|
POLIO, 'n vergete, hoogs aansteeklike siekte uit die verlede wat mense verlam en gedood het, gaan met verskerpte massa-inentingsveldtogte die finale nekslag toegedien word.
In 'n laaste poging om te verseker dat 90% van alle kinders in die Wes-Kaap deur inenting beskerm word, sal alle kinders onder die ouderdom van vyf jaar addisionele dosisse van die polio entstof moet ontvang ongeag vorige immunisasies.
Die massa-immuniseringsveldtog sal plaasvind vanaf 10 tot 14 Junie vir die tweede dosis.
Suid-Afrika sal binnekort as polio vry verklaar word, 'n toestand wat duisende Suid-Afrikaners verlam het.
Alhoewel die laaste geval van polio in Suid-Afrika in 1989 aangemeld is, is die land nog nie as poliovry gesertifiseer nie. Hierdie verskerpte pogings vorm deel van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se globale uitwissingsveldtogte wat in 1985 geïnisieer is.
Om dit teen die jaar 2005 te kan vermag is hierdie veldtogte van kardinale belang. Oorgerustheid kan nie vir een oomblik bekostig word nie, want selfs een nuwe geval kan die begin wees van 'n epidemie.
Vir 'n land of provinsie om polio-vry gesertifiseer te kan word, moet ten minste 90% van alle kinders onder die ouderdom van vyf jaar geïmmuniseer wees.
Polio-inentings bied lewenslange beskerming mits dosisse toegedien word op die volgende ouderdomme: direk na geboorte, op ses weke, op 10 weke, op 14 weke, op 18 maande en dan weer vir oulaas wanneer die ouderdom van vyf jaar bereik word.
Alle gesondheidsdienste in die Wes-Kaap bied toegang tot polio-immunisering en dit word gratis verskaf in hospitale en klinieke.
Vir meer besonderhede aangaande die beplande veldtogte en hoe vrywilligers meer betrokke kan raak, kontak u naaste kliniek of Marvina Johnson by tel (023) 348-1424.
* Polio vaccines will be administered to children under five at local clinics next week. |