|
AS 'n eienaar van 'n besigheid in Lady Greystraat, is dit vir my ontstellend om te lees dat die publiek aangeraai word om hul inkopies êrens anders as in Lady Greystraat te doen.
Wat die skrywer van die brief "Paarl se eie misdaadroete ruk jou sak" egter vergeet, is dat jy kan en jy sal beroof word in die hoofstrate van Springbok, Darling en tot voor die deur van die NG Kerk Boksburg!
Wetstoepassing in elke dorp, stad, straat en op plase bestaan nie op die oomblik nie.
Wat die skrywer en vele ander nie besef nie, is dat hulle 'n bose kringloop aan die gang sit, wanneer hulle mense aanbeveel om hul beursies elders heen te vat.
As Paarl se gemeenskap nie plaaslike besighede ondersteun nie, sal hulle sluit. Dit sal direk daartoe lei dat personeel hul werk verloor en hul afhanklikes sonder enige bron van inkomste sit.
Die resultaat? Die gemeenskap stort in duie en hulle vestig hul aandag op misdaad om brood op die tafel te sit. So, dan sit ons sonder 'n sentrale sakekern met 50% meer misdaad - baie erger as waar ons nou is.
Wat die skrywer wel kan doen is om 807-4000 te skakel en te vra wat die Paarl Polisie doen om die probleme op te los.
Hoekom word die Weermag nie permanent in Lady Greystraat geplaas nie?
Waarvoor het ons 'n sekuriteitsfirma betaal om 'n man op die straat te plaas vir sekuriteit as hy sit en TV kyk by die meubelwinkels en wegkruip as moeilikheid begin?
Ek pleit by die algemene publiek om nie toe te gee aan doemprofete nie. Ondersteun plaaslike en eg Suid-Afrikaanse besighede. Sonder jul ondersteuning sal die Paarl se sakekern sowel as sakekerns in elke dorp en stad in Suid-Afrika verdwyn.
Ons sit nie met 'n plaaslike probleem nie, maar 'n nasionale probleem. Plaas druk op die polisie, burgemeesters, sekuriteitsmaatskappye en grondeienaars. Julle as publiek en ons as eienaars betaal vir die dienste wat hulle moet lewer.
Ons soek resultate, nie doemprofete nie!
Marius Groenewald |