamp hier vir Gaby Petersen van Laer Paarl af in die eindstryd van die Paasrugbytoernooi wat deur Young Gardens aangebied is. Foto: Susan Botha


Boland soek sege

[ Top ]


"DIT is beslis 'n grote. Ek dink die manne besef dat as ons Saterdag vyf punte kan kry, dan neem ons redelik baie punte deur na die Top Agt kompetisie."

So sê Jerome Paarwater oor Boland se wedstryd Saterdag teen die Vrystaat Cheetahs op Boland Park, Wellington.

Die Kavaliers sal weer graag as oorwinnaars van die veld stap ná hul gelykop uitslag teen die Natal Wildebeeste verlede Donderdag en die groot nederlaag teen die Olifante die vorige week.

"Ons kan net onsself blameer vir wat teen die Olifante gebeur het, maar teen die Wildebeeste was ons ongelukkig om nie te wen nie. Ons was ongelukkig oor 'n paar beslissings soos die drie van Cassie Carstens in die eerste helfte wat nie toegeken is nie," het Paarwater gesê.

Die Cheetahs lê tans derde op die Vodacom punteleer met 19 punte en sal graag hul posisie wil verbeter. Die Vrystaters sal dus net so hard op soek wees na volpunte en sal verseker met volle silinders die Wynboere (wat tans 13 punte het) op hul tuisveld kom aanvat.

"Een van hul groot gevaarmanne is sekerlik hul losskakel, Kennedy Cimba. Ek dink hy is 'n onderskatte speler en kan dinge vir ons baie moeilik maak in sowel die binneveld as met sy taktiese skoppe.

"Hulle is 'n goed gebalanseerde span wat ook genoeg krag voorlangs het. Ons het egter teen die Wildebeeste voorlangs oorheers en ek verwag dit is daar waar ons die knoop sal moet deurhak," het Paarwater die belangrike punte van Saterdag se wedstryd uitgewys.

Hannes de Kock keer terug na flank, nadat hy van sy nekbesering herstel het. Chris Potgieter sal vir hom moet plek maak.

Enrico January, wat die seisoen as plaasvervanger skrumskakel 'n vonkprop in die Kavalierspan was, speel tans vir die SA o.21 span. Sy plek word egter ingeneem deur die ervare Neill Papier wat in 2001 gereeld vir Boland op die reserwebank beskikbaar was.

"Dit sal Saterdag harde, mooi rugby wees. Met altwee spanne wat met maksimum punte na die Super Agt wil deurgaan, sal die spelers hard probeer om die vier drieë vir hul span te druk.

"As ons boonop die ondersteuning van 'n groot tuisskare agter ons kan hê, sal die dinge mooi in plek val," het Paarwater gesê.

Die Bolandse breier is veronderstel om hom Sondag by die Stormers wat tans in Australasië toer, aan te sluit.

"Ek sal nog sien of ek Sondag vertrek - ek sal graag 'n tyd langer by die span wil bly. My eerste prioriteit is steeds Boland," het hy gesê.

Die wedstryd begin om 15:00.


SA vroue toon krieket-potensiaal

[ Top ]


"DIT is vir ons 'n heel nuwe ondervinding, maar ek glo as ons in meer sulke wedstryde speel sal ons beter vaar."

Dit was die kommentaar van Cindy Eksteen, kaptein van die SA vrouekrieketspan, haar span om oorlewing geveg in die laaste dag van hul eerste kriekettoets ooit.SA het van 19 tot 22 Maart teen Indië te staan gekom in 'n vierdagtoets wat in Paarl gespeel is.

Die Indiese kolwers was nie skaam om met hul toetsondervinding te spog nie en het hul eerste beurt op 404/9 afgesluit nadat hulle met teetyd op die tweede dag van die vierdagtoets verklaar het. Vyf kolwers het vyftig lopies of meer aangeteken.

Suid-Afrika kon slegs met 'n skamele 150 lopies antwoord.

"Ons het nie 'n hoog genoeg prys op ons paaltjies gestel nie. Dit was nie soseer goeie boulwerk deur Indië nie, maar eerder ons wat na elke bal gespeel het. Maar ons wys nou goeie veggees," het Eksteen gesê terwyl Sunette Viljoen (71) en Denise Reid (36) besig was om 'n stewige sesde paaltjievennootskap van 69 in SA se opvolgbeurt op te bou.

Volgens Eksteen was haar span se boulwerk ook nie op standaard.

"Dit is 'n goeie blad wat redelik wip verskaf aan die snelbouelers. Ons het nie altyd die bal op die regte plekke geboul nie. Maar hulle kolwers is goed, mens kan sien hulle weet hoe om dié tipe wedstryde te speel," het sy die verskille in ervaring tussen die twee spanne uitgewys.

Die Indiese vroue net soos hul manlike eweknieë maak ook seker dat elke kolwer pynlik bewus is van hul teenwoordigheid op die veld.

"As jy teen die draaiboulers te staan kom, staan die veldwerkers jou omtrent toe. Jy is bang jy slaan hulle raak en speel dus nie jou houe voluit nie.

"Hulle praat ook hard met mekaar om jou konsentrasie te verbreek en die enkeles wat Engels kan praat, koer oor hoe hulle jou gaan uitkry.

"Dit is hoekom Sunette (Viljoen) nou so goed doen. Sy het ingegaan en haar houe gespeel en hulle het later vir haar meer ruimte gegee," sê Eksteen.

Nadat reën 'n groot rol gespeel het in die eendagreeks, wat SA 2-1 gewen het, was die Paarl se warm weer 'n welkome verandering.

"Die hitte op die veld is erg, by tye wens jy dat dit wil reën," skerts die SA kaptein.

SA het voortgekolf en is op 266 uitgeboul wat hul 'n voorsprong van 12 gegee het. Alison Hodgkinson se 77 het ook 'n groot bydrae gelewer in die Suid-Afrikaners se terugvegpoging.

Die Indiese aanvangspaar M Raj en A Chopra het net 9 balle nodig gehad om die toets te beklink.


Paarl klub oorheers hengelstryd

[ Top ]


DIE Paarl Kushengelklub het die Boland Kushengel se agtste ligabyeenkoms gewen wat op 23 Maart op Struisbaai gehou is.

Jonathan Scott wat in Paarl se A2 span hengel, het die dag loshande gewen met sy swartpylstert wat 'n almintige 117kg geweeg het. Die haai het hom omtrent 90 minute besig gehou.

Ander Paarl hengelaars wat ook goed presteer het, was Chris Uys en Morné Esterhuizen.

Nog 'n lid wat die klub se naam hoog hou, is Arno Dames wat by die onlangse Nasionale Kampioenskappe in die Springbok span opgeneem is. Die SA span hengel eersdaags in Namibië teen die land se nasionale span. Dames is die eerste Paarl hengelaar wat dié prestasie behaal.

Die hengelklub vergader weer op 23 April by Laerskool Noord-Eind se sportsaal. Belangstellendes is welkom. Vir navrae, skakel Hennie Slabber by 872-6610.


Rugbyseisoen skop af

[ Top ]


DIE Paarl Rangers Rugbyklub het Saterdag naelskraap die Paasrugbytoernooi op Wesbank, Malmesbury verloor.

Die eerste, tweede en derde spanne van die onderskeie klubs het tydens die toernooi in 'n rondomtalie-kompetisie teen mekaar gespeel. Die algehele wenner is bepaal deur die punte bymekaar te tel wat die spanne in elke wedstryd aanteken.

Hoewel Rangers A die uiteindelike wenners, Strand United, met 15-7 geklop het, was die Paarlse klub se puntetotaal vir die toernooi twee minder as dié van Strand.

Die puntemakers vir Rangers A in sy wedstryd teen Strand United was Marshall Lategan en Carlo Carollissen, elk met 'n drie, terwyl skrumskakel Mark Adams met 'n doelskop en strafdoel geslaag het.

United se drie is gedruk deur Sedieck Alexander en verdoel deur Heinrich Briesies.

Albions het ook goed vertoon in sy wedstryd teen Kylemore, deur vier drieë te druk.

Onder die voorspelers was dit die stut, Ronnie Lottering, wat uitgeblink het. Die vleuels van beide spanne het genoeg van die bal gesien om mooi hardloop-rugby te verseker. Teen rustyd was Albions 10-13 agter, maar hulle wen die wedstryd 22-20.

Elrico Pietersen (2), Januto Isaacs en Fadel Moerat het vir Albions gedruk, terwyl Lincoln du Preez met 'n doelskop geslaag het.

Albions II het Sir Lowrians 31-14 gewen, terwyl die derde span deur Strand United verneder is, met 'n loesing van 43-7.

Young Gardens Paastoernooi

In 'n volgepakte Gardens Park het Laer Paarl A Saterdag met aanskoulike hardlooprugby vir Windmeul United A laat les opsê in die eindstryd van Young Gardens se Paastoernooi.

Laer Paarl se 13-9 oorwinning het hulle die prysgeld van R1500 besorg.

Die gasheerklub het Riverstones 12-3 geklop vir die derde plek.

In die B-afdeling het Laer Paarl weer met die prysgeld weggestap toe hulle vir Windmeul United met 10-6 geklop het. Riverstones het Gardens met 12-3 geklop vir die derde plek.

Denwil Demas van Windmeul United is as speler van die toernooi aangewys. Dié klub se B-span het ook met die trofeë weggestap as die span wat die meeste drieë gedruk het.

Ander uitslae van die wedstryde wat Saterdag gespeel is, is: Windmeul t Gardens 15-14, Laer Paarl t Riverstones 13-7, Windmeul t Gardens 30-19, Laer Paarl t Riverstones 13-5.

Eerste ligawedstryde

Die Westelike Provinsie Rugby- Voetbalunie se eerste ligawedstryde word Saterdag gespeel.

Die twee top Paarlse klubs Young Gardens en Young Peoples speel Saterdag in 'n Premier A-liga wedstryd op Gardens Park om 13:30.

Peoples is tot dusver onoorwonne en draf as gunsteling op die veld.

Die Tiere se agterspelers, veral Jaques Lategan (vleuel) en Giezler Sitzer (senter), is tans goed op dreef, en sal Gardens se verdediging kwaai toets.

Gardens is egter voorlangs sterker, en veral die stut, Jeremy September, sal met sy stormram-lopies die Peoples-manne op die agtervoet wil dwing. Die hoofwedstryd begin om 16:00.

Peoples hou ná die wedstryd 'n geselligheid by Jeff's Pub. Alle spelers en ondersteuners is welkom.

In hul eerste wedstryd kom Paarl Rangers teen Lagunya te staan op Daljosafat Stadion.

Albions speel weg teen Polisie. Die bus vertrek om 11:00 vanaf die Groenheuwel Kafee. Wedstryde begin om 13:35.

Violets speel weg teen Mountain Rocks op Franschhoek. Die bus vertrek om 11:00 vanaf Groenheuwel Garage en is R10 per speler.

Paarl Rugbyklub speel tuis op die Faurestraat veld teen Hamediehs. Spel begin om 13:35 en die hoofwedstryd om 16:00.

Ander wedstryde is: Laer Paarl tuis teen Allandale, Young Standards weg teen Eersterivier, Riverstones tuis teen Blue Stars, Korrektiewe Dienste weg teen Silvertree, Windmeul United tuis teen Raithby, Vineyards weg teen Atlantis en Franschhoek weg teen Kylemore. In die o.21-afdeling speel Paarl A weg teen SK Walmers A, Paarl B weg teen Kraaifontein B en Blue Stars A weg teen Hamiltons A.   


Gim vier eeu van sportsukses

[ Top ]


TER viering van 'n honderd jaar se georganiseerde sport by die Hoërskool Gimnasium, het die skool verlede week 'n glansryke dinee gehou waartydens hulde gebring is aan die Springbokke wat die skool tot dusver opgelewer het.

Gim het in die afgelope eeu 75 atlete opgelewer wat hul land in 22 verskillende sportsoorte verteenwoordig het.

Die grootste groep van 27 is die manne wat met die Groen en Goud op die rugbyveld gedraf het. Onder hulle tel legendes soos wyle Jan "Bull" Pickard, Hugo van Zyl en Wynand Mans.

Rugbybokke wat die aand bygewoon het was Pieter en Chris Rossouw, Marius Joubert, De Wet Barry, Jean de Villiers (Bokke-sewes), Marius Schoeman (Bokke-sewes), Mornay Visser, Schalk Burger en Kobus Burger.

Benewens rugby is atletiek en hokkie die  sportsoorte waarin die meeste Gim-Bokke uitgeblink het.

Aneen de Jager, een van die sewe dames Gim-Bokke, is die eerste vroue-Springbok wat Gim opgelewer het. Dié middelafstandatleet het in 1978 haar kleure verwerf in die 800m en 1500m.

Op die hokkieveld was wyle Bennie Liebenberg (snr) een van Gim se bekendste hokkie Springbokke van 1967 tot 1973. Saam met sy seun Bennie junior wat in 1987 sy kleure in hokkie verwerf, is hulle die enigste pa/seun kombinasie wat die skool nog opgelewer het.

Nog 'n speler wat ook diep spore op die internasionale hokkieveld getrap het, is Elwan Liebenberg wat van 1963 tot 1974 SA verteenwoordig het.

Van die ander sportsoorte waarin oud-Gimmies uitgeblink het, strek van skopboks en fietsry tot yshokkie en motorsport.

Die aand se ere-gas was JC van der Westhuizen (96), die oudste lewende Gimmie en Springbok, wat van 1928 tot 1931 Suid-Afrika op die rugbyveld verteenwoordig het.

Morné du Plessis, oudrugbykaptein van WP en die Springbokke, het as spreker opgetree.

"'Excellence' is om mense meer te gee as wat hulle verwag het. Maar hoe meer jy vir hulle gee, hoe hoër word hul verwagtinge.

"Dit is egter duidelik dat Paarl Gimnasium, wat met soveel Springbokke spog, dit steeds regkry om aan die verwagtinge te voldoen," het Du Plessis die Gimmies se prestasies geloof.

Mildie Malan het namens Gimnasium 'n oorkonde aan die 39 aanwesige Gim-Bokke oorhandig.

Wynand Mans het namens die Springbokke die skool bedank vir die rol wat hy gespeel het in hulle sukses op die sportveld.

"'n Atleet se sukses is grootliks gegrond op die kritiek en die lof wat hy ontvang. As hy te veel geprys word en te hard op die rug geklap word, val hy op sy gesig en dan beteken hy niks nie.

"As hy te veel gekritiseer word en jy stamp hom te hard teen die bors, val hy op sy rug en hy beteken ook niks nie.

"Om 'n talentvolle sportman dus tot sy volle potensiaal te laat ontwikkel moet hy 'n balans van altwee kry," het Mans die milieu van Gim se sportopvoeding beskryf.

Die aand se verrigtinge is afgesluit van die aansteek deur 'n simboliese fakkel wat deur JC van der Westhuizen behartig is.


Boland wen eerste rondte

[ Top ]


DIE Boland spanne het in die eerste rondte van die Wes-Kaap Distrikte se interdistrikte-veerpylkompetisie gewys dat dit baie gaan kos om hulle te klop.

Die C-span het Noord-Boland met 10-1 verneder, terwyl die B-span 8-3 gewen het. Die A-span het in 'n spanningsvolle wedstryd naelskraap met 6-5 gewen.

In die damesafdeling het die A-span 5-2 gewen, met die B-span wat 2-4 verloor het.

In die A-afdeling van die Boland ligakompetisies is dit United, Magnolia en Independent Flyers wat die top van die punteleer beklee.

Dit is egter tussen eersgenoemde twee spanne wat in 'n titaniese stryd gewikkel is en 'n finaal tussen dié twee sal beslis spannend wees.

In die B-afdeling is Allandale ongetwyfeld te sterk vir sy teenstanders. Die span is tans onoorwonne met Cardinal en Mount View wat sake uitspook vir 'n moontlike tweede posisie.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za