|
SAGUS, 'n sentrum vir taal en kommunikasie aan die Universiteit van Stellenbosch, bied op 22 en 23 Julie 'n werkswinkel aan vir Effektiewe Korporatiewe Dokumente: Die leser as kliënt.
Alle korporatiewe dokumente word geskryf vir spesifieke lesers, hetsy kollegas, potensiële en bestaande kliënte, of bestuurspersoneel.
Dit is dus noodsaaklik dat jy, as skrywer van hierdie dokumente, weet wie jou lesers is en hulle in gedagte hou terwyl jy skryf.
Die meeste skrywers is egter geneig om uit hulle eie perspektief te skryf. Dit kan daartoe lei dat lesers nie die inhoud van die dokumente goed begryp nie, dat hulle voel die dokument is nie spesifiek vir hulle bedoel nie, of dat hulle behoeftes nie in ag geneem word nie.
Die werkswinkel is gerig op enige persoon wat binne 'n korporatiewe omgewing dokumente moet skryf of verwerk, onder andere inligtingsbeamptes, skakelbeamptes, taalpraktisyns, bemarkers en kopieskrywers.
Met korporatiewe dokumente word verwys na dokumente of kommunikasiemateriaal wat in die werkplek gegenereer word, byvoorbeeld bemarkingsmateriaal, voorleggings ("proposals"), verslae, elektroniese dokumente, interne briewe, memo's, ensovoorts.
Die koste beloop R1125 per persoon per werkswinkel.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is Maandag 15 Julie.
Inskrywingsvorms en meer inligting is beskikbaar op ons webwerf, by www.sun.ac.za/sagus/EffekDok.htm.
Vir meer inligting, of om 'n volledige inligtingspakket te ontvang, kontak Maretha Joyce by 808-2167, e-pos mjoyce@ sun.ac.za of faks 808-3815. |