|
DRAMA, kabaret, boekepret, musiek, voorlesings, uitstallings en nog veel meer ... dis wat jy alles vanjaar tydens Afrikaansweek van 9 tot 15 Augustus in die Paarl kan kom geniet.
Die Afrikaanse Taalmuseum en verskeie instansies in die Paarl span weer saam om Taaldag te herdenk.
Kom luister na 'n unieke gesamentlike optrede deur twee bekende kore, geniet 'n ete of 'n glasie wyn terwyl jy na interessante kunstenaars luister, en sorg dat jy 'n draai gooi by al die wonderlike uitstallings. Die volledige program is ook beskikbaar by http://www.taalmuseum.co.za/museum_activities_a.asp.
Die Taalmuseum bied vanjaar ook self vyf produksies aan - die Alles in Afrikaans musiekfees op Taaldag, 14 Augustus, met Dozi, Stef Kruger en Rappin' Donkie; 'n drama "Die Meester" ; 'n dansdrama "Raka" met leerders van Noorder-Paarl Sekondêr; 'n tienertoneelstuk deur ons eie dramagroep Museum Muse; asook "Boekepret" by skole in Paarl-Oos, in samewerking met Human & Rousseau.
Die kaartjies vir hierdie produksies is beskikbaar by die Taalmuseum.
'n Roos is 'n roos is 'n roos...
Museum Muse, die Taalmuseum se eie dramagroep bestaande uit plaaslike hoërskoolleerders, bied op 13 Augustus om 15:00 'n opwindende program aan, met oa woordeboeke, 'n ontdekking van die woord "roos" dmv gedigte van AG Visser, FW Reitz, NP van Wyk Louw en Lucas Maree. By die Historium. Kaartjies: R5 (volwassenes R10) en is beskikbaar by die Taalmuseum.
Dozi in die Boland
Die gewilde sanger Dozi en sy groep tree binnekort tydens die Alles in Afrikaans musiekfees in die Paarl op.
Die fees vind op Saterdag 14 Augustus plaas tydens Afrikaansweek, 'n jaarlikse fees wat deur Die Afrikaanse Taalmuseum aangebied word.
Die Alles in Afrikaans musiekfees vind plaas by die Carel Redelinghuys Sentrum, Hoërskool Gimnasium, Hoofstraat, Paarl, van 18:00 tot 22:00. Kaartjies kos R60 by die Taalmuseum.
Die Meester
"Die Meester", 'n drama met Johann Nel, word Woensdag om 19:00 by die Hoërskool Gimnasium Ouditorium opgevoer.
Dié satire oor die onderwys van toeka tot nou, ontsien geen beleid van die verlede óf die hede, geen opvoedkundige koei nie.
Kaartjies kos R30 by die Taalmuseum. |