|
SUID-AFRIKA, wat bekend staan vir sy eenheid in verskeidenheid, is besig om die jeug se grondwetlike reg aan te tas deur die verskeidenheid gelowe en godsdienste as 'n eenheid uit die skole se deure te gooi.
Dit is dus ons reg as die jeug om te veg vir wat ons glo is reg.
Daar is twee betekenisse van "godsdiensonderrig", naamlik om leerders te leer van godsdiens(te) of om leerders te leer om godsdienstig of gelowig te wees.
Om te leer van 'n verskeidenheid gelowe en godsdienste dien as 'n belangrike opvoedkundige resultaat wat geïdentifiseer word deur Kurrikulum 2005.
Die onderrig van godsdiens kan ook bydra om 'n geïntegreerde skoolgemeenskap te skep wat eenheid in verskeidenheid bevestig.
Ondanks die idealistiese strewes in die Departement van Onderwys se soveelste nuwe dokument oor godsdiensbeleid vir skole, is daar egter 'n paar fundamentele probleme daarmee.
Die dokument veronderstel dat die uitleef van godsdiens op skool noodwendig diskriminerend sal wees.
In 'n poging om nie teen bepaalde godsdienste te diskrimineer nie, verbied die beleid leerders en onderwysers om gedurende skooltyd hul godsdiens te bely of uit te leef.
Die voorgestelde beleid is ongrondwetlik:
* Die grondwet waarborg die reg van godsdiensbeoefening in staats- en staatsondersteunde instellings mits dit geskied ooreenkomstig die reëls wat deur die toepaslike gesag neergelê word. By staatskole is die toepaslike gesag die Beheerliggaam.
* Die ander voorwaardes is dat dit op 'n billike en gelyke grondslag en vrywillig moet plaasvind.
Die Paarl Junior Stadsraad pleit dat godsdiensonderrig nie afgeskaal word in skole nie. Maak eerder voorsiening dat alle gelowe in skole gelykwaardig is.
Die gevolg hiervan sal 'n multigodsdienstige benadering tot "onderrig oor godsdienste" wees en nie "godsdiensonderrig" nie.
Die opdwing van sogenaamde "neutrale" godsdiensonderrig word deur verskeie instansies op sigself gesien as die opdwing van 'n bepaalde religieuse of lewensbeskoulike benadering wat die individu se reg op vryheid van gewete en godsdiens ingevolge die Grondwet aan- tas.
Ons, die jeug, sien dit eerder as 'n kans wat ons aangryp om kennis te maak en te leer van ons vriende se verskillende gelowe en godsdienste sodat ons die geheelbeeld van die lewe en die wêreld waarin ons leef, kan sien. Sodat ons meer kan leer oor die mense wat daarin woon. Sodat ons blootgestel kan word aan verskillende rassegroepe, gelowe, godsdienste en politieke uitkyke van die lewe.
Sodat ons kan herken wat elkeen van ons verskillend maak. Sodat ons kan aanvaar en waardeer wat elkeen van ons uniek maak.
A Duraan
(Paarl Junior Burgemeester) |