|
VRAE bly maar 'n tameletjie in die Drakenstein stadsraad, veral as die heersende ANC/NNP koalisie ingevra word deur die DA.
Gereeld is daar klagtes rondom wanneer 'n vraag gestel mag word, waar dit gestel mag word en wie dit gaan antwoord - of dalk glad nie...
Ná hewige debatvoering, briefwisseling en gesprekke buite die Raad, is daar ooreengekom oor 'n aanvaarde prosedure om vrae op die Raadsagenda te kry.
Maar die einde van die probleme is dit nie, want soos die oumense altyd gesê het: "Vra is vry, en weier daarby".
Nie dat die antwoorde werklik geweier word nie, dit is meer die manier waarop dit gegee word.
Só het die DA in Dinsdag se raadsvergadering verskeie vrae gestel rondom voltydse raadslede en meer spesifiek voltydse raadslid Arthob Petersen, wat ook deesdae bestuurder van die SA rugbyspan is.
Die vrae is ingedien deur raadslid Deetlefs du Toit (DA) en die antwoorde is mondeling verstrek deur uitvoerende burgemeester Herman Bailey (NNP).
Vra die DA: "Is hy (Petersen) nog op die betaalstaat (of met langverlof) van die relevante onderwysdepartement?"
Die burgemeester antwoord kort en kragtig: "Nee".
DA: "Ontvang raadslid Petersen ook vergoeding van die betrokke rugbyliggaam vir die dienste wat hy tans aan sodanige liggaam lewer?
Burgemeester: Raadslede moet jaarliks 'n verklaring indien waarin hulle enige vergoeding wat hulle ontvang buite die raad, moet aandui. Ek het nie insae in ander raadslede se verklarings nie.
DA: "Het die Burgemeester enige poging aangewend om die inligting waarna in die vorige twee vrae verwys word, te bekom?"
Burgemeester: Dit is nie ter sprake nie.
DA: "Sedert raadslid Petersen se aanstelling as voltydse raadslid, verneem die DA graag of hy voltydse dienste gelewer het?"
Burgemeester: Ja.
DA: "Is daar enige rekord of boekstawing wat die tyd wat hy (raadslid Petersen) diens verrig het as voltydse raadslid aantoon?
Burgemeester: Nee, hierdie is verantwoordelike mense en 'n mens kan van hulle verwag om verantwoordelik op te tree.
DA: "Indien daar nie so 'n rekord of boekstawing is nie, hoekom is dit nie ingestel nie, veral na aanleiding daarvan dat op vorige vrae in die Raad en skrywes in hierdie verband tot hede nog geen bevredigende antwoord ontvang is nie?"
Burgemeester: Is reeds geantwoord.
DA: "Wat is die situasie met betrekking tot raadslid Petersen se munisipale toelaes terwyl hy voltyds besig gehou word deur die betrokke rugbyliggaam?"
Burgemeester: Ek is nie bewus van ander voltydse werk nie.
DA: "Is raadslid Petersen versoek om enige addisionele vergoeding bo en behalwe sy raadstoelaes in die munisipale rekeninge te stort?"
Burgemeester: Hierdie hou verband met die vorige vraag en daarom is dit irrelevant.
DA: "Indien 'n persoon soos raadslid Petersen se aandag voltyds elders is, kan sodanige persoon nog op voltydse basis vergoed word, en indien wel, op watter basis kan dit geregverdig word?
Burgemeester: Hy het 'n skrywe ingedien om te vra vir afwesigheid.
Die DA wou ook weet oor die ander voltydse raadslede: "Watter stappe is geneem om te vergewis of hulle voltydse dienste lewer en nie botsende belange het nie?"
Burgemeester: Die antwoord is dieselfde as in die geval van raadslid Petersen.
Nog was die DA se vrae nie klaar nie. Raadslid Du Toit wou weet van verskeie vrae wat reeds sedert Oktober verlede jaar onbeantwoord is.
DA: "Raadslede sal seker saamstem dat daar 'n onbehoorlike tyd verloop het sedert Oktober/November 2003 toe verskeie vrae in die Raad gestel is. Tot op datum is geen antwoorde op sodanige vrae ontvang nie.
"Dit is onbehoorlike optrede of nalate om nie op vrae te antwoord wat behoorlik ingevolge die Ordereëls van Raadsvergaderings gestel is nie."
Hierop het die Burgemeester weer eens kort en kragtig geantwoord: "Ek het deur die stukke gegaan en kon net twee essensiële vrae kry.
"Die een handel oor die skootrekenaars en die tweede oor die tolhek. Oor die tolhek het die raad sy standpunt duidelik gestel.
"Wat betref die skootrekenaars: die munisipale bestuurder ondersoek die saak en volgens wat ek verstaan, is 'n ondersoekspan reeds aangestel. Intussen is die saak sub judice."
Vir raadslede wat nie meer kan onthou nie, en die publiek wat nie weet nie: Die skootrekenaars is die netelige kwessie van die 23 rekenaars wat verlede jaar vir raadslede en amptenare aangekoop is sonder behoorlike magtiging.
Die tolhek waarna verwys word, is die beoogde nuwe tolhek op die N1. En net in geval iemand vergeet het, Drakenstein was gekant teen sodanige tolhek.
Hoewel die vrae "beantwoord" is en al hierdie sake nou van die Raadstafel gevee is, sal belastingbetalers die hantering dalk nie as bevredigend beskou nie.
Word minderheidspartye, en daarmee ook minderheidsgroepe in die gemeenskap, met die respek en waardigheid behandel waarop almal in Suid-Afrika aanspraak kan maak onder die Grondwet? |