|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
'n GEBREK aan konsentrasie was Saterdag die oorsaak dat die Boland Kavaliers hul opwarmingswedstryd op Swellendam 18-35 teen die SWD Arende verloor het. "Dit is nie soos ek dit wou hê nie, maar dit is nog vroeg in die seisoen en mens moet seker nie te haastig raak nie," het die Kavaliers se breier, Hawies Fourie, Dinsdag gesê. "Ons het nie met genoeg variasie gespeel nie en dit vir hulle maklik gemaak om teen ons te verdedig. In die laaste 20 minute het die spelers hul konsentrasie verloor en twee maklike drieë afgestaan," het Fourie sy span se gebrekke in Saterdag se wedstryd uitgewys. Volgens Fourie is fiksheid nie die oorsaak van Boland se verval in die laaste minute nie. "Die spelers is redelik fiks vir dié tyd van die seisoen. Hulle het net nie by hul verdedigingslyne gehou nie en 'n paar laagvatte gemis," sê hy. Oor 'n paar skrums, waar die Kavaliers se agttal klei getrap het, bekommer Fourie hom nie. "Die Arende-pak het met ongeoorloofde skrumwerk ons van balans gebring en die spelers vorentoe en agtertoe getrek, maar daar was nie regtig probleme met die skrums nie." Volgens die breier sou daar dié week aandag gegee word aan vaste fasette, hantering en variasie op die aanval. "Ons het geen van die bewegings gebruik wat ons geoefen het nie." David Hendricks (flank), Henley du Plessis (agsteman) en Piet van Zyl (senter) het herstel van hul beserings en is beskikbaar om Saterdag in die opwarmingswedstryd teen WP op die Charles Morkel veld in die Strand te speel. Die Boland A span sal ook 'n wedstryd speel om 14:30 gevolg deur die Kavaliers se wedstryd om 16:00. Die Boland span is: Antonius Verhoeven, Dewald Femboes, Piet van Zyl, Juriaan Prins, Jongikaya Nokwe, Jacques Badenhorst, Dru Naas, Chris Potgieter (k), Michael Noemdoe, David Hendriks, Nicky Smit, Henk Eksteen, Andries Human, Gustav Rademeyer en Pieter Terblanche. |
|
|
|
|
DIE kwessie rondom skolerugbygrense waar sekere skole in die Boland vir die Westelike Provinsie rugby speel, maar die res van hul sport onder die vaandel van Boland beoefen, is nog nie opgelos nie. Die dispuut wat al vir die afgelope agt jaar sloer, is deur boikot-aksies, skorsings en 'n Hooggeregshof-interdik gekenmerk. Die goeie nuus is egter dat die twee strydende partye, Boland Ussasa en die betrokke skole, nou kragte saamsnoer en antwoorde eis van die enigste twee organisasies wat uitsluitsel kan gee in die saak - die Suid-Afrikaanse Rugby Voetbal Unie (Sarvu) en Ussasa Nasionaal. Luidens 'n persverklaring deur 'n Gesamentlike Aksiekomitee is 'n versoekskrif om dié saak so gou moontlik op te los, op 18 Februarie aan Rian Oberholzer (hoof-uitvoerende beampte van SA Rugby) en Ivor Hoff (voorsitter van Ussasa Nasionaal) gestuur. Die Aksiekomitee bestaan uit Michael le Cordeur, Adam de Vries (albei van Boland Ussasa Hoërskole), Pieter Lourens (Boland Ussasa Laerskole), Tommy Kearns (Boland Ussasa Sentraal), en die skoolhoofde Jock de Jager (Paul Roos Gimnasium), Basjan Reinhardt (Paarl Gimnasium), Louis Knoetze (HJS Paarl), Jannie van der Westhuizen (Hoër Landbouskool Boland) en Christiaan Vorster (Hoërskool Strand). Die komitee verklaar dat die voortslepende dispuut rondom die grensekwessie in skolerugby tussen Boland en WP nog nie opgeklaar is nie en "tot verdeeldheid en onmin" in die gemeenskap lei. Die groep sê verder dat hulle besef aksies soos skorsings, boikotte en hofsake nie 'n oplossing vir die probleem sal bied nie en slegs tot verdere verdeeldheid sal lei. Die aksiekomitee is gestig om die betrokke partye se pogings te koördineer om 'n beeld uit te dra dat dit 'n gemeenskaplike probleem is, en nie slegs die probleem van een groep nie. "Sowel Boland Ussasa as die betrokke skole was aan die negatiewe ontvangkant van die gevolge van individuele aksies in die verlede," lui die verklaring verder. Beide Ussasa en Sarvu is versoek om voor 24 Februarie as 'n saak van dringendheid die probleem aan te spreek. Die Gesamentlike Aksiekomitee sê voorts dat hy toegewyd is om deel van die oplossingsproses te wees. Dié dispuut moet voor die nuwe rugbyseisoen opgelos word, om so die chaos van die vorige jaar te verhoed. Van die betrokke skole is reeds in kennis gestel dat sekere skole nie teen hulle sal speel nie en dat hulle vanjaar tydens sekere wedstryde protes-aksies gaan loods. "Dié kwessie is nie net meer 'n verleentheid vir ons skole, Ussasa en Sarvu nie. Dit het die potensiaal om 'n hele gemeenskap te verdeel (soos in die ou dae), om alles tot niet te maak wat deur nasiebou en Ubuntu opgebou is, om eenheid in sport te vernietig en om Suid-Afrikaanse rugby weer eens onder groot druk te plaas." Die komitee vra ook die gemeenskap se samewerking: "Die gemeenskap word versoek om geduldig en kalm te wees en leerders die geleentheid te gee om hulle talente ten volle uit te leef sonder inmenging van buite en ons hand in hierdie verband te sterk terwyl daar op uitsluitsel van Ussasa en Sarvu gewag word." "Die komitee wil ook erkenning gee aan die goeie gesindheid en welwillendheid wat tans tussen die leierskorps van alle rolspelers heers, asook die goeie werk wat reeds deur die skoolhoofde gedoen is ten einde 'n atmosfeer van samewerking te bewerkstellig." Volgens Michael le Cordeur het die komitee nog geen reaksie van Sarvu of Ussasa ontvang nie. "Ons het wel bevestig dat hulle (Sarvu en Ussasa) die briewe ontvang het," het Le Cordeur gesê. Rian Oberholzer is tans oorsee en kon nie vir kommentaar bereik word nie. |
|
||||