|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
TWAALF Bolanders, waaronder ses Paarliete, maak deel uit van die o.18 WP Cravenweek span wat verlede week bekend gemaak is. Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch is die skool wat die sterkste verteenwoordig is, met ses spelers in dié groep van 22. Paarl Gimnasium het vier spelers in dié span en Boishaai twee. Die Hoër Landbouskool Boland wat verlede jaar met drie Cravenweek-spelers gespog het, het geen spelers in die span nie. In die Boland span, is daar 'n Paarliet en Wellingtonner wat hul stem tydens die Cravenweek sal dikmaak. Claude Swart van Charleston Hill Sekondêr en Burton Abrahams van Bergrivier Sekondêr sal van 7 Julie tot 13 Julie op Pietermaritzburg met hul talent spog. Sien bl 30 vir akademiespanne. |
|
|
|
|
AS deel van hul voorbereiding vir die Statebondspele volgende maand, sal die SA Protea netbalspelers uit die Wes-Kaap die naweek deelneem aan die Kaap se grootste en belangrikste netbalgeleentheid. Tydens dié MTN Suidelike Toernooi wat by die DF Malan Gedenksentrum op Stellenbosch gehou word, sal senior streekspanne van Westelike Provinsie, Sentraal-Boland, Suid Westelike Distrikte, Swartland, Namakwaland en Hantam poog om die kollig van Boland, die kampioenspan van die afgelope twee jaar en tans SA kampioen, te steel. "Ons verwag 'n moeilike tweestryd tussen die Boland en WP spanne vanjaar," het Bennie Saayman, die afrigter van Boland, gesê. "WP was die wenners van hierdie toernooi van 1996 tot 1999 en ek is seker hulle kan nie wag om hulle hande op die kroon te lê nie!". Albei spanne is onder die top drie in die land en spog met ervare Protea en internasionale speelsters. SA Protea kaptein Bronwyn Bock en Danlee Booysen sal die WP se sterk kern vorm, maar hulle sal ook heelwat staatmaak op hulle Nasionale Ligaspelers soos hulpdoel Heidré van Eeden, Vanessa Lingeveldt en Chrisna Baard. Boland sal hul kombinasie van jeug en ervaring tentoonstel met voormalige Protea Julene Meyer, kaptein Mabel van der Vyver en Thora van Zyl wat 'n indrukwekkende verdedigingslinie sal vorm. In die senterbaan sal Liezel Wium, wat tot dusver in die seisoen deurentyd met beserings gepla is, hopelik fiks wees om die Boland aanval te lei saam met Leana Lourens en die talentvolle jongeling en Paarliet Dianthea Thyssen. Die akkurate Nita van der Westhuizen sal saam met Sandra Conradie, nog 'n Paarliet, wat uitstekende vorm getoon het in die Nasionale Liga, elke kans gebruik om die doele op te stapel. "Alles dui op nog 'n opwindende seisoen van netbal in die Wes-Kaap," het Peter During, streekbestuurder van MTN in die Wes-Kaap, gesê. "Navorsing het bewys dat netbal nie net in Suid-Afrika die gewildste vrouesportsoort is nie, maar ook internasionaal. Meer as 1,5 miljoen meisies en vroue speel jaarliks netbal in Suid-Afrika, en tot nou is die sport grotendeels geïgnoreer deur die media en korporatiewe borge. "Die MTN Suidelike Toernooi word jaarliks aangebied om die Kaap se beste netbalspelsers blootstelling te gee. "Die feit dat Proteas dit as oefengeleentheid gebruik vir die Statebondspele, bewys dat die toernooi van die sterkste kompetisie landwyd bied," meen During. Die toernooiwedstryde begin môreaand om 18:15. Die eerstespanne van WP en Boland sê mekaar Saterdag om 14:00 die stryd aan op die hoofbaan. * The netbal teams of Boland and Western Province clash this weekend in Stellenbosch during the MTN Southern Tournament. |
|
|
|
|
DIE Brodiespan van Paarl Gholfklub is steeds onoorwonne na afloop van die sesde rondte verlede Saterdag op die Stellenbosch Gholfbaan. Dit was die span van Moorreesburg wat sterk teenstand gebied het op 'n baan gekenmerk deur vinnige setperke. Paarl kon net-net daarin slaag om met 4½-3½ te seëvier. Johan Neethling het Johan Lubbe met 4-3 geklop. Clive Fredericks het vir Marius Kemp en Jan Vorster het vir Ben Smit met 2-1 uitgeskakel. 'n Gelykop-uitslag tussen Herman Fredericks en Nicky Lategan het die skaal in die guns van die Paarlse span geswaai. Die span van Somerset-Wes B het minder teenstand gebied. Oorwinnings deur Chris Droomer, Cassie Viljoen, Herman Fredericks, Eric Troost, Johan Neethling en Clive Fredericks het aan die span 'n wentotaal van 6-2 besorg. Die laaste rondte vind op die De Hoekbaan plaas waar Paarl vir Vredendal moet klop om die semi-finaal te haal. |
|
|
|
|
DIE spelers wat nie die Cravenweek meriete-rugbyspan gehaal het nie, kan steeds deel wees van die o.18 Cravenweek wat van 7 Julie tot 13 Julie in Pietermaritzburg gehou word. Die spelers wat in die WP Platteland, Noordelikes en Suidelikes spanne opgeneem is, sal van 30 Junie tot 3 Julie op Worcester aan die Streek Akademietoernooi deelneem teen drie spanne van Boland en SWD. Volgens Theo Kleynhans, bestuurder van jeugrugby by WP Rugby, sal daar ná afloop van die toernooi 'n o.18 Westelike Kusstreekspan gekies word wat ook aan die Cravenweek sal deelneem. Soortgelyke spanne van die Noordelike streek, Oostelike Kusstreek en Sentrale streek gaan ook verkies word. Drie o.16 sonespanne - 'n platteland, suidelike en noordelike span is ook verkies en sal ook aan die toernooi op Worcester deelneem. "Die o.16 kompetisie is slegs in die belang van ontwikkeling," het Kleynhans gesê. Vyf Boishaaiers en drie Gimmies is in die o.18 WP Platteland span opgeneem wat onder die kapteinskap van Piet Niemand van Hoër Landbouskool Boland die veld sal neem. WP Platteland o.18: Alwyn burger 12 (HJS), CP Mouton 11 (Gim), Godwin Walters 10 (Gim), Piet Niemand 8 (Boland), Ebrahim Moerat 2 (HJS), Gert van Wyk 1 (HJS). Res: Niel Joubert (Gim), Wilhelm Steenkamp (HJS), Danie van der Merwe (HJS). WP Platteland o.16: Bright Ndhlovu 15 (HJS), Ashley Johnson 8 (Gim), Cobus Visagie 7 (Gim), Carlo Prinsloo 1 (Gim). Res: Dries Pienaar (HJS), Craig Johnston (HJS), Ricardo Croy (Gim), Angelo Pietersen (Gim). Die o.18 en o.16 Boland Plattelandspanne asook die laerskole Cravenweekspanne sal volgende week geplaas word. |
|
|
|
|
Ná drie agtereenvolgende nederlae vir Young Peoples, sou hul oorwinning oor Young Stars verlede Saterdag beslis soet op die tong van die Paarliete geval het. Die Tiere het van die afskop af beheer oorgeneem op die Groenpunt veld en met die aanskoulike hardlooprugby waarvoor hulle bekend is, die tuisspan stelselmatig begrawe. Hoewel die Kaapse spelers met geniepsige spel die Paarliete probeer intimideer het, het die besoekers geweier om bes te gee. Peoples se pak voorspelers, met die flank Geoff Paulse, slot Diff Fredericks en haker Franklin Mitchell aan die spits, het met harde inklimrugby die wind uit Young Stars se seile geneem. Peoples se agterlyn het ook beter vertoon, met veral die senter Giezler Sitzer wat weer sy goeie vorm van ouds getoon het. Die maroentruie se agterlyn het ook gans te veel spoed vir Stars gehad en het vier skitterdrieë ingeryg. Die skopskoen van Sam Titus het ook sy werk gedoen en het met vier strafskoppe en twee doelskoppe geslaag. Jaques Lategan (2), Charles Booysen en Justin Fortuin het Peoples se drieë gedruk. Die tweede span het ook met 20-12 geseëvier, maar die derde span moes met 'n 3-15 verloor tevrede wees. |
|
||||