|
DIE tekort aan ontwikkelingsgrond op Bolandse dorpe soos Wellinton en Paarl is die oorsaak dat welgestelde kopers - plaaslik sowel as uit die buiteland - hulle nou toespits op omliggende landbougrond wat gewild is as naweektuistes of sonnige "somertuistes" vir buitelanders.
En, sê die eienaar van die Aida Paarl-kantoor, Piet Viljoen, sakemanne met kontant in die sak koop toenemend duur wynplase of tafeldruiweplase met die oog daarop om te boer.
"Dit bring 'n welkome kapitale inspuiting vir die gebied. Baie van die nuwe eienaars bring verbeteringe aan deur byvoorbeeld boetiek-kelders te bou en in die algemeen pas hulle gesonde landbou- en bestuurspraktyke toe.
"Ons ervaar ook 'n groot vraag na klein Karooplasies van tussen 1000 en 5000ha onder besige Wes-Kaapse sakemanne wat naweke uit die stad wil wegbreek.
"Areas wat binne twee ure uit Kaapstad is, soos die Ceres-, Tankwa- en Moordenaarskaroo, is gewild, asook plase in die Ladismith, Touwsrivier, Matjiesfontein en Sutherland distrikte. Die meeste kopers stel belang in plase met pryse van tussen R800 000 tot R1,5 miljoen."
Viljoen sê pryse van eiendom op Wellington en Paarl het die afgelope 12 maande beduidend gestyg en sal aanhou styg soos wat eiendom al skaarser raak. Plaaslike pryse pas ook aan by hoër pryse wat in naburige dorpe soos Stellenbosch en Franschhoek behaal word.
"Wellington en Paarl raak ook gewilde blyplekke vir mense wat in Kaapstad werk, maar wat 'n meer landelike lewenswyse wil geniet.
"Die Agter-Paarlpad (R44) na Kaapstad is sowat twee jaar gelede opgeknap en maak dit nou baie makliker om na 'n kantoor in die stad te pendel, veral vanaf blyplek op Wellington. Ontwikkelingspotensiaal is beperk aangesien die dorpe deur berge en tradisionele landbougrond omring word.
"En die geskiedkundige 'dorpsplase' rondom Paarl mag nie ontwikkel word nie ingevolge ooreenkomste rakende residensiële ontwikkeling en belastingverligting wat vroeër met plaaslike owerhede gesluit is.
"Onlangse ontwikkeling in die Paarl was hoofsaaklik tot gholflandgoedere beperk. Die ontwikkelings bedien 'n baie klein mark en spreek nie die stygende vraag na normale woonhuise aan nie." |