|
|
 |
 |
|
Sport |
|
|
 |
 |
|
PICKING UP GIRLS. Emmy Neveling, scrumhalf of the Free State Cheetahs women's team, gets swamped by a horde of players in their match which was played at Boland Stadium in Wellington on Saturday. Boland won their first game of the season beating the Cheetahs 20-16. The Boland girls play their next game away against the Griffons. The Boland Cavaliers had similar success beating the EP Elephants 32-15. |
|
 |
Een span vir Paarl |
|
|
 |
|
 |
SAMESPREKINGS om weer 'n gekombineerde Paarl rugbyspan op die been te bring wat sy man sal kan staan in die WP se Superliga A, het verlede week in alle erns begin.
Die vergadering wat deur die Paarl Rugbykode belê is, is deur die meeste van die 12 rugbyklubs in en om die Paarl bygewoon.
Slegs Vineyards, Windmeul, Albions en Laer Paarl het nie die vergadering bygewoon nie. Albions en Laer Paarl het by wyse van 'n brief verskoning aangeteken vir hul afwesigheid en ook aangedui dat hul die idee van 'n gekombineerde span steun.
Die voorsitter, Henry Bailey het van die staanspoor dit duidelik gemaak dat dié vergadering slegs bedoel is om die gevoel van elke klub vas te stel en dat sou die idee verder gevoer word, daar eers later oor tegniese punte soos die naam van die span, getal spanne, truie, keurders, afrigters en die tuisveld besluit sou word.
Al die beamptes teenwoordig het bevestig dat die Paarlse klubspelers nie genoegsame blootstelling kry nie.
Hoewel hulle in beginsel so 'n besluit sal steun, het heelwat verteenwoordigers aangevoer dat hulle nie sonder 'n mandaat van hul klub en sy spelers enige definitiewe besluit aan die vergadering kon oordra nie.
"Ons is ten gunste van die idee," het Colin Anderson, afrigter van Young Peoples Rugbyklub gesê. "Dit is egter belangrik dat al 12 klubs hul verbind tot die idee.
"Daar is 'n goeie kans dat ons of Paarl wat in die Eerste Liga speel, kan opgaan en volgende jaar in die Superliga B kan speel.
"Nie een van die klubs het egter genoeg reserwekrag en talent om dit in 'n hoër liga vol te hou nie," het Anderson gesê.
Hy het bygevoeg dat daar nie meer 'n toestroming van talent na die klubs is soos in die verlede nie.
"Die talentvolle spelers wat daar wel is, word nie raakgesien nie omdat hulle in 'n te lae liga speel."
Charles Paulse van Riverstones het dit beaam.
"Ek stem saam dat ons iets moet doen om ons spelers beter blootstelling te gee. Ek glo klubrugby in die Paarl is besig om te taan.
"Die Kilotreads rugbydag het gewys dat as die spelers op 'n hoër vlak speel, dan is hulle meer gemotiveerd."
Nicky Mouton van Paarl Violets het bygevoeg dat so 'n span daartoe sal bydra dat die Paarl nie sy jong rugbytalent verloor nie.
"Ons wil nie hê die kinders moet wegraak nie. Baie van die Paarlse outjies gaan speel by Kraaifontein of Tygerberg. Ons moet hulle hier kan akkommodeer," het hy gesê.
Bertus Valentyn van Paarl Rugbyklub het ook sonder 'n mandaat die vergadering bygewoon. Hy het egter bevestig dat gesprekke met sekere individue dit laat blyk het dat ook dié klub, 'n gekombineerde span steun.
"Van die kwelpunte wat al wel opgehaal is, is wat word van die res van die klubspelers. As ons die room van die klub wegvat, wat word van die res van die klub? Waar speel hulle? In WP of in 'n plaaslike kompetisie en hoe vertoon hulle in daardie kompetisie?" het Valentyn gevra.
Hy het bygevoeg dat die idee miskien verder uitgebrei moet word na 'n o.20 liga asook 'n juniorliga waar o.16 en o.18 spelers geakkommodeer kan word.
Daar is voorgestel dat die klubs reeds die volgende week met 'n skriftelik voorstel vorendag kom wat hulle vir die Westelike Provinsie Rugby Voetbalunie (WPRU) kan voorlê.
Die klubs het gevra dat daar so spoedig moontlik met WP gepraat word, sodat dié gekombineerde span reeds dalk volgende jaar in die liga kan speel. |
 |
|
 |
Spanning bou op by Interskole |
|
|
 |
|
 |
DIT is Augustus en daar is 'n gelaaide elektrisiteit in die lug. Dit is egter nie weens die wintersreënwolke wat stormagtig teen mekaar saampak nie, maar die wrywing van 'n dorp vasgevang in die jaarlikse kompeterende gees van Interskole.
Die tradisieryke kragmeting tussen Boishaai en Paarl Gimnasium skop af met die laerskole en ander kodes wat teen mekaar meeding.
Die hele week bou egter op tot Saterdag toe wanneer die o.19A rugbyspanne om 16:00 die veld neem by die Faurestraat Stadion.
Die Boishaaiers het verlede jaar die Gimmies se neuse behoorlik in die stof gedruk toe hulle met 'n rekordpunteverskil van 19 punte 25-6 geklop is.
Gim se vernederende pak slae was in antwoord op hul 15-0 sege die vorige jaar.
Gesels mens met die kapteins is dit duidelik dat rekordtellings die laaste ding is waaraan hulle dink. Nommer een prioriteit is om te wen en so nog 'n blink hoofstuk in die skool se annale te skryf.
Op papier is dit die Gimmies wat vanjaar as gunstelinge op die veld draf. Hulle is immers nog onoorwonne die seisoen.
Gim se kaptein, Ashley Johnson, aanvaar egter niks as vanselfsprekend nie.
"Dit maak nie saak wie die beter span op papier is nie, die span wat die buitefaktore die beste hanteer - gaan wen," sê Johnson.
Dries Pienaar, kaptein van Boishaai, beaam dat dit 'n wedstryd is wat enige kant toe kan gaan.
Dit is wat 50-50 wedstryd met enige span wat op die dag kan wen," sê die Boishaai haker.
Vyftig-vyftig is dit beslis en die Paarl, wat jaarliks soos die twee pole van 'n magneet skei as Augustus aanbreek, plaas ewe veel druk op albei spanne.
Albei kapteins is dit eens dat 'n interskolestryd nooit vooraf as 'n uitgemaakte saak beskou kan word nie, met iets kleins soos die verkeerd hop van 'n bal wat die verskil tussen glorie en teleurstelling kan beteken.
Nie een van die kapteins wou te veel uitlap oor hul spelpatroon vir Saterdag se stryd nie.
"Ons gaan hul agterlangs aanvat. Ons het nie soveel spoed soos hulle nie, maar ons het 'n goeie agterlyn wat die bal vinnig na die punte uitkry. Dit is 'n resep wat vir ons tot dusver goed gewerk het," sê Johnson.
Boishaai spog met die twee blitsige snellers, Bright Ndhlovu en Terry Jacobs, op die vleuels, en toeskouers kan dus uitsien na heelwat opwindende aksie wanneer enigeen van dié spoedvrate die bal in die hande kry. |
 |
|
 |
Paarl Rangers verhang bordjies teen Strand United |
|
|
 |
|
 |
DIE span van Paarl Rangers het Saterdag gewys dat hul sege van die vorige week teen Young Stars geen gelukskoot was nie, toe hulle vir Strand United 15-8 (5-8) op Daljosafat geklop het.
Die besoekers het dié twee spanne se eerste ronde kragmeting met 'n wegholtelling van 35-11 gewen.
Saterdag het Strand United verwoed aangeval en fase op fase opgestel met hul swaar agttal.
Rangers se verdediging het egter gehou en hier het Adrian Dombas (flank), Johannes van Reenen (agsteman) en Claud Vos (slot) vele duikslae langs die losskrums uitgeoefen.
In die vastelos het die haker, Cornelius Abrahams, ook uitgeblink, terwyl Johan Daniels uitstekend gedoen het in die lynstane.
Agterlangs het Granville "Gabba" Jones (senter) weer sy vaardigheid ten toon gestel.
Johan Filander het as impakspeler 'n groot verskil gemaak. Dit was juis 'n aanval wat deur hom in die doodsnikke van die wedstryd begin is, wat tot 'n strafdrie vir die tuisspan gelei het.
Van Reenen het ook 'n drie gedruk terwyl die man van die wedstryd, Johan Davids (slot), in die kol was met 'n strafskop en 'n doelskop.
Die tweede span verloor 14-8 en die derde span wen 17-0.
Saterdag speel slegs Paarl Rangers se eerste span om 13:30 op Daljosafat teen Franschhoek United. |
 |
|
|
|
 |
Laksheid op oefenveld kwel Gardens |
|
|
 |
DAAR is weer krake in die mondering van Young Gardens Rugbyklub.
Die Rooi Rose het Saterdag 42-20 teen Lagunya verloor.
Gardens se drie is deur Joe Dirkse gedruk terwyl Tino Prins met 'n skepdoel en vier strafdoele geslaag het.
Dit blyk dat spelers wat hulself groter ag as die span, die oorsaak van Gardens se swak vertonings is.
"As 'n span nie meer saam oefen nie, kan jy nie verwag om 'n wedstryd te wen nie," sê Chrisbin Meyer, 'n veteraan-speler van die klub.
"Tyd vir praat is nou verby as die Rooi Rose nie verder in hul laaste ses wedstryde wil verlep nie.
"Dit het tyd geword dat die afrigters, Brendon Abrahams en Jeff van Schoor, die daad by die woord voeg en die spelers wat moedswillig wegbly van die oefenveld en net Saterdae wil kom rugby speel, weglaat uit die span.
"Die Rooi Rose het die vermoë om enige span te klop mits hulle as 'n span saam oefen." |
 |
Maak reg vir derby old boys |
|
|
 |
|
 |
DIE jaarlikse oud-studente wedstryde tussen New Orleans en Klein Nederburg Sekondêr word Maandag op Daljosafat Stadion gespeel.
Soos in die verlede sal duisende weer optrek na een van die hoogtepunte van die skool se kalender.
New Orleans was verlede jaar aan die uitdeelkant toe hulle vir KN 15-9 kafgedraf het.
Die dag skop af met voorwedstryde tussen Dalweide Primêr, Daljosafat, Orleansvale en New Orleans Primêr se rugby- en netbalspanne.
Hekke open om 10:00 en toegang is R10 (R5 vir skoliere).
Na afloop van alle wedstryde word 'n funksie vir alle oud-leerders aangebied.
Albei skole se spanne wemel van top spelers wat in die plaaslike spanne speel. Danwill Demas, Eugene Francis (albei SA Sewes Bokke), en Jerrus Nicholas is 'n paar van die manne wat in aksie sal wees.
Die volgende spelers moet om 11:30 by Daljosafat aanmeld: Lee Blaine, Andrew Jacobs, Christopher Demas, Ben Martin, Lincoln du Preez, Gabba Jones, Juwayne Cyster, Elton Jones, Philip van Staden, Thysie Pietersen, Delwayne Cornelissen, Dominic Daniels, Cardo Goliath, Garth Paulse, Ludwig Johnson, Yulin Claasen, Aubrey Kermis, Hilton Green, Francois Sauls, Anthony Matthee, Charles May, Franklin Mitchel, Ronaldo Matthee en Ronald Cloete. |
 |
|
 |
Veerpylspelers pronk in Groen en Goud |
|
|
 |
|
 |
TYDENS die afgelope Nasionale Veerpyltoernooi het beide die Boland senior mans en die junior spanne hul staal gewys.
Die manspan het al hul teenstanders kafgedraf hoewel Kwazulu-Natal en Oostelike Provinsie sterk teenkanting gebied het.
Wilfred Raats was die fonds van die toernooi en het vriend en vyand verras met sy uitmuntende en vegtende spel. Met goeie ondersteunende spel van Gavin Naidoo en Wynand Havenga het hulle beslis bewys waarom hulle die top streekspan van Suid-Afrika is. Raats, Naidoo en Havenga is beloon vir hul uitstekende spel deurdat al drie in die Protea-span opgeneem is wat einde Augustus in Gabarone, Botswana aan die Sone VI Toernooi gaan delneem.
Die juniors het van die begin af ingeklim en gewys van watter kaliber hulle gemaak is. Hulle is die algehele wenners. In die enkelspel het Mynhard Britz vir Ruan Hanekom gewen, nadat Hanekom hom in die provinsiale enkels gewen het. Rozaan Sitzer en Ilze Hendricks was tweede in die dogters dubbelspel en Sitzer moes tweede viool speel in die enkels teen Tanja Thomas (Kwazulu-Natal). Britz, Hanekom en Sitzer is ook opgeneem in die Junior SA span. Die span neem ook deel aan die toernooi in Botswana.
Marius Havenga (Tygerberg) het ware vegtersgees getoon toe hy sy teenstanders in die stof laat byt het na die enkels-finaal. In 'n senuweeagtige finaal het hy die gunsteling Alfie Kista (Natal Suidkus) met 4-3 geklop om as die SA Enkelskampioen gekroon te word. Die komkommerkoel Vicky Carnow (Swartland) het gewys dat sy onder die groottes van vroue pylspeelsters geplaas word. In 'n titaniese finaal het sy vir Anette ore aangesit en sodoende die enkelstitel ingepalm. Mervin Isaacs is as Nasionale Keurder gekies . |
 |
|
 |
Muurbal-juniors ryg medaljes in |
|
|
 |
|
 |
DIE plaaslike muurbalspelers het goeie vertonings gelewer tydens die junior SA Muurbalkampioenskappe wat tydens die vakansie gespeel is.
Die o.19A seunspan het 'n silwer medalje verwerf tydens dié toernooi wat op Stellenbosch gehou is. Vier spelers van dié vyfmanspan is van Paarl en Wellington: Francois le Roux (Hugenote, negende gekeur in SA), Jaco Engelbrecht (Paarl Gim), Nico Vlok (Labori) en Michael Schoeman (Hugenote).
Thorn Norman en Edward Stenry (albei HJS) is in die Boland o.19B span opgeneem wat in die Paarl aan die SA's deelgeneem het waar hulle 'n bronsmedalje verower het.
Lizane Vlok van La Rochelle wat in die o.14 toernooi in Parkview, Johannesburg, gespeel het, is tweede gekeur nadat sy in slegs een wedstryd, teen die nommer een gekeurde Cheyna Tucker van Suid-Gauteng, vasgeval het.
Vlok het die spelers van Noord-Gauteng (3-0), Vrystaat (3-2), Kwazulu-Natal (3-0), en OP (3-0) gewen. Sy is ook in die SA-span wat aan die Namibië Ope gaan deelneem.
Ruan Smit (Gim) en Malan Bartleman (Noordeind) was in die o.11 seuns Boland-span wat in Port Elizabeth aan die SA's deelgeneem het. Die span het brons gekry. |
 |
|
 |
Peoples verloor teen agterosse |
|
|
 |
YOUNG Peoples het Saterdag op Daljosafat lelik in die hek geduik toe hy met 9-7 (6-0) teen die agteros in sy afdeling, Hamlets, verloor het.
Peoples se algemene spel was teleurstellend, en nie een speler het probeer om die voorbeeld te stel nie.
Basiese foute is tot vervelens toe gemaak. Wat egter soos 'n paal bo water staan, is dat Peoples se selfvertroue en toewyding tans nie op peil is nie. Die wil om te wen ontbreek, en dit lyk of die spelers glad nie vir mekaar speel nie.
Die agsteman, Francois Manuel, het vir Peoples gedruk en skrumskakel Delwaine Cornelissen het verdoel.
Peoples II wen 18-2 en die derde span speel gelykop 3-3. |
 |
|
|
|
|