|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
voorbereiding op die Olimpiese Spele in Athene volgende jaar. "Die grootste deel van die jaar het ek saam met die groep geoefen in Johannesburg onder leiding van die nasionale afrigter, die Koreaanse Master Cho," vertel Anelle wat verlede jaar aan La Rochelle gematrikuleer het. "In Desember word die Wêreldkwalifiserende Toernooi in Parys gehou." Die eerste drie vegters in elke gewigsafdeling kwalifiseer vir die Olimpiese Spele. In Februarie word die Afrika Kwalifiserende Toernooi in Egipte gehou waar die eerste twee vegters in elke gewigsafdeling gekies word. "Dis eintlik waar my kans lê," beskryf Anelle haar kanse om in die SA Spele-span opgeneem te word. Haar kans om wel die kompetisie se bene onder hulle uit te skop, is goed. Anelle het in 2001 haar eerste groot prestasie behaal toe sy goud verower het tydens die Afrika Spele. Na dié prestasie het sy aan die Wêreldkampioenskappe in Korea deelgeneem waar sy in die eerste ronde uitge-skakel is. Ondanks haar vroeë uitskakeling was Anelle nie te teleurgesteld nie. "Dit was my eerste smakie van internasionale deelname. Ek was eintlik heel tevrede met die 5-2 telling wat ek teen Belen Fernandez (Wêreldbekerkampioen) aangeteken het. "Ek was 17 en sy 29, dit was my eerste senior Wêreldkampioenskappe en boonop in Korea, die hartland van Taekwondo, en dit was ook die eerste een van die millennium - dit was huge," vertel sy geesdriftig. In 2002 het sy haar witpak en gordel vir eers weggepak om op haar skoolwerk te konsentreer. Maar sedert Desember was dit net 'n warrelwind van oefeninge en kompetisies. "Aan die einde van die jaar is ek Johannesburg toe waar ek vir 'n maand en 'n half by die Noksa-groep aangesluit het." "In September het ek weer aan die Wêreldkampioenskappe in Duitsland deelgeneem. Ek het die eerste ronde teen Venezuela gewen, maar in die tweede ronde teen Korea, die goue medaljewenner in 2001, 12-2 verloor. "Tydens die Afrika Spele in Nigerië het ek silwer gewen." Sy is in die finaal deur Mariam Bak van die Ivoorkus met 2-1 geklop. Met die groot toernooie agter die rug, is Anelle se prioriteit om nou die SA span te haal. "Deelname aan die Olimpiese Spele is my droom." |
|
|
|
|
DIE krieketspan van Bergrivier se Premierliga-span was Saterdag op hul tuisveld in 'n vernietigende bui toe hulle Korrektiewe Dienste Paarl oortuigend met ses paaltjies geklop het. Korrektiewe Dienste het eerste gekolf en was reeds vroeg in die moeilikheid toe hulle 3/14 gehad het. Puik boul- en veldwerk het die tuisspan in staat gestel om deurlopende druk op die besoekers te plaas. Nathan Thomas (2/8 in 8bb), Ashwill de Vries (3/23 in 6bb) en Jack Abrahams (2/23 in 8bb) was die tuisspan se beste boulers. Bergrivier was vroeg in die moeilikheid toe hul eerste paaltjie in die derde beurt val. Die knap kolfwerk van Wes Goetham (41 5x4) en Mark Julies (15nun) het daartoe bygedra dat hul span die totaal vir vier paaltjies kon aanteken. Paul Snyman (1/17) en Chris Carstens (1/14) was die besoekers se beste boulers. Bergrivier se tweede span was minder suksesvol teen Spes Bona II op Stellenbosch met die wedstryd wat onbeslis geëindig het. Die besoekers het teen die einde met 'n goeie vertoning na vore gekom, maar kon nie die paaltjies kry nie. Verbroude vangkanse het sake vir Bergrivier verder bemoeilik. Bergrivier kry 277/6, met 'n pragbeurt deur Brian Williams 133 (13x4, 4x6), Heinrich Albertus (46 6x4), Alfonso Farao (23) en Eaton Pietersen (23). Spes Bona se staatmakers was Ricardo Jacobs (104, 11x4) en Ashley Dampies (83, 13x4) wat albei op 2 en 8 onderskeidelik misgevang is, het 'n skitterende vennootskap van 190 om die tweede paaltjie aangeteken. Bergrivier se boulers kon nie veel uitrig nie, met Heinrich Albertus (3/71) en Kurt Carolissen (1/62) wat die beste gevaar het. Bergrivier beperk die tuisspan tot 273/6. Bergrivier I speel Saterdag op Stellenbosch teen Spes Bona, terwyl die tweede span teen Paarl III kragte meet. |
|
|
|
|
'n ONOORWONNE honderdtal deur Brendon Adams (foto) het Sondag daartoe bygedra dat Young Peoples se eerste span vir Van der Stel met 70 lopies op Daljosafat geklop het. Adams wie se 118nun nege grenshoue ingesluit het, is goed bygestaan deur Quinton Kannemeyer wat 'n netjiese 55 gemoker het asook Elrich Jansen (26). Peoples volstaan met 236/5 ná hul toegelate 60 beurte. Die tuisspanboulers, Kannemeyer (3/18), Deon Smith (3/26), Jacques Krynauw (2/31) en Mark Borchards (2/14), het die besoekers tot 166 lopies, almal uit, beperk. Saterdag het dieselfde span met nog 'n Stellenbosse span afgereken toe hulle vir Victoriane met 43 lopies geklop het. Peoples slaan 201/10 met Edwin Jacobs (54), Roswin Jeptha (41) en Adams (23) wat met breë kolwe speel. Krynauw (3/66) en Smith (2/21) gee weer die pas aan met die bal en Vics word tot 158 beperk. Die tweede span het in 'n wegwedstryd vir Brackenfell met sewe paaltjies geklop. Brackenfell kry 129 met Gercian Gabriels (5/36), en Jarier Alexander (4/47) wat uitblink. Peoples kolf op hul gemak en kry die wenlopies danksy Grant Kuiler (50), Brendon Gabriels (29) en Wade Anderson (21). Peoples III het twee paaltjies gekort vir 'n sege teen Van der Stel III, maar moes tevrede wees met 'n onbesliste uitslag. Peoples slaan 213/10 met James Hey (42), Ricardo Kermis (34) en Ulrich Matthews (34) wat die lopies inryg. Van der Stel word tot 174/8 beperk in hul 60 boulbeurte, met Kermis (5/40) wat met die bal toegeslaan het. Peoples I speel Saterdag tuis teen Coronations, die tweede span tuis teen Wellington en die derde span weg teen Korrektiewe Dienste op Allandale. |
|
|
|
|
NÁ 'n goeie begin het Paarl se eerste krieketspan Saterdag aan die hand van Brackenfell sy eerste nederlaag van die seisoen gely. Die Paarliete het ondergemiddeld vertoon in al die fasette van die spel. Brackenfell kolf eerste en met die telling op 3/34 lyk dit asof Paarl nog 'n teenstander gaan kafdraf. Swak veldwerk en verbroude vangkanse het egter vir Brackenfell kans gegee om hulself uit 'n wurggreep los te wikkel. A de Beer (124) teken 'n honderdtal aan nadat hy vroeg in sy beurt deur paaltjiewagter Bobby Nicholson misgevang word. De Beer word ook bygestaan deur G Fourie wat 'n vyftigtal aanteken. Ongedissiplineerde boulwerk laat Brackenfell toe om 80 lopies in hul laaste 10 boulbeurte aan te teken. Die Brakke teken uiteindelik 260 lopies in 60 boulbeurte aan. Lynal Jansen (2/51) en Utallyn Ernstzen (2/30) het hard probeer om Brackenfell se lopies te beperk. Paarl se aanvangskolwers lê 'n stewige fondament met Marco Walters (54) en Rudy Andrews (18) se vennootskap van 54 lopies om die eerste paaltjie. Met die telling op 120/2 verloor Paarl sy derde paaltjie wat tot 'n mini-ineenstorting lei toe paaltjies kort na mekaar val. Paarl verloor ses paaltjies terwyl slegs vyf lopies by die totaal gevoeg kon word. Paarl se laaste paaltjie kantel in die 54ste boulbeurt met die telling op 198. Bobby Nicholson (39) en Utallyn Ernstzen (34) het ook goed gekolf. Dié naweek moet Paarl I teen Maties I wys dat dié verloor net 'n tydelike terugslag was. Paarl II klop Van der Stel III in 'n wegwedstryd met ses paaltjies. Van der Stel teken 204/7 in 60 beurte aan met Elton du Plessis (4/64) en Rohan Goetham (2/41) wat goed met die bal gevaar het. Paarl se Courtley Pharaoh (100) en Wayne Williams (44) ryg die lopies in en sorg dat hul span die wenlopies in die 49ste boulbeurt aanteken. Paarl IV (68/10) verloor teen Elgin I (258/10) met 190 lopies. Paarl se beste boulers was D Wilken (3/13) en P Roos (4/49) terwyl C Laubscher (25) en N Roos (17) die hoogste tellings aangeteken het. Paarl V (147/6) verloor teen Kromco I (203/7) met 56 lopies. Paarl se beste boulers was A Willemse (2/23) en E Jacobs (3/21) terwyl K Beffels (36), E Jacobs (26) en C Williams goed gekolf het. Sondag speel Paarl I weg teen Maties I, en Saterdag speel Paarl II weg teen Vredenburg/Saldanha II, Paarl III speel tuis teen Bergrivier II, Paarl IV speel weg teen Swellendam I en Paarl V speel tuis teen Mbekweni. |
|
|
|
|
FIETSRY-AKSIE uit die boonste rakke is Donderdagaand opgelewer tydens Rhadsport se byeenkoms op Faurestraat. Ondanks 'n ligte misreën wat half-half gedreig het om uit te sak, het heelwat plaaslike ryers asook dié van die Bellville en City fietsryklubs hul opwagting gemaak. Die Rhadsport klub se opdrag aan sy ryers om nie as 'n span saam te werk nie, het tot goeie individuele pogings deur elke jaer gelei. As die Rhadsport-ryers saamgejaag het, sou hulle oorheers het met 20 van die 36 deelnemers wat lede van dié klub was. Veral die ope wedrenne het aanskoulike fietsry opgelewer, maar die o.16, o.14 en o.10/o.12 jaers het ook geensins vir mekaar teruggestaan nie. Die byeenkoms is op 'n omnium-basis bepaal, met ryers wat punte verdien vir hul plek in elke wedren. In die ope-afdeling was dit die talentvolle Nolan Hoffman (Rhadsport) wat met die louere weggestap het, met Byron Kulsen en Ashley Kulsen (albei ook van Rhadsport) in die tweede en derde plekke. In die o.16 afdeling het Réniell Matthysen (Paarl) koning gekraai gevolg deur Ivano Siebritz en Reginald Benjamin albei van Rhadsport. Ashley Daniels (Rhadsport) was die pasaangeër in die o.14-groep, met Grant Stuurman (Rhadsport) tweede en Tasheim Collins van Bellville derde. Onder die o.10/o.12's het Yorkshire-ryer, Avery Arendse, weer die kuite laat bult vir sy eerste plek gevolg deur Duanne Pierre Louw (City), en Dillion Overmeyer van Bellville. Die fietsrybeamptes het hul kommer uitgespreek oor die tariewe vir die baan. "Die koste vir die gebruik van die Faurestraat-baan kan 'n stok in die wiele van die baanfietsryers word. "Die plaaslike owerheid moet besef dat fietsry 'n duur sport is vir die deelnemers. Ontwikkeling van die sport kan nie geskied indien deelnemers hoë inskrywingsfooie moet betaal nie," het Eddie Kulsen, baanorganiseerder van die Boland Fietsryunie gesê. Klubs betaal tans R365 (oor naweke) vir die baan se gebruik. 'n Deposito van R519 moet betaal word om oortyd en die gebruik van die spreiligte te dek. "Ons betaal almal belasting en dit is sekerlik die plig van die munisipaliteit om geriewe te voorsien wat deur bona fide klubs gebruik kan word. "Ons moet almal saamwerk om die jeug by sport te betrek," het Kulsen gesê. |
|
|
|
|
DIE Boland vrouekrieketspan het Saterdag nog 'n goeie naweek afgeskop met 'n maklike oorwinning oor Griekwas op Kimberley. Griekwas kon in hul 50 beurte net 118/6 op die telbord sit, danksy die akkurate boulwerk van Ashlyn Kilowan met 2/8 in 10 boulbeurte. Sy is goed ondersteun deur Veronique Whitebooi (2/38) en Josie Barnard (2/23). Die besoekers se kolfbeurt kon nie beter afgeskop het nie. 'n Aanskoulike 92-lopie vennootskap deur Barnard (61 nun) en Beth Cartledge (33) het die sege van nege paaltjies verseker. Sondag het die Bolanders weer hul slag op Bloemfontein gewys toe hulle vir Vrystaat ore aangesit het. Boland is ingestuur om te kolf en tot 134 beperk, met net Josie Barnard (39) wat die kolf kon swaai. Die besoekers is vroeg onder druk geplaas toe die Vrystaters 'n paar vinnige lopies op die bord gekry het. Volgehoue druk en flinke veldwerk deur Boland het egter die druk na die tuisspan verplaas. Paaltjies wat met reëlmaat geval het deur goeie boulverandering deur die Bolandse kaptein, Cartledge, het die Vrystaat-kolwers se momentum gou verbreek. Die beste boulers was Ilse Langhout (2/3), Audrey Petersen (2/5) en Barnard (2/20). Boland wen met 32 lopies en is nou bo-aan die punteleer in die kusstreek met 11 punte uit 'n moontlike 12. |
|
||||