|
'n VERWOESTENDE boulaanval deur Wellington se eerste krieketspan het hulle Saterdag vir Coronations op Pniel uit die water geskiet.
Coronations kon slegs 85 aanteken danksy die akkurate boulwerk van Ryan Groeneveldt (5/16) en Piet Koen (2/4).
Die tuisspan self het met die bal ingeklim, maar hul telling was net te klein om suksesvol te verdedig. Wellington bereik die vereiste 86 lopies met 6 paaltjies plat.
In skerp kontras het Wellington II tuis op Pen Basson teen 'n verswakte Van der Stel 'n reuse telling van 400/3 gemoker.
Die manne van Stellenbosch se vertoning in die veld was power met verskeie vangkanse wat verbrou is.
Dit is iets wat hul later berou het toe Jaco Conradie op 0 misgevang is en aangegaan het om 140 van 82 balle aan te teken wat 10 sesse en 14 grenshoue ingesluit het.
Richard Bennett was goed op dreef toe hy die veld moes verlaat weens 'n besering. Sy 120 het 15 grenshoue ingesluit, met Nickus Bergh wat 'n ses en 10 grenshoue gemoker het vir sy bydra van 76.
Van der Stel was nooit opgewasse vir die groot totaal wat hulle moes jaag nie en teken slegs 99 lopies aan.
Leon Labuschagne (3/22) en Morné Sadie (2/20) vaar die beste van die Wellington boulers.
* 'n Verbete poging met die bal het Paarl-Oos se eerste span gehelp om die wolwe van die deur weg te hou in hul wedstryd teen Young Peoples I op Daljosafat.
Die besoekers kolf eerste en danksy 'n goeie beurt deur Dominique Daniels (70) en 'n ewe goeie vertoning deur Randall George (39) teken hulle 187 aan.
Die Boland en Suid-Afrikaanse snelbouler, Charl Langeveldt, het die paaltjies vir Peoples ingeoes met syfers van 4/41. Hy is ondersteun deur Hubert Ontong (2/37).
Peoples was op 141/4 gerieflik op pad na 'n oorwinning totdat Elroy Abrahams (6/53 in 22bb) die middelorde aan skerwe geboul het.
Elrich Jansen (40), Stanton Kamalie (29) en Roswin Jephta (26) het lyf aan die Peoples se beurt gegee, maar die tuisspan kon net nie die knoop deurhak nie. Hulle staak op 173/9 en die wedstryd eindig onbeslis.
Peoples I speel Saterdag weg teen Wellington. Paarl-Oos I speel tuis teen Van der Stel I en Paarl weg teen Vredenburg/Saldanha.
Peoples se tweede span het op Kraaifontein 'n goeie oorwinning behaal.
Die tuisspan word vir 'n goedkoop 110 lopies uitgehaal, met Edwin Jacobs (4/23) en Tom-Ross Fortuin (2/26) wat die skade aanrig.
Wade Anderson met sy 43 lopies het die Peoples se kolfbeurt gelei en die besoekers gehelp om die wenlopies te slaan met slegs drie paaltjies plat.
Die derde span was ook Saterdag terug op die wenpad, toe hulle Spes Bona II op Daljosafat verniel het.
Spes Bona word vir 'n skamele 94 uitgeboender, met Marlin Carolissen (2/4), Malcolm Wilson (3/31) en Ricardo Kermis (2/54) wat hul kolwers se taak vergemaklik.
Peoples haal die teiken van 97/4 maklik, met Mark Moses (41) aan die spits. |