safetop
uitleg2mouthpiece
ppostgothic
uitlefstreep

Thursday 5 February 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 13 February  2004 at 17:00

Nuus - News

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Vulliskrisis

Susan Botha

[ Top ]


VULLIS het Maandag in sekere woonbuurte in Drakenstein opgehoop, met die instelling van die nuwe, korter werkweek van veertig ure vir alle buite-werkers van die munisipaliteit.

Ontevrede inwoners het Paarl Post Maandag oorval met oproepe.

"Ek woon al 28 jaar in die Paarl en dit is die eerste keer dat my vullis nie verwyder word sonder dat ons vooraf kennis gekry het nie."

Die korter werksure volg na 'n ooreenkoms wat verlede jaar tussen die SA Plaaslike Owerheids Organisasie (Salga) en die twee plaaslike vakbonde, Imatu en Samwu, beding is.

Hiervolgens sal alle munisipale werkers voortaan veertig ure per week werk pleks van 45 uur.

Die nuwe reëlings sou van 1 Januarie geld, maar dit het eers Maandag in werking getree..

wdromFC

GROOT GEMORS. Carmen Schöneich van Hoofstraat, Paarl loer versigtig of haar vullisdromme ná 'n volle dag en nag se buite staan, darem leeggemaak is.

In Drakenstein beteken dit dat kantoorwerkers effens langer as gewoonlik agter hul lessenare gaan sit, terwyl buite-werkers se ure verkort.

Die nuwe munisipale ure is van 07:45 tot 17:00, met middagete van 12:45 tot 13:45. Vrydae sluit hulle reeds om 16:00.

Buite-werkers, wat onder meer verantwoordelik is vir vullisverwydering, het voorheen om 07:00 ingeval, en gewerk tot 16:30.

Die kantore was van 08:00 tot 16:30 oop, met middagete van 12:45 tot 14:00.

Terwyl die publiek nou die voordeel geniet van langer kantoorure om rekenings te betaal en ander munisipale sake te reël, het dit ingrypende implikasies vir dienslewering in die gemeenskap.

Soos nou met die vullisverwydering gebeur het, moet dieselfde hoeveelheid werk deur dieselfde mense en hulpbronne verrig word - in 'n korter tyd.

Die Munisipaliteit het die keuse om òf meer mense aan te stel, wat beteken meer voertuie vir vullisverwydering moet aangeskaf word, òf die bestaande mense moet oortyd werk teen aansienlike koste.

"Ter wille van dienslewering aan ons inwoners is daar, in oorleg met die twee unies, gereël dat vullisverwydering reeds om 07:00 daagliks begin," sê Jacques Carstens, munisipale bestuurder.

"Die betrokke werkers sal vir oortyd vergoed word.

"Ons vra om verskoning vir tydelike ongerief wat inwoners dalk verduur het."

Die oortyd-betaling sal nou van die begroting verhaal moet word, maar dit is nog nie duidelik watter bedrag betrokke is nie.

Oor die ongelukkigheid van kantoorwerkers wat nou skielik sowat drie ure per week langer moet werk teen dieselfde betaling, wou niemand kommentaar lewer nie.

Een inwoner het ook haar kommer uitgespreek oor die kakkerlak-plaag wat nou moontlik kan vererger.

"Ons het hierdie somer 'n behoorlike inval van kakkerlakke en elke minuut wat vullis langer rondstaan, gee hulle kans om verder aan te teel en uit te broei."

* Municipal refuse removal nearly ground to a halt this week after workers switched from a 45 hour week to 40 hours


'Potjiekos' op pote

Malané Bosman

[ Top ]


ELKE week word 'n bees uit die Agter-Paarl aangejaag na Mbekweni, en dis elke keer dieselfde veedief se spore, met 'n hond en twee helpers.

"Die helpers verander, maar die een spoor bly dieselfde," sê Tikkie Briers-Louw, die boer op wie veediewe verlede week met pistoolvuur losgebrand het.

Waar die Fries-os Woensdagnag op sy plaas Caledonville regoor Boland Landbouskool vasgekeer is, het dit gelyk asof skaap geslag is - die ene bloed.

Die omheiningsdraad is geknip en die hout-stutpale afgebreek om die os mak te slaan. Skerppunt-slagtersmesse is gebruik om hom in sy boude te steek sodat hy sou bly loop.

Sekuriteitsman Freek Diedericks  het opgemerk dat drade geknip is en hy en Briers-Louw het die spoor gevat tot in die Bergrivier, meer as 20km van die plaas.

Toe Briers-Louw om 02:00 'n flits tussen die digte bosse op die veediewe en die os in die rivierloop skyn, het die skote dadelik geklap.

Briers-Louw moes koes tussen die koeëls.

Die veediewe het die bebloede dier gelos en spoorloos verdwyn. Uit die rivier is dit net 200m tot in die digte plakkersgebied van Mbekweni.

"Die polisie help ons baie, en het al arrestasies gemaak, maar ons kan nie die diewe keer nie. Vandat die veediefstaleenheid ontbind is, is die lede met ervaring ook weg," sê Briers-Louw.

Hy verduidelik hoe die beesstelers om middernag toeslaan, en veral op 'n Woensdag- of Donderdagnag - vir die naweek se slag.

Een van die diewe loop voor met 'n draadknipper, en breek vir hulle 'n pad oop deur plaaskampe.

Van plase noordwes van die R44 word beeste meestal naby Nelson's Creek deur groot stormwaterpype onder die teerpad gedruk, en deur olyfboorde aangejaag tot by die Malmesbury-Wellington kruising waar die Noord-Agter-Paarlpad gekruis word.

In die omgewing van die plaas Breezy Hills, waar die Bergrivier op sy vlakste is, word die beeste deur die rivier gejaag.

Beeste uit Paardeberg, Windmeul en tot by die Durbanville afrit uit die Agter-Paarlpad, verdwyn na die potte van Mbekweni.

Boere in die Agter-Paarl wat nader aan die N1 geleë is, verloor hulle beeste aan Bloekombos.

"Hierdie week is dit 'n os van R2500, volgende week is dit 'n stoetkoei van R8000, en so gaan dit aan," sê Briers-Louw moedeloos.

Hy het verlede jaar 14 beeste verloor, en vanjaar is kampdrade  al vier keer geknip. Op die aanjaagpad kan tot 50 drade in een nag geknip word.

Frieskoeie is gewild onder veediewe, omdat hulle makliker gevang word as Brahmane.

Die  jong os het hy verlede week teruggekry, maar moes R500 aan veeartskoste betaal om die dier te red. Einde verlede jaar is 'n  dragtige koei uit die veld op Caledonville gesteel.

"Sy was na die ure se aanjaag so makgeslaan toe ons haar teen Mbekweni in die Bergrivier gekry het, dat ons haar aan 'n dun toutjie kon uitlei."

* Thieves are stealing and herding cattle from Agter-Paarl to Mbekweni.


Tiener in koma na botsing

[ Top ]


'n TIENER is in 'n koma nadat hy Saterdagnag in die Bovlei buite Wellington deur 'n motor raakgery is.

Jason Snell (17), huismaat van Richard Millar van Bainstraat 43, Wellington, was omstreeks 01:00 saam met vriende onderweg na die woning van sy moeder op die plaas Naby, toe 'n rooi motor in hom vasgeploeg het.

Hy is met ernstige beserings na die Tygerberg Hospitaal vervoer, waar hy aan 'n ventilator gekoppel is. Sy toestand is steeds kritiek.

'n Aanklag van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.

Nog 'n tienerseun is verlede week op 'n Wellingtonse sypaadjie raakgery, hierdie keer deur 'n jeugdige wat sonder rybewys bestuur het.

Jenneke Carelse (17) en twee vriende, Sandré Bruintjies en Gerswin Fielies, het om 21:45 op die sypaadjie in Gardeniastraat gesit toe die motor op hulle afgepeil het.

"My kind kon dood gewees het," het Jenneke se moeder hierdie week gesê.

Die seun herstel na 'n operasie van twee uur om sy skouerbeen te heg en versplinterde been te verwyder.

'n Sewentienjarige kan van roekelose en nalatige bestuur aangekla word.


'Ons is tevrede'

Leon Steenkamp

[ Top ]


DIE sportgrens-dispuut het 'n mylpaal bereik na jare se mislukte onderhandelinge en hofsake, noudat 'n konkrete ooreenkoms in plek is.

So sê Pieter Lourens, voorsitter van Boland Ussasa, nadat vier Paarlse laerskole ingestem het om al hul sport, insluitend rugby, in Boland te speel.

Die grense-kwessie woed al vir die afgelope tien jaar, omdat sekere skole wat hul sport in die Boland beoefen volgens die Boland Skolesport Assosiasie se grense, verplig word om volgens die grense van die Suid-Afrikaanse Rugby Voetbalunie (Sarvu) hul Cravenweek-rugby vir die Westelike Provinsie te speel.

Die skoolhoofde van laerskole WA Joubert, Gimnasium, Noord-Eind en Paarl Primêre Seunskool het onlangs 'n dringende vergadering met Boland Ussasa belê waar hulle besluit het om Boland Ussasa se grense volkome te eerbiedig.

Daarvolgens sal die skole se rugbyspelers proewe speel vir opname in die Boland Cravenweek-span en nie in die WP nie.

Die vergadering volg nadat leerders van dié skole deur Boland Ussasa verhoed is om aan Boland tennisproewe deel te neem en dit ook duidelik gemaak is dat hulle nie vir enige ander sportbyeenkomste in aanmerking sal kom nie.

Soortgelyke aksies teen leerders is oor die afgelope paar jaar gereeld geloods en het verlede jaar tot in die Kaapse Hooggeregshof gaan draai.

"Ons het ons verbind tot Boland Ussasa se grondwet en hul grense," het André Verhoog, hoof van Noord-Eind Dinsdag gesê.

Daar is in 2001 'n gesamentlik taakspan van Ussasa Nasionaal en Sarvu aangestel om die dispuut op te los, maar 'n verskil in interpretasie van die uitslag het steeds probleme veroorsaak.

"Ons wil nie meer in enige dispute betrokke wees nie en het besluit om nie gehoor te gee aan die oorkoepelende owerheid (Sarvu/Ussasa) nie, maar aan ons direkte owerheid, Boland Ussasa.

"Ons wou tien jaar lank hoër gesag volg, maar hulle toon nie gesag in die besluite wat hul neem nie en daarom het ons ons by Boland Ussasa geskaar.

"Boland Ussasa het gesê dat hulle vir ons sal baklei. Hulle het gesê dat hulle ons sal beskerm en ons hou daarvan - ons het nie 'n probleem nie," het Verhoog gesê.

Die vier skole het telefonies en ook deur 'n skriftelike verklaring vir WP Rugby en Sarvu in kennis gestel dat hulle vanjaar vir die Boland Cravenweek rugby sal speel.

Pieter Lourens, voorsitter van Boland Ussasa bestempel dié besluit as 'n mylpaal in die geskeidenis van Boland Ussasa nadat daar "na jare se mislukte onderhandelinge, verbreking van ooreenkomste en hofsake, nou uiteindelik 'n konkrete ooreenkoms in plek is."

"Daar word uitgesien na 'n groot toevloei van nuwe talent na die onderskeie sportsoorte in die Boland en dat die kundigheid van hoogs gekwalifiseerde sportbeamptes beskikbaar gestel word," het Lourens bygevoeg.

Volgens Jannie van der Westhuizen, hoof van Hoër Landbouskool Boland beoog die plaaslike hoërskole wat vir WP Cravenweek speel, nie soortgelyke stappe nie.

"Ons bly nog staan by die standpunt dat ons by WP Rugby se grense ingedeel is.

"Ons het al verskeie vertoë tot dié twee liggame gerig om die probleem op 'n hoër vlak op te los. Dit is hoekom daar 'n nasionale liggaam is - maar tot dusver geld die status quo steeds," het Van der Westhuizen gesê.

* Local primary schools have tired of disputes over sport borders, and will play all their sport for Boland.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za