|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
DIE Boland netbalspan is reg om volgende week sy titel by die SA Nasionale Kampioenskappe in Kemptonpark te verdedig en afrigter Bennie Saayman het hierdie week die laaste afronding gedoen aan haar span. 'n Groot terugslag het die span getref nadat hul kaptein, Paarliet Thora van Zyl, verlede week moes onttrek weens 'n kniebesering wat sy opgedoen het tydens die Suidelike MTN netbaltoernooi verlede maand. Haar plek in die verdediging sal nou volgestaan word deur die nuweling in die A-span, Nicolene Wassenaar. Julene Meyer, oud-Protea, neem die leisels as kaptein oor met Nita van der Westhuizen wat as onderkaptein aangewys is. Die doelkombinasie van Van der Westhuizen en die Tornado-speler Sandra Conradie van die Paarl is egter gevestig en hulle sal saam met die Boland-veterane Leana Lourens en Dianthea Thyssen sekerlik die aanval sekuur afrond. Die sterkste kompetisie tydens die toernooi sal kom van verlede jaar se naaswenners, Gauteng-Noord, buurprovinsie WP, asook van die sterk span van Gauteng-Sentraal. Saayman is vol vertroue dat haar span goed sal doen, en die spelers van MTN Boland sal sekerlik met mag en mening die goue medajes jaag. |
|
|
|
|
DIE ontwikkeling van gholf in die Boland beleef 'n bloeitydperk, danksy die SA Gholfontwikkelingsraad (SAGOR) en die onuitputlike entoesiasme van 'n fanatiese gholfliefhebber. Die Sanlam Junior Ontwikkelingstoernooi is Maandag by die Mowbray Gholfklub gespeel. Onder die jong spelers wat onlangs na die intermediêre vlak van SAGOR se ontwikkelingprogram opgegradeer is, en aan die toernooi deelgeneem het, is Jacques Julies (16), Imtiyaaz Farao (12), Jacques Williams (13) en Clayton Julies (12), almal van die Paarl. Al vier dié spelers is onder hande geneem deur Isaac Mahoney. Dié gholfentoesias besoek tans tien laerskole in die Paarl waar hy nuwe talent identifiseer en ontwikkel. Isaac se twee seuns, Mark en Trevor, is ook reeds gekonfyt in die sport, met Mark wat die Boland al ses jaar agtereenvolgens verteenwoordig het terwyl Trevor vanjaar vir die tweede keer in die o.14 Boland span opgeneem is. Kyk 'n mens net na sy agterplaas, besef jy hoeveel tyd en moeite Mahoney insit om gholf onder die jong klomp te bevorder. "Hulle kan reg rondom die huis oefen. Ek het oral putjies ingesit. Hulle kan van 'n 5m sethou tot 'n 45m kaphou hier oefen," sê Mahoney. En oefen, dit doen sy spelers sonder ophou. Selfs die gietende reën kon Vrydag nie die vier spelers se oefening vir Maandag se toernooi van stryk bring nie. Dié spelers het die afgelope twee maande aan die PG Challenge deelgeneem waar hulle teen ander talentvolle spelers van die Boland en WP te staan gekom het. "Die toernooi is op 'n mini-gholfbaan in die Strand gespeel, waar hulle geleer is hoe om op 'n baan te speel," sê Isaac. Maandag se toernooi was die tweede van vier soortgelyke toernooie wat in elk van die agt streke van die SAGOR gehou word. Dit was die jong klomp se eerste kennismaking met 'n volwaardige gholfbaan en het hul aanvoeling vir die spel tot die uiterste beproef. "Jacques Julies het goed gedoen en tweede geëindig in die B-afdeling. Hoewel die ander mannetjies gesukkel het, het hulle goeie ondervinding opgedoen deur hul eerste 18 putjie-toernooi op 'n volwaardige gholfbaan te speel," sê Mahoney. Op Somerset-Wes het Trevor ná die eerste twee dae se houespel oor 36 putjies deurgedring na die putjiespel. Oor die talent wat hy daagliks ontdek, is Mahoney verheug. "Ek is opgewonde oor die kinders wat ek kry en die natuurlike aanleg wat hulle het. Ewe skielik sien jy wat ons gemis het deur nie vroeër 'n ontwikkelingsprogram te begin nie. "Ek het ses kinders by elke skool geïdentifiseer, maar fokus nou op drie per skool wat ek in die vakansie wil skerp kry vir die somer." "Die dag as hier nie 'n gholfspeler by dié huis uitloop nie, dan is daar fout," sê Isaac met 'n glimlag. |
|
|
|
|
ONDANKS swak stelskopwerk en onoordeelkundige besluite ná strafskopbeslissings, het Franschhoek tog daarin geslaag om Young Standards Saterdag op 'n deurdrenkte Faurestraat Stadion 24-10 (10-0) te klop. Die besoekers het vir hulself 'n bonuspunt verseker deur vier drieë te druk aan die hand van Leon Boonzaaier (stut), Louvin Jacobs (vleuel) en die flanke Werner Groenewaldt en Errol Moos. Boonzaaier het met twee doelskoppe geslaag. Standards het op sy beurt weer heelwat strafskoppe afgestaan en ook gesukkel om besit te kry op hul lynstane. Daarmee saam moes die tuisspan se verdedigers ook bontstaan om Franschhoek se aanvalle in toom te hou. Die stut Hugh Arendse het vir die Paarliete uitgeblink en ook die span se enigste drie gedruk wat deur Enrico Davids verdoel is. Davids het ook met 'n strafskop geslaag. Albions het Saterdag weer stert tussen die bene die veld verlaat toe Primrose hulle met 14-3 op Daljosafat kafgedraf het. Die tuisspan is ook deur die nat weer gekortwiek met hardlooprugby wat grootliks beperk was. Daar was genoeg kanse vir Albions om die wedstryd in hul guns te swaai, maar 'n gebrek aan afronding het die poging gekelder. Die losskakel, John Stevens, het met 'n strafskop geslaag vir Albions. Die eerste span van Young Peoples het die eerste rondte van die Premier A-afdeling op 'n laagtepunt geëindig nadat Strand United op sy tuisveld die Paarliete met 24-17 laat les opsê het. Peoples wie se vertoning die seisoen 'n wipwaentjie-rit van onvoorspelbaarheid was, het Saterdag swak begin en was ná 20 minute reeds 19-0 agter. Kort voor rustyd het dinge vir die besoekers begin beter lyk, maar in die tweede helfte het hulle verder uitgesak en twee onderskep-drieë deur Strand het finaal hul doppie geklink. Jacques Lategan (2) en Justin Fortuin het vir Peoples gedruk en Sam Titus het een doelskop oorgeklits. Die Paarl Rugbyklub lyk gerat om volgende jaar sy plek in die Premier A-liga in te neem nadat al drie sy spanne ná die eerste rondte bo-aan die punteleer lê. Paarl wat nog onoorwonne is dié seisoen het die naweek in 'n wegwedstryd oortuigend met Langa afgereken. Langa het egter die Paarliete vinnig geruk deur in die eerste minuut te druk. Paarl het daarna die spel vasgemaak en teen rustyd 17-7 voorgeloop. Huntie Maass, Donald Horn, Brian Kramer 2, John Claassen 2 en John Fortuin 2 het drieë gedruk, terwyl Len Bester met ses doelskoppe en 'n strafskop Paarl A se 55-14 oorwinning verseker het. |
|
|
|
|
DIE WP sal sy Merietespan volgende week in die Paarl kom slyp wanneer die Streeptruie in 'n vriendskaplike wedstryd teen die Paarl Kilotreads-span te staan kom. Tydens 'n vergadering van afrigters wat Maandag gehou is, is Rudolf Paulse as afrigter van die Kilotreads span aangestel terwyl Colin Anderson die pos van spanbestuurder sal vul. Volgens Paulse wat ook 'n WP o.21 keurder is, sou hy eers gister by die onderskeie klubafrigters kon vasstel watter spelers van die aanvanklike span wat in Mei gekies, teen die Kwaggas kan uitdraf. "Ek weet dat Brendon Hendriks wat in die WP o.21 span opgeneem is, nie vir die span beskikbaar is nie. Maar ek sal moet hoor watter beserings en ander probleme daar nog is," het Paulse gesê. Ander spelers wat miskien nie vir die Kilotreads-span beskikbaar sal wees nie, is Len Bester, Huntie Maass (albei van Paarl) en Ju-Wayne Cyster van Albions. Al drie dié spelers is deel van die WP Meriete oefengroep. Die Kwaggas speel Saterdag proewe waarna 'n span gekies sal word wat op Woensdag 10 Julie om 19:30 by die Faurestraat stadion teen die Paarl Kilotreads-span sal speel. Toegang is R5 (R3 vir studente en gratis vir kinders o.12). Daar is 'n moontlikheid dat 'n o.16 of o.19 voorwedstryd ook gespeel sal word. Die voorlopige Kilotreads-groep is Marco Martin (Prl), Adlee Moerat (Vny), Roger Ruiters (Rng), Charles Booysen (Peo), Jacques Hendricks (Prl), Eugene Stevens (Vio) k, Lionel van Vuuren (Wnd), Hannes Douglas (Prl), John Claassen (Prl), Carlo Carolissen (Rng), Brian Williams (Peo), Gerswin Davids (L/Prl), Jan Abrahams (Rng), Johan Paulse (Peo), Adam Bombas (Rng), Bradman Arendse (Std), Andrew Wansinsi (BV), Giezler Sitzer (Peo), Ricardo Cornelissen (Wnd). |
|
||||