|
VAN Casablanca tot Carousel, Grease tot Alladin, Yentl en Titanic, bekoor grootskerm musiektreffers al dekades lank filmgehore van alle ouderdomme.
Of jou gunsteling nou Gene Kelly se passies in die reën, Celine Dion se Titanic temalied of Olivia en John se somerliefde is, daar's sonder twyfel n' herinnering verskuil agter een of ander filmtreffer.
Van vandag tot Saterdag om 20:15 word al dié oomblikke en vele meer herleef in 'n verhoogvertoning, "Movies' greatest music", by die Oude Libertas Amfiteater op Stellenbosch.
Charl van Heyningen, Russel Savadier en Lisa Melman speel helde en heldin in 'n program wat met keur voorberei is deur filmkenner Alan Swerdlow en vir die verhoog aangepas is deur Fiona Ramsey.
Musieksnitte uit films so uiteenlopend soos Love Story, The Godfather, Fiddler on the Roof, Saturday Night Fever, Armageddon, Men in Black, The Full Monty en Moulin Rouge is vir die produksie musikaal verwerk deur Janine Neethling en talentvolle nuweling Chris Harper.
Dit word afgewissel met bekende filmgrepe en dialoog.
Die teater het pas 'n foonnommer vir direkte kredietkaartbesprekings geaktiveer. Bespreek gerus by 809-7380 of Computicket.
Skemerkonsert
Die eerste in die gewilde Oude Libertas Skemerkonserte is Congo Kwasa Kwasa Sondag om 18:00.
Rumba, soukous en Kongo jazz, wat as die 'vriendelikste' musiek op die Afrika-kontinent bekend staan, word aangebied deur 'n groep Kongolese musikante uit Kaapstad.
Die groep het al met groot sukses by Kirstenbosch, die V&A Waterfront en Mama Africa restourant opgetree. |