safetop
uitleg2mouthpiece
ppostgothic
uitlefstreep

Thursday 6 Novemberr 2003

uitlefstreep

This site will be updated on 13 November  2003 at 17:00

People - Mense

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Die wonder van lewe

Malané Bosman

[ Top ]


KAREL DU PLOOY lewe, en hy het begin loop. Dít nadat die jong man ses maande gelede van die nek af verlam was ná 'n motorongeluk teen Paarlberg.

Die Du Plooy-gesin van Noorder-Paarl juig. Hulle het so baie om voor dankbaar te wees sê Karel, pa Kobus en ma Jeanette.

"Ons gesin het deur soveel emosies gegaan - ontkenning, berou. Maar jy moet die verlede afsluit of jy bly seer.

"Karel se gees lewe, net sy liggaam het verander. En ons besef die kosbaarheid van die lewe," sê die ouerpaar .

wplooy01FC

KAREL DU PLOOY (20), met sy hond Jackie.

weerskante van hul seun se rolstoel.

Karel (20) het op 14 April vanjaar hoog in sy nek 'n rugmurgbesering opgedoen toe die motor waarin hy 'n passasier was, gerol het.

In die hoësorgeenheid van die hospitaal vir spinaalbeseerdes in Wynberg het hy nagmerries gehad. Daar was die verskriklikste pyn in sy nek. Maar sê Karel, ook pyn van binne.

"Jou hart is so vreeslik seer."

Die jong man se grootste verlies vandag is aan privaatheid. Sy ouers help hom was. Elke tweede aand moet hy 'n setpil kry.

"'n Mens moet die humor raaksien. Ek verduidelik dan maar aan my vriende hulle kan nie kuier nie, dis bom-aand," glimlag hy.

Voordat Karel ontslaan is, het Jeanette in die hospitaal oorgebly om touwys gemaak te word.

Voor die ongeluk het pa, ma en Karel saam by Absa-bank gewerk. Nou het sy 'n ander werk, wat sy met liefde verrig, sê sy.

In die hospitaal het hulle die kuns van fisioterapie bemeester en geleer om Karel se longe te masseer en hoe om te help dat hy sy neus uit sy maag blaas, want hy haal deur sy diafragma asem.

Die Du Plooys het ná die ongeluk meer as 40 000km gery tussen die Paarl en die hospitaal.

Die dokters kan Karel se vordering skaars glo. Hulle meen dis omdat hy so hard werk en omdat hy en sy gesin so positief is.

"Ek het elke dag daarna uitgesien om vir my ouers iets nuuts te wys. Dan kon ek my duim beweeg, dan my been lig, my toon beweeg.

Toe hy einde Augustus huis toe kon kom, het sy liggaam nog onbeheersd geruk en moes hy daagliks 23 pille sluk.

Sy gewig het van 58kg na 44kg geval.

Voorverlede Maandag is hy geopereer vir die inplant van 'n reguleerder om die spierspasmas stop te sit. Hy gebruik nie meer die baie spierverslappers en pynstillende medikasie nie.

"Karel gesels weer, is lewenslustig en die ou spitsvondigheid is weer daar."

Karel kan nou met hulp opstaan, met hulp sy bene willekeurig vorentoe beweeg en regop bly staan.

Karel mis die jongmenslewe. Hy dink hoe baie by hom verbygaan en dan word hy hartseer.

"Maar dan kyk ek na wat ek alweer het. Jy moet besluit - ek gaan  loop, al neem dit  lank.

"Daar is altyd my ouers, gesin en spesiale vriende wat my opbeur."

Daar is ook Jackie, sy drie-maande oue Jack Russell wat van die eerste ontmoeting af haar lêplekkie op die bed by Karel se kop gemaak het.

Die Du Plooys het 'n tweeling (die vyftienjarige Kobus en Jeannie) wat op sewe maande gebore is en weens 'n suurstoftekort gestremd is.

"So ons was voorbereid, maar hierdie was steeds 'n groot slag.

"Karel is al van sy derde jaar in pyn met rumatoïde artritis. Hy is daardie gevegte deur, en hy en sy broer Jaco (17) het alles saam gedoen.

"Maar Karel se rugmurg kon nou af gewees het, en dan sou hy niks kon gevoel het nie.

"Nou kan hy sê as hy ongemaklik is en ons kan sorg dat hy nie bedsere kry nie of die kateter vervang voordat dit verstop.

"Hy het ons altyd so mooi met die tweeling gehelp, en nou kan ons hom weer help."

Die gesin is dankbaar.

"Dat Karel lewe. Vir die vrou wat by die ongeluk vir hom gebid het. Vir die ambulanspersoneel wat Karel so professioneel hanteer het. Vir dr Daan Botes wat die aand en sy nek reg geset het.

"Vir die hospitaalpersoneel waar ons by Karel gekuier het dat die biesies bewe. Vir die inspirasie van ander in dieselfde bootjie.

"Vir die ondersteuning en gebede. Dat ons as gesin staande bly. Vir die mediese fonds se spesiale vergunnings."

Kobus sê: "Die lewe is nietig. 'n Ongeluk gebeur so vinnig. 'n Mens moet altyd groet, altyd sê jy's jammer, die kinders vertel hoe lief jy vir hulle is."

"En jy moet elke dag lewe asof dit jou laaste is - voluit en met dankbaarheid.

"Ons is eintlik geseënd, want ons kind lewe en daar is ongelooflike vooruitsigte.

"Ons hoor nou van ander se tragedie en dan huil ons vir wat vir hulle voorlê. Ons trane loop deesdae maklik," sê die groot pa met die sagte hart, sy oë blinknat.

* A young Paarlite is recovering from a serious spinal injury


Lang pad met rekenaars

[ Top ]


Johann Lemmer het in Maart 1998 op Wellington aangekom met die visie om kerkmense toe te rus vir uitreike in die sendingveld.

Van 'n klein begin met 'n eerste uitreik na Botswana het Worship Getaways gegroei na 'n bediening waar sy vrou, Marinda, tans aan die hoof staan van hul bediening in die Paarl hospitaal se kindersale en 'n kinderklub op Welvanpas in die Bovlei.

Met sy uitreike na die sendingveld het Johan al hoe meer onder die indruk gekom van die groot behoefte aan rekenaars in sendelinge se bediening.

Daarom versamel hy skenkings van ou rekenaars, wat hy saam met ander vrywilligers herstel en voorberei vir gebruik in die sendingveld.

Baie tweedehandse drukkers, waaronder selfs laserdrukkers, het so hulle pad na die sendingveld gevind - ook plaaslik (een van die eerste ontvangers was dan ook die Oehleys van Amos).

Johann reis nou jaarliks na Morgenster in Zimbabwe, Hefsiba in Mosambiek en Nkhoma in Malawi om rekenaars aan te ry, rekenaarhardeware te herstel en tegniese sowel as Microsoft opleiding aan te bied.

Johann vertrek vandeesweek op 'n nuwe roete, na Luanda in Angola, om besoek te bring aan Wessel en Joan van der Merwe van Operasie Mobilisasie en ook die Ingreja Reformada de Angola in dié stad.

CompuMission, die Lemmer egpaar se "tentmaker-besigheid", voorsien fondse vir Worship Getaways se bediening.

Lemmer kan gekontak word by tel 864-2042/873-5834. Sy epos adres is johann@compumission.co.za.


Onderwyser oorlede

[ Top ]


"OP 15 September het sy verjaar en besluit om 'n paar stukkies vleis vir ons op die rooster te gooi om dankie te sê. Dit was amper asof sy geweet het sy gaan sterf."

Só het Len Rhoda, adjunk-hoof by Windmeul Primêr, vandeesweek gesê na die skielike dood van onderwyseres Neliswa Mafila (34).

Mafila, wat Xhosa vir 'n gekombineerde klas van graad 6 en 7 by dié skool aangebied het, is vroeg Saterdagoggend onverwags by haar huis in Mbekweni oorlede.

Volgens Rhoda was Mafila 'n baie positiewe, sprankelende mens en 'n toegewyde onderwyser wat ook netbal en atletiek by die skool afgerig het.

Sy word oorleef deur haar man, Solani, en hul vierjarige seun, Gugu.

Die begrafnis is Saterdag om 09:00 vanuit hul huis te Pholapark 3214, Mbekweni, gevolg deur 'n diens in die Ou Apostoliese Kerk.

* A local teacher has died suddenly.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za