|
DIE regerende ANC/NNP koalisie in die Drakenstein stadsraad het 'n wonderlike hulpmiddel uitgevind - 'n politieke towermatjie.
Eintlik het meeste van ons met dié droom grootgeword: 'n matjie waaronder die vullis vinnig gevee kan word as daar onverwags gaste opdaag.
Nou het dit waar geword vir ons stadsvaders en -moeders. En op die matjie staan: "Wetgewing gee ons die reg".
Onder die towermatjie beland sake soos die gewraakte aankoop van 23 skootrekenaars sonder tender, politieke aanstellings sonder om die poste te adverteer, die verlies aan deelname in raadsake deur raadslede wat nie in die "kabinet" dien nie en die blatante weiering om op lastige vrae van die opposisie te reageer.
Die kworum vir vergaderings van die Uitvoerende Burgemeesterskomitee is een van die tameletjies. Só moes 'n vergadering onlangs uitgestel word, al was daar tegnies 'n kworum.
Die rede? 'n Ooreenkoms tussen die ANC en NNP in die koalisie dat 'n kworum uit ewe veel lede van elke party (insluitend die burgemeester) sal bestaan.
André vd Spuy de Villiers (NNP) het beswaar gemaak en gesê daar is fout met 'n stelsel waar 'n vergadering afgestel kan word met soveel lede teenwoordig.
Die burgemeester het water op die vuur probeer gooi deur 'n versoek te rig dat lede van die komitee tog dié vergaderingsdatums as prioriteit moet hanteer.
Dit is egter duidelik dat daar 'n paar lelike krake in die koalisie begin toon. Al hoe meer resesse word aangevra in vergaderings wat reeds tot ounag toe gekoukus is, soos nou die dag weer met die aanstellings van personeel in die speaker se kantoor.
Daar was duidelike ontevredenheid onder NNP-geledere oor dié nuwe poste en vrae is gevra oor die prosedure wat gevolg is.
Hierop wou Bernardo Maralack (NNP) weet: "As die persone nie aangestel is nie, wat maak hulle in die speaker se kantoor en wie het hulle die reg gegee om munisipale eiendom (rekenaars) te gebruik?"
Speaker Kilion Cekiso het betoog dat "die wet" toelaat dat voltydse raadslede politieke aanstellings maak, sonder om normale prosedures te volg.
Die NNP het hierteen beswaar gemaak en gesê die speaker behoort buite die politiek te staan, veral aangesien die poste bedoel is om die beoogde nuwe wykskomitees te bedryf.
Uiteindelik is die debat verder gevoer in kamera en die enigste woord wat weer hieroor gerep is, was in die daaropvolgende notule waar dit sonder bespreking goedgekeur is.
Daar is ook barsies binne partyverband.
In die eerste debat oor die speaker-poste, het NNP-raadslid Bokkie Claasen die burgemeester oor die vingers getik.
"Ek het al telkemale vir u gesê, u het magte gekry en u moet dit gebruik. Hierdie fout hoort nie hier nie. Ek kan ook iemand van die huis af bring om hier te werk - dit is 'n verkeerde ding."
NNP-raadslede het al by vorige geleenthede die burgemeester daarvan beskuldig dat hy op die draad sit en nie kan standpunt inneem as die koalisie verskil nie.
Die groot gemor is onder die "deeltydse" raadslede wat staan en wag vir 'n korsie om van die voltydse "kabinet" (die burgemeesterskomitee) se tafel te val.
Met die nuwe stelsel van uitvoerende burgemeester en voltydse raadslede, het die ou staande komitees in onbruik geraak. Nuwe adviserende komitees is aangekondig, maar is nog nie tot uitvoer gebring nie.
Nou gaan die Burgemeesterskomitee maar voort om besluit te neem sonder enige insette van die komitees, want die wet laat die burgemeester toe om só te handel...
Die Raad vergader net een keer per kwartaal en die voorgestelde wykskomitees is ook nog net 'n gedagte op die horison. Raadslede mag wel die tweeweeklikse vergaderings van die burgemeesterskomitee bywoon, maar nie aan debatte deelneem nie.
Uit desperaatheid het die amptelike opposisie, die DA, hulle gewend tot die skryf van briewe na die komitee.
"Ons neem kennis," is die standaard reaksie wat in vergadering gegee word op die briewe, voordat daar, sonder enige kommentaar of reaksie, voortgegaan word met die agenda.
Die DA het die briewe ook na die Raad toe gestuur. Hier is hulle ingelig dat dit nie hanteer kan word nie, aangesien die meeste van die sake nog by die burgemeesterskomitee onder bespreking is.
Hierop het verskeie DA-raadslede asook die ACDP se André de Villiers frustrasie uitgespreek met die huidige situasie.
Rian Smuts (DA) wou weet "wat die ander 47 raadslede hier maak as ons geen deelname het nie. Niemand bespreek of leer iets hier nie, al wat gebeur, is Drakenstein se mense kry swaar."
De Villiers (ACDP) het gesê dit is onregverdig as 'n punt op die agenda is, maar geen bespreking word toegelaat nie.
Johan von Wielligh (DA) wou weet wat geword het van hulle versoek tot samesprekings met die burgemeester ten einde die DA se probleme oor die opposisie se posisie te bespreek.
Die burgemeester het beweer dat hy glad nie kennis dra van dié skrywe wat aan homself, die munisipale bestuurder en die speaker gerig is nie. Hy het belowe om die brief op te spoor en 'n gesprek te reël.
Daar is al meer kommer onder veral die regerende koalisie oor wat hulle vir kiesers moet sê.
"Ek is nie 'n rubberstempel nie," het 'n ANC-lid onlangs gesê en bygevoeg dat sy nie eens meer koukusvergaderings bywoon nie.
Nou vra 'n mens jouself onwillekeurig die vraag af, hoe demokraties is hierdie stelsel van ons nog? As wetgewing mense se gewetens vervang, is daar veel verskil tussen die huidige bedeling en die gehate Apartheidstelsel?
Was deel van die struggle nie reeds om mense wakker te skud en van hulle denkende, verantwoordelike mense te maak nie?
Maar ek gee graag die laaste gedagte aan Madiba: kan ons nie maar 'n les leer uit sy nederigheid en mensliewendheid nie en begin saamwerk oor al die grense heen wat ons skei nie? - Susan Botha |