|
IN 'n wakker buurt, en veral met 'n vinnige vrou in 'n splinternuwe viertrek-voertuig, loop steel jy nie.
Dit is wat drie mannetjies op die harde manier geleer het toe hulle in Noorder-Paarl 'n slag wou slaan.
Cathy Downey het net met 'n Land Rover (wat sy van die motorhawe gekry het om te toetsbestuur) in Cornelstraat ingedraai toe 'n buurvrou ontsteld voor haar in die pad spring.
Drie jeugdiges het sowaar haar beursie uit haar handsak agter haar rug gesteel terwyl sy in haar huis gesit en televisie kyk het.
Cathy het nie op haar laat wag nie en in die agtervolging ook nog tyd gehad om haar broer, polisie-inspekteur John Claasen, te skakel.
Gou-gou het sy een van die mannetjies ingejaag en in die Land Rover gelaai.
Met die "gevangene" wat sy medepligtiges se wegkompad uitblaker, kon Cathy sommer toe die viertrek-voertuig al met die oewer van die Bergrivier langs toets.
Naby die Langstraatbrug het hulle twee paar oë uit die grasse sien loer en die diewe se turf het gesit.
Die mannetjies is van Chicago, en bekend in Noorder-Paarl se strate.
"Ek steel nie, ek stap net saam en vra brood en water," het die jongste (8) gesê.
En dis juis hoe hulle die inwoners kul, sê die slagoffers.
"Mens kry hom jammer, los sommer die deur oop en stap gang-af om ietsie te ete te gaan haal. As jy terugkom is jou geld én die kastige honger kind weg." |