|
MENSE wat op advertensies in koerante en ander publikasies reageer, is mense wat die advertensies lees omdat hulle belang stel in iets wat geadverteer word.
Indien hulle finansiële situasie dit vereis, lees hulle advertensies wat 'n ekstra inkomste of dalk rykdom belowe, en reageer daarop.
Met "it takes money to make money" vaagweg in die agterkop, betaal hulle geredelik die gevraagde bedrag, met die hoop dat dit stap een sal wees in die verkryging van immer-ontwykende rykdom (of meer realisties, 'n beter finansiële situasie vir hulleself en hul gesin).
Adverteerders weet dit: hulle weet dat die gemiddelde persoon, byna sonder uitsondering, kan doen met 'n klompie ekstra rande per maand.
Dis die basis van suksesvol adverteer: skep 'n verwagting by die potensiële respondent, genoeg so om hom of haar aan te spoor om die gespesifiseerde betaling aan die adverteerder te maak.
Adverteerders is ook slim genoeg om nie hulle diens of produk vir buitensporige bedrae te adverteer nie; dis laag genoeg sodat die gemiddelde persoon wel op die advertensie kan reageer.
En soos dit blyk uit die onlangse tikmaatskappy-sage, is daar baie "gemiddelde" mense, wat hoop om hulle finansiële situasie te verbeter deur op dergelike advertensies te reageer.
Wanneer dit dan blyk dat die adverteerder hulle mislei het, aanvaar hulle bloot die verlies van X bedrag (wat in baie gevalle bloedgeld is), trek hulle skouers op, skel op die "verdomde skelms" en gaan voort met hulle lewens, X bedrag armer.
Wat op aarde kan hulle anders aan die situasie doen? 'n Bedrogklag by die polisie - één bedrogklag teen 'n nasionale maatskappy vir wie jy uit vrye wil R190 betaal het?!
Koerante toe hardloop met 'n storie, dan met prokureursbriewe gedreig word, waarvoor die einste "gemiddelde" persoon hom boeglam skrik omdat hy per slot van sake nie die geld het vir enige regsonkoste nie?!
Carte Blanche, Fokus, nasionale televisie? Daar is baie groter en belangriker "issues" in die land as 'n paar (honderd? duisend?) mense wat uit vrye wil 'n klein bedraggie aan 'n adverteerder betaal het, en nou voel dat hulle te na gekom is!
Wat is die "bottom line"? Misleidende advertensies, sekerlik? Bedrog? Waarskynlik.
Onnoselheid aan die kant van die "gemiddelde" persoon? Tot 'n mate, maar die graad van onnoselheid word sekerlik bepaal deur finansiële desperaatheid, of dalk werklike broodgebrek.
En wat van die adverteerder, wat al die kollektiewe betalings ge-in het, en oënskynlik nie te veel aan uitgawes gehad het nie, behalwe om in elke denkbare publikasie in elke uithoek van Suider-Afrika te adverteer nie?
Kan hy wegkom met wat nie veel anders genoem kan word as bedrog nie? Waarskynlik sonder veel moeite, en natuurlik met goeie regsverteenwoordiging.
Ontevrede |