|
DIT was 'n eerste fees en ons is tevrede, sê Andrew Strauss, een van die organiseerders van die Oukraal Kunstefees wat die afgelope naweek in die Paarl plaasgevind het.
"Om 45 produksies van hoogstaande gehalte binne twee en 'n halwe dag op die planke te bring, het bloedsweet gekos," het Anneline Strauss bevestig.
Kunstenaars het gewissel van bekende name soos Valiant Swart, DNA Strings en Laurinda Hofmeyr tot plaaslike, opkomende sterre soos die Little Flames, Oliver Farmer en Suzanne Rentzke.
Altesame 3500 kaartjjies is oor die drie dae verkoop.
"Ons sou natuurlik graag meer mense daar wou gehad het, maar 'n mens kan mos nie iemand dwing om 'n fees by te woon nie," het Choppie Vorster, nog 'n organiseerder bygevoeg.
Die stalletjies was ietwat van 'n teleurstelling, het besoekers gemeen.
"Hierdie afdeling sal ons in die toekoms beslis uitbrei," het Riaan Marx gesê, "dan glo ek sal ons ook meer voete daar kry."
Andrew is baie filosofies oor die fees: "'n Mens moet met alles maar onder begin en ons het baie geleer.
"Ons sal byvoorbeeld in die toekoms weet om nie weer stalletjies so naby aan 'n konsert-area te sit nie, want dit het die gehoor gesteur."
Die span het sommer groot planne vir die toekoms: "Die fees kan net groter en beter word," sê Andrew.
Hulle praat van meer sale, meer kunstenaars en natuurlik groter gehore.
"Ons het vanjaar kunstenaars uitgenooi om deel te neem en veral die opkomende sterre was baie dankbaar vir die blootstelling," sê Choppie.
"Ons kan maar net vertrou dat daar volgende jaar nog meer sal kom."
* There are plans to expand the Oukraal Festival held in Paarl last weekend. |