ppostgothic
safetop Aida
uitlefstreep

Thursday 6 May 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 13 May  2004 at 17:30

People - Mense

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

'n Eeu se moederliefde

[ Top ]

Malané Bosman


SY is een honderd jaar oud, en sy weet wat dit beteken om 'n moeder te wees - om liefde, en nogmaals liefde, te gee.

'Ouma 99' noem die personeel van Rusoord tehuis vir bejaardes in Devinestraat, Paarl, vir Myra van Zyl. Maar nie meer vir lank nie, op 10 Junie word sy 'Ouma 100'.

Myra van Zyl het drie kinders saam met haar man Willie grootgemaak, en nadat hy haar in 1969 ontval het, die kroos met moederliefde die grootmenswêreld ingestuur.

In haar alleenjare het sy by haar dogter, Nancy Visagie van Denneburg, ingewoon. Haar getroude seuns Danie

wouma02

MET LIEFDE. Myra van Zyl van Rusoord staan op die drumpel van een honderd jare, en elke dag aan haar sy vir 'n kuiertjie en 'n koppie tee, is haar dogter Nancy Visagie (72) van Denneburg.

van Port Elizabeth en Sakkie van Potchefstroom, kuier gereeld.

"Dit was wonderlik om ouma by ons aan huis te hê. Die kinders, die agt kleinkinders en die tien agterkleinkinders is gek na haar en haar geselsies," vertel Nancy.

Ouma Myra is op 'n plaas by Vanwyksvlei in die distrik Ladismith gebore, een van agt kinders waarvan sy, die oudste, en haar jongste broer Corneels (voorheen eienaar van Gelderblom Motors en nou inwoner van Huis Vergenoegd) nog leef.

Myra het op Franschhoek skoolgegaan en was daarna aan 'n huishoudskool op Adelaide voordat sy getroud is.

Verlede jaar, toe sy begin swakker word het, het sy haar intrek by Rusoord geneem.

"Sy is baie gelukkig hier. Die personeel sorg so mooi vir haar. Ma en ek was van altyd af maats en ek kuier elke dag by haar, al is dit net 'n uurtjie wat ek by haar sit en brei en gesels.

"Waardeer jou ouers so lank jy kan. Hulle raak weer kind en jy kan hulle nooit genoeg liefde en drukkies gee nie."

So het Nancy hierdie week in ouma Myra se kamer gesels, met ouma wat doodstil, met 'n glimlaggie om die mond, in haar stoel sit. Sy hoor nie eintlik meer nie, het Nancy verduidelik.

Tot sy skielik sê: "Nou wanneer gaan maak jy tee?"

En Nancy lag.

"Sy was al die jare so, die gaste sit skaars, dan moet tee gemaak word."

Hoe sorg 'n mens dat jou man vir jou lief bly, wou ek weet.

Dit het sy kon hoor.

"Met goeie kos en baie liefde," was ouma Myra se antwoord.

"En jou kinders, hoe maak 'n mens hulle goed groot?

"Nie met pak nie; liefde maak alles reg."

En hoe is dit dat sy soveel jare gespaar gebly het?

"Omdat ek altyd aan my ouers gehoorsaam was."

En toe besluit ouma Myra van haar besoeker: "Sy is darem nuuskierig, né. Dis goed om nuuskierig te wees.

"En waar bly die tee dan? Dis nie mooi om 'n gas so sonder tee te laat kuier nie."

Liefde het ouma Myra nog baie om te deel, maar die lekker kos, dié kan sy nie meer self voorsit nie. Gelukkig het sy 'n maat wat met liefde help, haar dogter.


Hartseer ouers gee motor terug

[ Top ]


'n HARTSEER pa van Paarl-Oos het hierdie week sy dogter se mondigwordingsgeskenk gaan teruggee.

Norma Francke (20) van Waterbokstraat 64 sal nie meer die bloedrooi motor kan gebruik wat sy oor drie weke sou ontvang het nie. Sy het die naweek in 'n kop-aan-kop botsing gesterf.

Norma was alleen in haar pa se motor op pad na Vredendal, toe sy om 19:00 vyf kilometer buite Clanwilliam verongeluk het.

Die Snyman-egpaar van Stellenryk, in die motor op pad na Kaapstad, is steeds in 'n ernstige toestand.

Norma, wat deur familie en vriende as "so vriendelik, so 'n wonderlike mens" beskryf is, het in 2000 aan die Hoërskool New Orleans gematrikuleer.

Sy het afloswerk by die onderwysdepartement in Kaapstad en die Paarl gedoen, asook maatskaplike diens by Kuilsrivier voordat sy as sekretaresse by die onderwys-kantoor op Vredendal aangestel is.

"Almal het so uitgesien na haar 21ste verjaardagpartytjie," het 'n famililelid gesê.

"Die groot geskenk wat reg gestaan het vir haar, 'n Ford Laser, het haar pa nou maar teruggegee."

Norma word oorleef deur haar ouers Kenneth en Wilma Francke, ouer susters Karin en Muriel en broer Kenneth.

Die tuisdiens is Saterdag om 14:00 te Waterbokstraat 64 en die kerkdiens om 15:00 by die Annunciation Kerk in Rose-Innesstraat.

* A Paarl woman has died in a crash before her 21st birthday.


Boesemvriende saam in ongeluk

[ Top ]


'n JONG man van die Paarl se droom van 'n eie motor het die naweek saam met hom in 'n tromp-op botsing op Sir Lowryspas gesterf.

Francois Laubscher (19) het om 09:30 naby die kruin van die pas beswyk terwyl sy boesemvriend, Jean le Roux (18) van Olyvenstraat 23, in 'n semi-koma in 'n hoësorgeenheid van die Tygerberg Hospitaal opgeneem is.

Jean herstel van 'n gebreekte bekkenbeen en skade aan sy lewer, milt en longe.

Die seuns, oud-leerlinge van Labori Hoërskool en daar na studente aan die Pinelands Kollege, het altwee by die Le Rouxs se outo-elektriese onderneming, Motolek, in die Paarl gewerk.

Laubscher het tot drie weke gelede by die Le Rouxs ingewoon.

"Toe het hy huis toe getrek," vertel sy pa Riaan, bewaarder by Drakenstein Gevangenis.

"Hy wou spaar, en het drome gehad van sy eie motortjie. Hy was so 'n vredeliewende kind, so na aan ons harte."

Francois word môre om 14:00 uit die AGS Kerk in Malherbestraat ter ruste gelê.

Hy word oorleef deur sy ouers Riaan en Riana Laubscher, broer Ian (22) en sussie Anneke (13).

Miemie Carstens (74) van Table View het gesterf in die tweede motor in die botsing wat Francois se lewe gekos het. Sy was een van vyf insittendes van 'n voertuig op pad na Hermanus.

* A young Paarlite is in hospital after the crash in which his best friend died.


Burgemeester reis oorsee

[ Top ]


DIE uitvoerende burgemeester van Boland Distrikmunisipaliteit, Clarence Johnson, is tans in die buiteland saam met Drakenstein burgemeester Herman Bailey.

Johnson het verlede week Nederland besoek om uitvoering te gee aan die samewerkingsooreenkoms met die dorp Culemborg. Hy word vergesel van die Munisipale Bestuurder, Kam Chetty.

Johnson het die gebaar van Culemborg om R6,4m aan Boland te skenk vir behuising, verwelkom.

Hy het ook ontmoet met die Suid-Afrikaanse Nederlandse Kamer van Koophandel wat beoog om direkte investering in Worcester te doen.

Johnson is vandeesweek, saam met Bailey en Willie Ortell (burgemeesters van Stellenbosch) by die Stigtingsvergadering van die "United Cities of the World" in Parys.

Môre vind daar 'n vergadering tussen die burgemeester van Kaapstad, Nomaindia Mfeketo, Johnson en Christine Lepentier, onderburgemeester van Bordeaux, plaas met betrekking tot die Kaapse Wynland. Dit is om groter internasionale bemarkingsbetrokkenheid te verkry binne die "World Wine Cities", omdat die volgende tentoonstelling en kongres in die Suidelike Halfrond sal plaasvind.

Johnson sal ook dié naweek die Toerisme Indaba in Durban bywoon waar die Kaapse Wynlande en Roete 62 bemark word.


Ouma sterf in botsing

[ Top ]


'n OUMA het Sondagnamiddag voor haar man en vier kleinkinders gesterf in 'n motorbotsing digby hul woning op Wellington.

Sophia Benn (62) van Flaminkstraat 20, Hillcrest, 'n "omgee-mens wat nooit gelukkiger was as tussen haar huismense nie", het aan interne beserings beswyk.

Die Benns het om 18:30 by die Champagnestraat verkeerslig in Blignautstraat ingedraai toe 'n voertuig uit die teenoorgestelde rigting teen die voorste passasierskant gebots het.

Dié bestuurder, Julian Geduld (40) van Loevenstein-plaas, Suider-Paarl, is lig beseer.

"Ek het bestuur," het haar man, Boetie (64), hierdie week gesê. Hy het gesig- en beenbeserings opgedoen."Ek ry mos nie vinnig nie, altyd rustig."

Andrew Albertus (7) is nog in die Paarl Hospitaal met 'n heupbesering. Sy suster Ashanté (16) het 'n skouerbesering en hul broer Sean (10) 'n armbesering.'n Niggie, Estelle Slemet (3), het gesigbeserings.

"Sy het altyd almal laat tuis voel," het familielede haar onthou.

"Sy was so onbaatsugtig, en baie betrokke by die kerk en die vrouediens."

Sophia laat benewens haar man vier seuns, 'n dogter en 11 kleinkinders. Die tuisdiens is Saterdag om 12:00 by Flaminkstraat 20, en die erediens om 13:00 by die Bergrivier VGK.

Ooggetuies kan speurinsp Kernen Filander (873-1141) skakel.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za  

[ Top ]

[ Top ]