|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
Susan Botha |
||
|
DIE Drakenstein stadsraad moes hul planne om vir al twaalf voltydse raadslede ten duurste kantore in die Paarl burgersentrum te gee, op die lange baan skuif. Dit volg ná 'n onlangse besoek van Cobus Dowry, Wes-Kaapse Minister van Plaaslike Regering, aan die Paarl, vermoedelik om te keer vir groot uitgawes. "Dit wil lyk of die raad, of dan die uitvoerende komitee, die pot effe mis gesit het met hul oorhaastige optrede," was een lid se lakoniese opmerking. By verlede Donderdag se maandvergadering is die saak terugverwys na die uitvoerende komitee vir 'n verslag. Dit kom skaars 'n maand nadat besluit is dat die speaker, burgemeester en onderburgemeester asook nege lede van die uitvoerende komitee voltydse status kry, met kantore in die hoof munisipale gebou en salarisse terugwerkend vir drie maande. 'n Geraamde bedrag van R2,28 miljoen is bereken vir dié besluit. Hiervan is sowat R680 000 vir kantore, meubels en rekenaars. Dowry het die komitee gevra om die besluit te heroorweeg en gesê net die speaker, burgemeester en onderburgemeester behoort kantore in die sentrale gebou te hê. Sy mening dat die res van die raadslede in bestaande kantore binne die onderskeie areas gehuisves moet word, het heelwat byval gevind onder sommige van die uitvoerende komiteelede. Van die nuwe voltydse raadslede het blykbaar ook gevoel dat 'n rekenaar nie 'n broodnodige instrument is om die gemeenskap te bedien nie. Dowry het ook verwys na die kommer wat bestaan dat voltydse raadslede nou sal wil toesighouer speel oor amptenare of selfs die rol van amptenaar wil speel. "'n Raadslid mag nie inmeng in die bestuur van of administrasie van 'n departement van die munisipale raad nie, tensy deur die raad daartoe gemagtig," het hy gesê. "'n Raadslid mag ook nie opdrag aan 'n werknemer van die raad gee nie, behalwe wanneer gemagtig om dit te doen. "Dit is natuurlik ook omgekeerd op munisipale personeellede van toepassing in terme van beïnvloeding van raadslede, die verkryging van aanstellings, voorreg, gewin of voordeel," het hy gewaarsku. Dowry het ook by 'n vergadering van speakers op George gepraat oor die toepassing van die Gedragskode vir Raadslede. "Met die steeds stygende nie-betaling van dienste weens armoede asook volstrekte weier om te betaal, moet raadslede en amptenare die nodige voorbeeld stel. "Daar word van raadslede verwag om hul munisipale rekeninge en ander gelde betaalbaar aan die munisipaliteit, spoedig en op 'n gereelde basis te betaal. Agterstallige betalings van langer as 30 dae sal tot optrede ingevolge die gedragskode lei. "Dit is na my mening nie onredelik om stiptelike betalings te verwag van diegene wat aan die stuur van sake staan nie." * Expensive plans to provide offices for 12 full-time councillors in the Paarl civic centre were put on hold following a visit by the provincial minister. |
|
|
|
|
DIE bedrogsaak teen 'n dienende munisipale raadslid van Drakenstein en drie oudraadslede van Bolandse munisipaliteite is verlede week in die Paarlse Streekhof uitgestel tot 28 Mei. Die aangeklaagdes is Killion Cekiso (tans speaker van die Drakenstein munisipale raad en vroeër raadslid vir Tulbagh), Dan Kotze (oud-burgemeester van Saron), Cupido Rogers (oudraadslid van Wellington), Ben Oliphant (oudraadslid van Tulbagh) en Albertus Killian (siviele ingenieur) word vervolg op aanklag van bedrog. Dit spruit uit beweringe dat die beskuldigdes finansieel voordeel getrek het uit die toekenning van kontrakte wat verband hou met HOP-projekte op Gouda, Wellington en Saron in 1996 en 1997. Hulle het na bewering vergoeding ontvang vir hul sterk steun aan die Gibb Africa maatskappy om die tender vir die HOP-huise te verkry. Albertus Killian was 'n werknemer van die firma. Die Oorgangswet op Plaaslike Regering bepaal dat raadslede geensins geld mag ontvang en/of die dryfkrag mag wees dat tenders of kontrakte tot hul voordeel toegestaan word nie. Die saak is voorlopig uitgestel, omdat van die beskuldigdes aansoek gedoen het om regshulp en ook 'n versoek om nader besonderhede gerig het. Die saak het voor landdros JD Beyers gedien. Anita Potgieter tree vir die staat op en advokaat Jasper Tredoux vir die verdediging. * The fraud case against the Speaker of the Drakenstein Council and other former town councillors has been postponed to May. |
|
|
|
|
DIE man wat sy broer se dogtertjie uit Groenheuwel gelok voordat sy verkrag en vermoor is, sal vyftien jaar gevangenis vir die grudaad moet uitdien. Christopher (Green Eyes) Papier (27) van Fairyland het in die jaar 2000 weke lank voor die polisie uitgevlug voordat hy uiteindelik sonder borg agter tralies gehou is. Hierdie week is hy in die Kaapse Hooggeregshof skuldig bevind "as begunstiger tot moord en onsedelike aanranding". Volgens die hof "bestaan die moontlikheid dat nog 'n persoon by die daad betrokke was aangesien bewyse van vreemde DNA" gevind is. Candice Abrahams (6) se ouers het verlede week hartseer die dag in Maart 2000 onthou toe hulle dogtertjie uit 'n speelparkie naby hul woning in Ameliastraat verdwyn het. Die fyn meisietjie, wat maar 17kg geweeg het, is laas lewend gesien saam met haar oom Green Eyes, soos hy bekend staan. Haar halfnaakte lykie is die volgende dag onder takke naby die Daljosafat verkeersentrum gevind. Sy is verkrag en met haar eie broekie verwurg. Bebloede klere wat aan Papier behoort het, is in sy woning in Fairyland ontdek. Die soektog is verskerp toe die polisie besef die verdagte het al voorheen met die gereg gebots op aanklagte van verkragting. Forensiese ondersoek het later getoon dat vlekke op Candice se broekie, Papier se bloed was. Candice se ouers en boetie het in die hof getuig oor die dogtertjie se verdwyning en oor hul familielid, wat geweier het om met die soektog te help. Haar pa, John, het in trane vertel hoe hy die middag van die tragedie nog haastig huis toe was met 'n koek wat hy vir sy lieflingkind gekoop het. Paarlse speurders, forensiese kenners asook Susan Msala, Papier se voormalige vriendin by wie hy die aand van Candice se moord was, het in die hof getuig. Papier het gister geweier om uit die selle in die hofsaal te verskyn om sy vonnisoplegging deur regter DR Mitchell aan te hoor. Die ondersoekbeampte was speur-insp Lucas Lourens. * The uncle of little Candice Abrahams (6), who was lured to her death from her home in Groenheuwel, has been sentenced to 15 years imprisonment. |
|
|
||||||||||
|
TONELE van chaos en ontevredenheid het verlede week afgespeel by plaaslike verkeersdepartemente waar honderde mense verlede week tougestaan het om die spertyd vir rybewyshernuwings te haal. Baie mense wat vyf jaar kans gehad het om hulle sake in orde te kry, het duidelik tot op die laaste nippertjie gewag. Die gevolg was dat hulle in lang toue vasgevang was - saam met Kapenaars wat gehoop het die wagtyd op die platteland sal korter wees. In die rye voor die Wellingtonse Verkeersdepartement het mense hul frustrasie met die regeringsburokrasie uitgespreek en die verkeersowerhede beskuldig van gebrekkige dienslewering. Die verkeershoof, Francois Davids, het egter probeer om hulle tot bedaring te bring deur te verduidelik dat die mannekrag en toerusting tot die uiterste toe beproef word. Om sake te vererger het mense van oral in die Skiereiland, selfs so ver as Houtbaai tot so laat as Donderdag-middernag in die ry gewag en sodoende verseker dat hulle van die 300 begunstigdes was wat Vrydag gehelp sou word. Tientalle Wellingtonners moes hulpeloos toekyk hoe dié mense van elders eerste gehelp word. By die Paarlse Toetssentrum het mense so vroeg as halfses opgedaag en reeds was daar 'n lang tou. Hier het die humeure opgevlam, terwyl ander erken het dat hulle laat wakker geskrik het. "Ek het maar net gehoop dat hulle elke keer die sperdatum sou uitstel," het een man moedeloos erken. Sowat 573 bestuurders het verlede Donderdag die omskakelingsproses by die Paarl Toetssentrum deurgemaak met 301 op Vrydag. Vandeesweek het getalle afgeneem, met tussen 75 en 100 persone wat daagliks gehelp word. Groot was die verligting toe die waarnemende Minister van Vervoer, Jeff Radebe, Vrydagmiddag aangekondig het dat laatslapers nog grasie van twee maande kry. Die finale afsnydatum vir die omskakeling is einde April, waarna motoriste wat nog nie die nuwe kaartjie het nie, as ongelisensieerd beskou sal word. Beamptes sal vir die volgende twee maande hard moet werk om alle motoriste te akkommodeer. Die ure is weeksdae tussen 08:00 en 12:30. 'n Woordvoerder van die toetssentrum het bestuurders versoek om nie weer tot op die nippertjie te wag om om te skakel na die nuwe kaarte nie. "Vir die volgende twee maande moet daar tussen die sowat dertig toetssentrums in die land daagliks ongeveer 'n duisend omskakelings gedoen word. Daarom moet bestuurders liewer so gou as moontlik hul sake in orde kry," het hy gesê. Die nuwe sperdatum skep nou weer nuwe probleme vir mense wat roetinesake wil afhandel, of hul rybewyskaarte na vyf jaar moet hernu om te verhoed dat dit verval - ook hulle moet nou maar agter in die tou inval. * Tempers flared in the long queues te renew drivers' licences last week. |
|
|
|||||||||||||
|
'n SIENER van Milnerton het haar hulp aangebied om die onlangse, tergende moord op die Franschhoekse oudburgemeester, Jan Roux, te help ontrafel. Die vrou van Milnerton is verlede week telefonies van die dilemma op Franschhoek in kennis gestel en het met inligting vorendag gekom wat aan die polisie oorgedra is. Sy staan gereeld ondersoekspanne by met die oplossing van tergende sake. Roux (72) is twee weke gelede dood aangetref in die badkamer van sy woning op die hoewe Die Eike in die middedorp. Daar word vermoed dat die bejaarde man ná 'n struweling gesterf het. Hy het borsbeserings, 'n wond aan die wang en kneusings aan sy arms opgedoen. Die polisie het 'n sluier getrek oor die motief en die moord terwyl alle moontlike leidrade opgevolg word. 'n Paar bloedbevlekte handskoene is ná die moord in die veld naby sy woning ontdek. Forensiese toetse word nou gedoen. Roux het kort voor sy dood nog in die Franschhoek begraafplaas blomme op die graf van sy oudste seun gelaat. Dié seun het as kleuter ook op onverklaarbare wyse gesterf. Sy liggaampie is op 'n pad op die Roux's se plaas gevind. Die skuldige is nooit opgespoor nie. Daar is destyds vermoed dat die seuntjie deur 'n voertuig omgery en dood agtergelaat is. Roux is onder groot blyke van meegevoel by sy seuntjie se graf ter ruste gelê. * A clairvoyant has offered to help the Police in their quest to solve the recent murder of Franschhoek's former mayor, Jan Roux. |
|
|
|
|
INWONERS van die woonbuurt Spookytown (nou "Hillside") in Paarl-Oos is ontevrede met 'n besluit van die stadsraad om die straatname te verander nadat hulle reeds ingetrek het. Verteenwoordigers van Hillside het onlangs met die Drakensteinse burgemeester Herman Bailey vergader om kwessies rondom die verandering van straatname te bespreek. Die vergadering is bygewoon deur lede van die Beplanning- en behuisingskomitee sowel as die betrokke wyksraadslid. Ongelukkigheid heers onder die inwoners nadat goedkeuring van die Raad aan die ontwikkelaar M5 gegee is om die straatname te verander. M5 het in Mei verlede jaar voorlopige straatname vir Fases 2 en 3 van Behuisingsprojek 59 Daljosafat ingedien. Dieselfde tema geld as vir die vorige fases, naamlik die name van roos-variëteite. Die Behuisingskomitee was egter van mening dat name ter verering van individue wat oor 'n aantal jare 'n belangrike bydrae tot die gemeenskap gemaak het, liewer gebruik moes word. Intussen moes die begunstigdes dringend die nuwe wonings betrek. Vir hierdie doel moes munisipale rekenings, gekoppel aan adresse, geskep word. Daar is besluit om solank die ongoedgekeurde straatname, soos deur M5 ingedien, te gebruik. Geen naamborde is egter opgerig nie. Die gewysigde name is toe in Desember verlede jaar goedgekeur, maar die inwoners was uiteraad ongelukkig omdat die straatname waaraan hulle al die afgelope sewe maande gewoond geraak het en gebruik het vir byvoorbeeld winkelrekenings, skole, hospitale, werkplekke en ander owerheidsinstansies soos binnelandse sake, polisie, en so meer, nou verander moes word. Die inwoners het dit duidelik gestel dat hulle geen afkeur het van die nuwe name nie, maar ongelukkig voel oor die ongerief en ontwrigting wat die gewysigde name sou meebring. Daar is op die vergadering besluit dat 'n voorstel by die Raad ingedien sou word om die gewysigde straatname by 30 Maart se raadsvergadering terug te trek, ten gunste van die oorspronklike straatname soos deur M5 ingedien. Die voorheen goedgekeurde straatname kan dan oorgehou word vir gebruik in 'n volgende ontwikkelingsfase. * Residents of Spookytown (now Hillside) in Paarl have objected to the Council's change of street names. |
|
|
|
|
'n SLUIER van stilte hang steeds oor die oorsaak van die treinramp vroeër vanjaar, wat talle huishoudings in die Paarlvallei in rou gedompel het. Die ramp op 7 Januarie by Muldersvlei het tien lewens geëis toe 'n passasierstrein van agter teen 'n goederetrein gebots het. Meer as 50 pendelaars is ernstig beseer. Die oorlewendes het die oorsaak van die ongeluk en lewensverlies op die skouers van Metrorail en Spoornet geplaas. Die vloer van die tweede passasierswa het met die botsing meegegee en die oorledenes is onder die treinwiele vermorsel. Van die redes wat Metrorail aangevoer het vir die uitstel van openbaarmaking van die verslag, was dat Spoornet en die minister nie 'n gepaste tyd kry om die ramp te bespreek nie. Aandeelhouers van Metrorail moet glo ook eers die inhoud bestudeer. Paarlse prokureur Lloyd Fortuin gaan 'n aansoek by die hooggeregshof indien om insae te verkry in die verslag. Volgens hom word protesoptrede by die Minister van Vervoer se kantore in Kaapstad beplan. Die speurder wat die klag van strafbare manslag ondersoek, insp Jacques Coetzee van die Paarl, word ook insae in Spoornet se verslag geweier. Die Demokratiese Alliansie het ook protes aangeteken: "Daar is geen verskoning dat die finale verslag nie vrygestel word nie. Ons sal die Wet op Toegang tot Inligting gebruik om die verslag te bekom. "Die verduideliking (deur Metrorail hoof-uitvoerende beampte Honey Mateya, dat die verslag eers bestudeer moet word deur die waarnemende Minister van Vervoer, Jeff Radebe) is net nie goed genoeg nie." * The official report on the cause of the train accident at Muldersvlei has still not been released. |
|
|
|||||||||||||
|
VERLIGTING het verlede Donderdag oor die gesigte van die Van Schoor en Hendricks-gesinne van onder meer Steenkamp- en Nicolstraat in die Paarl gespoel, toe vonnis oor Karel Coetzee (62) voltrek is. Hy is drie jaar korrektiewe toesig opgelê, waarvan hy ten minste ses maande in gevangenisskap moet deurbring. Sy bestuurderslisensie is vir tien jaar opgeskort. Coetzee het in 2001 vir Mary van Schoor en Katriena Hendricks in Klein Drakensteinweg doodgery met sy BMW motor, terwyl hulle met hul gesinne op pad huis toe was vanaf die Paarl Liggiefees. Albei vroue is met die impak van die botsing verbrysel, een se liggaam byna in twee stukke teen 'n betonmuur. Elizabeth van Schoor, suster van die oorlede Mary, het gesê dat hulle as gesin nou rus vir hul siele kan kry, omdat die saak vir byna twee jaar en twee maande gesloer het. "Alhoewel die straf nie so swaar was soos wat ons verwag het nie, gaan hy darem ten minste 'n tydjie in die tronk deurbring. Solank hy net nie vrygelaat is om buite op die straat rond te loop nie, is ons tevrede," het sy gesê. * A motorist who struck two pedestrians in December 2001, killing them, has been sentenced to six months in prison. |
|
|
||||||||
|
DIE verkeersopeenhoping wat busse en taxi's voor Noorder-Paarl Sekondêr veroorsaak, is onlangs weer onder die soeklig geplaas nadat 'n leerder voor die skool omgery is. Ntendefeko Moxikila (15) het voor 'n aankomende voertuig beland nadat hy oor Berlynstraat gehardloop het. Hy het sy arm gebreek. In nog 'n voorval is Christelle Williams (17) rakelings deur 'n bus getref voor die skool. Sommige ouers het hul ontevredenheid oor dié situasie uitgespreek en dit as baie gevaarlik beskryf. "Daar is geen orde nie. Die kinders hardloop blindelings oor die straat om 'n bus of taxi te bereik, ongeag die aankomende verkeer. "Soms staan daar tot drie busse agtermekaar in die straat. Ek weet nie hoe die pasiënte van Medi-Clinic dit hanteer nie. "Ek tel liewer deesdae my seun op wanneer dit stiller is, omdat daar nie voertuie op die skoolterrein toegelaat word nie - soms moet ek in Sanddrifstraat parkeer," het die ma van 'n leerder vertel. Steven de Wet, waarnemende skoolhoof, het by navraag gesê dat hulle tans besig is om alle opsies te oorweeg om dié probleem op te los. "Ons oorweeg dit om aan die Sanddrift-kant van die skool, waar daar genoeg ruimte vir voertuie is, nog 'n hek aan te bring. Ons is deeglik bewus van die probleem en gaan beslis iets drasties daaraan doen. Die vorige hoof het geweier dat leerders binne die skool afgelaai word." Taxi's word deesdae toegelaat om leerders binne die skoolgronde af te laai soggens en smiddaes op te tel. Die busse parkeer egter nog steeds buite in die straat, alhoewel daar drie "Geen-stop" verkeerstekens is. Daar is ook nie 'n voetoorgang waar leerders veilig die pad kan oorsteek nie. Volgens die verkeershoof, Japie Cornelissen, is hulle bewus van die probleme wat stilstaande verkeer daar veroorsaak, met verkeerstekens wat dit verbied. "Die wesenlike oplossing sal wees dat die leerders binne die skoolgronde afgelaai word. Puntdiensbeamptes het in die verlede wetstoepassing daar gedoen, maar ons ervaar 'n probleem met die nodige mannekrag," het hy gesê. * Buses and taxis transporting pupils to Noorder-Paarl Secondary are causing problems for traffic in Berlyn Street. |
|
|
|||||||||||||
|
A MUSIC lover could not believe his eyes when he discovered dozens of his stolen CD's at an outlet that pays cash for goods in central Paarl recently. The find was made after burglars had made off with the collection of gospel CD's belonging to Eddie Williams of Paarl East. A friend of his happened to browse through the stock at Cash Corporation in Lady Grey Street when he noticed second-hand CD's which he believed could be the stolen music. He informed the burglary victim and Eddie went to look through the CD's. He found 65 of his CD's, most of them imported and not readily available in South Africa. The Police were summoned and the CD's confiscated. The owners of the store claimed they had not realised the merchandise had been stolen property. They supplied the names and identity numbers of the sellers to the police. Two 21-year-old twin brothers were arrested, but the victim decided not to press charges. "We always advise burglary victims to check the stores where people are paid in cash for items they want to sell," a policeman remarked. |
|
||||