|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
DIE Paarl en Franschhoek Hospice is onder tien hospitiums en twee versorgingsoorde wat pas verneem het dat hulle saam 'n finansiële inspuiting van meer as 'n halfmiljoen rand gaan ontvang. Die fondse is gegenereer deur die Cycling Chums fondsinsamelingsprojek van Absa. Twaalf werknemers van Absa het as 'n groep in Maart vanjaar binne agt dae 1000 km vanaf Port Elizabeth na Kaapstad fiets gery om geld vir die instansies in te samel. Die fondse is bekom deur middel van skenkings deur individue en veral besighede om die fietstog te finansier en geld in te samel vir mense wat aan terminale siektes soos kanker en vigs lei, asook gestremdes. Die skenkings aan die onderskeie hospitiums en versorgingsoorde in die Wes-Kaap en Oos-Kaap kom op 'n tyd wat die omvang van die toenemende aantal mense wat aan hierdie siektes ly, pandemiese vlakke bereik. "Tesame met die feit dat die regering se skenkings jaarliks afneem, skep dit 'n dringende behoefte vir ondersteuning vanuit die korporatiewe en publieke omgewing. "Daar is min families in Suid-Afrika wat nie deur kanker of vigs geaffekteer word nie en hierdie welsynsinstansies is afhanklik van donasies uit die private sektor," sê Suzanne Codd van Absa, voorsitter van die projek. In totaal is R505 000 rand aan die welsynsinstansies geskenk. Die allokering van die geld aan die onderskeie instansies is gebaseer op die donasies wat in die betrokke gebiede van besighede en die publiek ingesamel is. Altesaam R463 000 is aan Wes-Kaapse instansies toegedeel, naamlik Breederivier Hospice (Robertson), Worcester Hospice, Paarl Hospice, Franschhoek Hospice, Stellenbosch Hospice, Helderberg Hospice (Somerset-Wes), Tygerberg Hospice, St Luke's Hospice (Kenilworth) en Woodside Toevlugsoord vir gestremde kinders in Kaapstad. |
|
|
|
|
STOP en geniet 'n heerlike koppie tee of koffie - die beproefde resep om die gees te vernuwe, jou energievlakke op te stoot en jou sommer lekker warm te laat voel in die winter. Maar dit kan ook 'n lewe red. Dit is die boodskap van die Kankervereniging van Suid Afrika (KANSA) se Koppie-vir-Kansa Projek. Fondse wat so ingesamel word, kan dit vir iemand moontlik maak om lewensnoodsaaklike behandeling te kry of verseker dat 'n pasiënt ondersteunende sorg in sy of haar eie huis ontvang. Alles net omdat jy 'n koppie tee of koffie geniet het en 'n donasie van R2 of meer vir hierdie doel gegee het. Die Kankervereniging van Suid-Afrika het verlede jaar duisende rande ingesamel met die vriendelike Koppie vir Kansa projek wat landwyd plaasgevind het. Hulle hoop dat die inkomste uit die projek hierdie jaar veel groter sal wees danksy Shoprite Checkers wat ook pogings in alle takke landwyd gaan aanwend en ook gratis brosjures beskikbaar stel aan gasvroue wat graag 'n Koppie-vir-Kansa funksie wil hou. "Ons benodig hierdie jaar baie meer individue, maatskappye, skole en klubs om hul eie Koppie vir Kanker te hou," sê Liezne Kleinbooi, KANSA se fondsinsamelaar vir die Wynland streek. "Dit is baie eenvoudig: deur net jou vriende en kollegas uit te nooi vir 'n koppie tee of koffie en hulle te oorreed om 'n persoonlike bydrae te lewer tot die projek, kan die nodige fondse vir Kansa se noodsaaklike dienste ingesamel word. "Behalwe dat kankerpasiënte hierdeur gehelp word, raak duisende mense ook bewus van die metodes waardeur kanker voorkom kan word. "Elke jaar word 70 000 nuwe gevalle in Suid-Afrika aangemeld. Daarom moet jy betrokke raak." Skakel die Kansa-kantoor op Wellington vir meer inligting by 864-2633. |
|
|
|
|
VANDAG gaan 1700 mense in Suid-Afrika met MIV/Vigs geïnfekteer word. Dit is maar een van die skokfeite wat Marinda van Zyl van die Polisie se Maatskaplike Dienste Boland Vrydag by 'n werkwinkel vir stasiekommisarisse en beroespveiligheidsoffisiere in die Paarl genoem het. Polisielede van so ver as Laaiplek, St Helenabaai en Laingsburg het die sessie bygewoon. Van Zyl sê hulle het sowat 600 lede in 40 sessies voorligting gegee oor MIV/Vigs. Hier het hulle ook 'n behoefte geïdentifiseer om lede in te lig oor Hepatitis B. Verlede week is die land geruk nadat 'n interne verslag wat die staatsdiens aangevra het, uitgelek het. Hiervolgens sal sowat 20% van alle staatsamptenare in die land teen 2005 MIV-positief wees. Van Zyl het gesê daar kan aanvaar word dat die Polisiediens meer geraak word as die res van die staatsdiens. Daar is op die oomblik 'n geraamde 30 000 geïnfekteerde SAPD-lede. "Vandag se sessie gaan oor 'n houdingsverandering, want daar kleef nog 'n stigma aan mense wat MIV-positief is." Sy het aan die aanwesiges gesê een uit elke vier mense in die land is MIV-positief en dié getal groei elke jaar met 550 000. Dit is 'n getal van 4,7 miljoen mense wat MIV-positief is, 11,6% van die totale bevolking van 40,6 miljoen. Drie jaar gelede is daar al voorspel dat Suid-Afrika nog net vir 30 jaar genoeg plek vir grafte sal hê. In die Wes-Kaap is daar al 15 000 kinders wees as gevolg van die pandemie en dié kinders word nie maklik aangeneem nie weens stigmatisering. Wêreldwyd is daar sowat 8,2 miljoen Vigs-wesies. Die ander siektetoestand wat bespreek is, is Hepatitis B (HBV) - 'n siekte wat inflammasie van die lewer veroorsaak. Hepatitis B is 'n ernstige, potensieel lewensgevaarlike siekte wat honderd keer meer aansteeklik as die MIV/Vigs virus is. HBV kom in byna alle liggaamsvloeistowe en -uitskeidings voor en daaglikse aktiwiteite bied geleenthede vir oordrag van die virus. Van Zyl sê twee miljoen mense in die wêreld sterf jaarliks van dié virus. Suid-Afrika het een van die hoogste persentasiekoerse van Hepatitis B ter wêreld, met sowat 10% van die bevolking wat geïnfekteer is. Sowat 14 000 Suid-Afrikaners sterf jaarliks hiervan. Die virus word versprei deur bloed of bloedprodukte, seksuele omgang en deur ander liggaamsvloeistowwe, soos speeksel, trane en semen. Die simptome is koors, moegheid, seer spiere, buikpyn, naarheid en braking. Daarna volg geelsug met donkerkleurige urine en ligte stoelgang, seer gewrigte en jeukerige vel. Mense wat aan risiko blootgestel is, soos gesondheidswerkers of polisielede, kan teen HBV ingeënt word. HBV-infeksie kan slegs ondersteunend behandel word. * Polisielede in die Wes-Kaap het ook toegang tot 'n spesiale Vigshulplyn wat bedien word deur professionele maatskaplike werkers en sielkundiges. Die nommer is 073-237-9075. |
|||
|
|||