|
weerskante van hul seun se rolstoel.
Karel (20) het op 14 April vanjaar hoog in sy nek 'n rugmurgbesering opgedoen toe die motor waarin hy 'n passasier was, gerol het.
In die hoësorgeenheid van die hospitaal vir spinaalbeseerdes in Wynberg het hy nagmerries gehad. Daar was die verskriklikste pyn in sy nek. Maar sê Karel, ook pyn van binne.
"Jou hart is so vreeslik seer."
Die jong man se grootste verlies vandag is aan privaatheid. Sy ouers help hom was. Elke tweede aand moet hy 'n setpil kry.
"'n Mens moet die humor raaksien. Ek verduidelik dan maar aan my vriende hulle kan nie kuier nie, dis bom-aand," glimlag hy.
Voordat Karel ontslaan is, het Jeanette in die hospitaal oorgebly om touwys gemaak te word.
Voor die ongeluk het pa, ma en Karel saam by Absa-bank gewerk. Nou het sy 'n ander werk, wat sy met liefde verrig, sê sy.
In die hospitaal het hulle die kuns van fisioterapie bemeester en geleer om Karel se longe te masseer en hoe om te help dat hy sy neus uit sy maag blaas, want hy haal deur sy diafragma asem.
Die Du Plooys het ná die ongeluk meer as 40 000km gery tussen die Paarl en die hospitaal.
Die dokters kan Karel se vordering skaars glo. Hulle meen dis omdat hy so hard werk en omdat hy en sy gesin so positief is.
"Ek het elke dag daarna uitgesien om vir my ouers iets nuuts te wys. Dan kon ek my duim beweeg, dan my been lig, my toon beweeg.
Toe hy einde Augustus huis toe kon kom, het sy liggaam nog onbeheersd geruk en moes hy daagliks 23 pille sluk.
Sy gewig het van 58kg na 44kg geval.
Voorverlede Maandag is hy geopereer vir die inplant van 'n reguleerder om die spierspasmas stop te sit. Hy gebruik nie meer die baie spierverslappers en pynstillende medikasie nie.
"Karel gesels weer, is lewenslustig en die ou spitsvondigheid is weer daar."
Karel kan nou met hulp opstaan, met hulp sy bene willekeurig vorentoe beweeg en regop bly staan.
Karel mis die jongmenslewe. Hy dink hoe baie by hom verbygaan en dan word hy hartseer.
"Maar dan kyk ek na wat ek alweer het. Jy moet besluit - ek gaan loop, al neem dit lank.
"Daar is altyd my ouers, gesin en spesiale vriende wat my opbeur."
Daar is ook Jackie, sy drie-maande oue Jack Russell wat van die eerste ontmoeting af haar lêplekkie op die bed by Karel se kop gemaak het.
Die Du Plooys het 'n tweeling (die vyftienjarige Kobus en Jeannie) wat op sewe maande gebore is en weens 'n suurstoftekort gestremd is.
"So ons was voorbereid, maar hierdie was steeds 'n groot slag.
"Karel is al van sy derde jaar in pyn met rumatoïde artritis. Hy is daardie gevegte deur, en hy en sy broer Jaco (17) het alles saam gedoen.
"Maar Karel se rugmurg kon nou af gewees het, en dan sou hy niks kon gevoel het nie.
"Nou kan hy sê as hy ongemaklik is en ons kan sorg dat hy nie bedsere kry nie of die kateter vervang voordat dit verstop.
"Hy het ons altyd so mooi met die tweeling gehelp, en nou kan ons hom weer help."
Die gesin is dankbaar.
"Dat Karel lewe. Vir die vrou wat by die ongeluk vir hom gebid het. Vir die ambulanspersoneel wat Karel so professioneel hanteer het. Vir dr Daan Botes wat die aand en sy nek reg geset het.
"Vir die hospitaalpersoneel waar ons by Karel gekuier het dat die biesies bewe. Vir die inspirasie van ander in dieselfde bootjie.
"Vir die ondersteuning en gebede. Dat ons as gesin staande bly. Vir die mediese fonds se spesiale vergunnings."
Kobus sê: "Die lewe is nietig. 'n Ongeluk gebeur so vinnig. 'n Mens moet altyd groet, altyd sê jy's jammer, die kinders vertel hoe lief jy vir hulle is."
"En jy moet elke dag lewe asof dit jou laaste is - voluit en met dankbaarheid.
"Ons is eintlik geseënd, want ons kind lewe en daar is ongelooflike vooruitsigte.
"Ons hoor nou van ander se tragedie en dan huil ons vir wat vir hulle voorlê. Ons trane loop deesdae maklik," sê die groot pa met die sagte hart, sy oë blinknat.
* A young Paarlite is recovering from a serious spinal injury |