safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday 4 July 2002

uitlefstreep

This site will be updated on: 11 July 2002 at 17:00

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Lifestyle - Leefstyl


Bloed is die band wat ons bind

[ Top ]


wbloed4TEN spyte van verskille tussen mense, is bloed die band wat ons saambind. Daarom is dit so belangrik om bloed te skenk.

Die WP Bloedoortappingsdiens, in samewerking met Simonsvlei Wynkelder, hou op Vrydag 12 Julie tussen 12:00 en 15:00 'n bloedskenkkliniek by Simonsvlei.

EK WIL GRAAG HELP. Melissa Thessnaar is 'n Paarlse bloedskenker. By haar is Claudette Cedras en suster Ann Slater  van die WP Bloedoortappingsdiens. Mense wat bloed wil skenk kan elke Donderdag van 13:00 tot 19:30 by die Bloeddiens se kantoor langs die Protea-bioskoop inloer.

Daar word 'n beroep gedoen op alle persone tussen die ouderdomme van 17 en 65, wat in goeie gesondheid verkeer, om bloed te skenk.

Die WP Bloedoortappingsdiens benodig sowat 140 000 eenhede bloed om aan die Provinsie se behoeftes te voorsien.

Die diversiteit van ons land en die uniekheid van ons skenkers kan nooit uit die oog verloor word nie, maar tussen al hierdie verskille en andersheid bly bloed die een ding wat ons almal in gemeen het.

Elke 56 dae vergader skenkers landwyd om die welwillendste daad te verrig en hulle eenheid lewensreddende vloeistof te skenk.

In die Paarl kan mense elke Donderdag van 13:00 tot 19:30 bloedskenk by die kliniek langs die Protea bioskoop in Hoofstraat.

Vrae

Hier is antwoorde op al jou vrae oor bloedskenk:

V. Hoeveel bloed gee 'n mens op 'n slag?

A. Ongeveer 480 ml.

V. Hoe gereeld kan ek bloed skenk?

A. Elke 56 dae.

V. Waarom prik hulle my vinger elke keer?

A. Hulle moet met elke skenking seker maak dat jy nie 'n tekort aan rooibloedselle het nie. Wanneer jy 'n tekort het, sal dit nadeelig wees om bloed te neem, omdat jy bloedarmoedig kan raak.

V. Waarom moet ek elke keer 'n vorm voltooi?

A. Deur 'n vorm in te vul en al die vrae oor jou gesondheid te beantwoord, word verseker dat jy nie per ongeluk enige inligting uitgelaat het nie. Inligting mag verander met tyd.

V. Waarom kan jy nie bloed skenk as jy griep het nie?

A. Jy behoort nie bloed te skenk as jy nie goed voel nie. Deur 'n bietjie siek te wees mag beteken dat iets in jou bloed aan die pasiënt oorgedra kan word. Jou gesondheid is baie belangrik en daarom is dit vir jou en die pasiënt meer voordelig om te skenk wanneer jy gesond is.

V. Ek het niks in die laaste vier ure geëet nie. Kan ek bloed skenk?

A. Deur nie te eet nie, verhoog jy jou kanse om flou te word en dit sal baie onwys wees om jou bloed te neem as jy nie 'n maaltyd in die laaste vier ure gehad het nie.

V. Kan ek MIV/Vigs of enige ander siekte kry deur bloed te skenk?

A. Jy kan nie MIV/Vigs of enige verwante siekte opdoen deur bloed te skenk nie. Alles, van die naald tot die bloedsakkie, word slegs een keer gebruik en dan verbrand.

V. Word die bloed na elke skenking getoets?

A. Ja, die bloed word nie net elke keer vir anti-MIV getoets nie, maar ook vir hepatitis. Jou bloedgroep word ook elke keer nagegaan.

V. Waarom word bloedskenkers nie betaal om bloed te skenk nie?

A. Vrywillige bloedskenking is 'n wêreldwye beleid en word deur die Wêreld Gesondheidsorganisasie onderskryf. Dit verseker dat mense vir altruïstiese redes en nie vir persoonlike gewin nie, bloed skenk nie, omdat dit die verkeerde tipe persoon sal lok.

V. Hoekom is dit belangrik om 'n veilige lewenstyl te lei?

A. 'n Persoon kan met MIV/Vigs besmet wees sonder om dit te weet. Alhoewel elke eenheid bloed vir oordraagbare siektes getoets word, bestaan daar 'n sogenaamde "vensterperiode" wanneer die MIV-virus wel in die bloed voorkom, maar nie met 'n toets waargeneem kan word nie. 'n Pasiënt wat hierdie bloed ontvang, kan geïnfekteer word met MIV/Vigs. As u dus bloed skenk nadat u deelgeneem het aan risikogedrag stel u die lewe van die pasiënt wat u bloed ontvang in gevaar.

Vir navrae, skakel Claudette Cedras by die WP Bloeddiens in die Paarl by 871-1030.


Fietsryers trap baie geld los

[ Top ]


DIE Paarl en Franschhoek Hospice is onder tien hospitiums en twee versorgingsoorde wat pas verneem het dat hulle saam 'n finansiële inspuiting van meer as 'n halfmiljoen rand gaan ontvang. Die fondse is gegenereer deur die Cycling Chums fondsinsamelingsprojek van Absa.

Twaalf werknemers van Absa het as 'n groep in Maart vanjaar binne agt dae 1000 km vanaf Port Elizabeth na Kaapstad fiets gery om geld vir die instansies in te samel.

Die fondse is bekom deur middel van skenkings deur individue en veral besighede om die fietstog te finansier en geld in te samel vir mense wat aan terminale siektes soos kanker en vigs lei, asook gestremdes.

Die skenkings aan die onderskeie hospitiums en versorgingsoorde in die Wes-Kaap en Oos-Kaap kom op 'n tyd wat die omvang van die toenemende aantal mense wat aan hierdie siektes ly, pandemiese vlakke bereik.

"Tesame met die feit dat die regering se skenkings jaarliks afneem, skep dit 'n dringende behoefte vir ondersteuning vanuit die korporatiewe en publieke omgewing.

"Daar is min families in Suid-Afrika wat nie deur kanker of vigs geaffekteer word nie en hierdie welsynsinstansies is afhanklik van donasies uit die private sektor," sê Suzanne Codd van Absa, voorsitter van die projek.

In totaal is R505 000 rand aan die welsynsinstansies geskenk.

Die allokering van die geld aan die onderskeie instansies is gebaseer op die donasies wat in die betrokke gebiede van besighede en die publiek ingesamel is.

Altesaam R463 000 is aan Wes-Kaapse instansies toegedeel, naamlik Breederivier Hospice (Robertson), Worcester Hospice, Paarl Hospice, Franschhoek Hospice, Stellenbosch Hospice, Helderberg Hospice (Somerset-Wes), Tygerberg Hospice, St Luke's Hospice (Kenilworth) en Woodside Toevlugsoord vir gestremde kinders in Kaapstad.


Koppie vir Kansa

[ Top ]


STOP en geniet 'n heerlike koppie tee of koffie - die beproefde resep om die gees te vernuwe, jou energievlakke op te stoot en jou sommer lekker warm te laat voel in die winter. Maar dit kan ook 'n lewe red.

Dit is die boodskap van die Kankervereniging van Suid Afrika (KANSA) se Koppie-vir-Kansa Projek. 

Fondse wat so ingesamel word, kan dit vir iemand moontlik maak om lewensnoodsaaklike behandeling te kry of verseker dat 'n pasiënt ondersteunende sorg in sy of haar eie huis ontvang.

Alles net omdat jy 'n koppie tee of koffie geniet het en 'n donasie van R2 of meer vir hierdie doel gegee het. 

Die Kankervereniging van Suid-Afrika het verlede jaar duisende rande ingesamel met die vriendelike Koppie vir Kansa projek wat landwyd plaasgevind het. 

Hulle hoop dat die inkomste uit die projek hierdie jaar veel groter sal wees danksy Shoprite Checkers wat ook pogings in alle takke landwyd gaan aanwend en ook gratis brosjures beskikbaar stel aan gasvroue wat graag 'n Koppie-vir-Kansa funksie wil hou. 

"Ons benodig hierdie jaar baie meer individue, maatskappye, skole en klubs om hul eie Koppie vir Kanker te hou," sê Liezne Kleinbooi, KANSA se fondsinsamelaar vir die Wynland streek. 

"Dit is baie eenvoudig: deur net jou vriende en kollegas uit te nooi vir 'n koppie tee of koffie en hulle te oorreed om 'n persoonlike bydrae te lewer tot die projek, kan die nodige fondse vir Kansa se noodsaaklike dienste ingesamel word. 

"Behalwe dat kankerpasiënte hierdeur gehelp word, raak duisende mense ook bewus van die metodes waardeur kanker voorkom kan word. 

"Elke jaar word 70 000 nuwe gevalle in Suid-Afrika aangemeld. Daarom moet jy betrokke raak."

Skakel die Kansa-kantoor op Wellington vir meer inligting by 864-2633.


Rooi lig vir geregsdienaars

[ Top ]


VANDAG gaan 1700 mense in Suid-Afrika met MIV/Vigs geïnfekteer word.

Dit is maar een van die skokfeite wat Marinda van Zyl van die Polisie se Maatskaplike Dienste Boland Vrydag by 'n werkwinkel vir stasiekommisarisse en beroespveiligheidsoffisiere in die Paarl genoem het.

Polisielede van so ver as Laaiplek, St Helenabaai en Laingsburg het die sessie bygewoon.

Van Zyl sê hulle het sowat 600 lede in 40 sessies voorligting gegee oor MIV/Vigs. Hier het hulle ook 'n behoefte geïdentifiseer om lede in te lig oor Hepatitis B.

Verlede week is die land geruk nadat 'n interne verslag wat die staatsdiens aangevra het, uitgelek het. Hiervolgens sal sowat 20% van alle staatsamptenare in die land teen 2005 MIV-positief wees.

Van Zyl het gesê daar kan aanvaar word dat die Polisiediens meer geraak word as die res van die staatsdiens. Daar is op die oomblik 'n geraamde 30 000 geïnfekteerde SAPD-lede.

"Vandag se sessie gaan oor 'n houdingsverandering, want daar kleef nog 'n stigma aan mense wat MIV-positief is."

Sy het aan die aanwesiges gesê een uit elke vier mense in die land is MIV-positief en dié getal groei elke jaar met 550 000.

Dit is 'n getal van 4,7 miljoen mense wat MIV-positief is, 11,6% van die totale bevolking van 40,6 miljoen.

Drie jaar gelede is daar al voorspel dat Suid-Afrika nog net vir 30 jaar genoeg plek vir grafte sal hê. In die Wes-Kaap is daar al 15 000 kinders wees as gevolg van die pandemie en dié kinders word nie maklik aangeneem nie weens stigmatisering. Wêreldwyd is daar sowat 8,2 miljoen Vigs-wesies.

Die ander siektetoestand wat bespreek is, is Hepatitis B (HBV) - 'n siekte wat inflammasie van die lewer veroorsaak.

Hepatitis B is 'n ernstige, potensieel lewensgevaarlike siekte wat honderd keer meer aansteeklik as die MIV/Vigs virus is.

HBV kom in byna alle liggaamsvloeistowe en -uitskeidings voor en daaglikse aktiwiteite bied geleenthede vir oordrag van die virus.

Van Zyl sê twee miljoen mense in die wêreld sterf jaarliks van dié virus.

Suid-Afrika het een van die hoogste persentasiekoerse van Hepatitis B ter wêreld, met sowat 10% van die bevolking wat geïnfekteer is. Sowat 14 000 Suid-Afrikaners sterf jaarliks hiervan. Die virus word versprei deur bloed of bloedprodukte, seksuele omgang en deur ander liggaamsvloeistowwe, soos speeksel, trane en semen.

Die simptome is koors, moegheid, seer spiere, buikpyn, naarheid en braking. Daarna volg geelsug met donkerkleurige urine en ligte stoelgang, seer gewrigte en jeukerige vel.

Mense wat aan risiko blootgestel is, soos gesondheidswerkers of polisielede, kan teen HBV ingeënt word. HBV-infeksie kan slegs ondersteunend behandel word.

* Polisielede in die Wes-Kaap het ook toegang tot 'n spesiale Vigshulplyn wat bedien word deur professionele maatskaplike werkers en sielkundiges. Die nommer is 073-237-9075.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za