|
DIE twee-kop skilpad van Newton wat vroeër vanjaar wêreldwyd opslae gemaak het, het onlangs op 'n traumatiese wyse gevrek.
Sowat 'n maand voordat sy foto in die National Geographic se kindertydskrif, National Geographic Kids, gepubliseer is, is die skilpad dood in sy hok aangetref.
"Dele van albei die koppe en gesigte was afgekou. As ek kyk na die gate in die grond dan vermoed ek dit was 'n rot," sê Noël Daniels, eienaar van dié rare en aardige diertjie.
Die skilpad het saam met sy boetie/sussie en nog vyf volwasse skilpaaie 'n hok met budgies, lovebirds en duiwe gedeel.
Volgens Daniels het hy die karkassie gevries en Natuurbewaring in kennis gestel van die skilpad se heengaan.
"Hulle het gesê hulle sal hom wil oopsny en sien hoe lyk hy van binne, maar het nou nog nie opgedaag nie," vertel Daniels.
Intussen het sy skoonma sowat 'n week gelede die vrieskas skoongemaak en Skillie het in die asblik beland om nooit weer gesien te word nie.
Hoewel tweekoppigheid - wat moontlik plaasvind weens abnormale selgroei of die saamgroei van embrio's - al in slange, akkedisse en koeie voorgekom het, was dit die eerste keer dat dit in 'n skilpad teëgekom is.
Volgens Daniels het die ander klein skilpad, wat uit dieselfde broeisel eiers gebore is as sy tweekop broer/suster, 'n week later spoorloos verdwyn.
"Ek kan nie sien waar hy kon uitgekom het nie. Hy kon ook nie in een van die rot- of molgate uitgekruip het nie, omdat ek dit alles toegegooi het," sê Daniels terwyl hy nou nog in die hoeke van die hok rondskrop.
Intussen het die twee skilpadwyfies reeds vyf nuwe eiers gelê.
"Ek wil nie sê ek het 'n teelprogram nie, maar die program lyk of dit werk," skerts Noël.
* A unique two-headed tortoise has died. |