|
HEELWAT rugbyklubs het die naweek litte begin losmaak vir die komende seisoen deur 'n paar vriendskaplike wedstryde te speel.
Die spelers van Newtons Rugbyklub het Saterdag hul stewels begin uittrap in 'n wedstryd teen Paarl Rugbyklub.
Die wedstryd wat in snikhete op die Boy Louw veld gespeel is, het goed vir die Paarl begin, wat eerste punte aangeteken het.
Paarl se agsteman, Werner Visagie, het gedruk met skrumskakel Jacques Hendriks wat met die doelskop slaag.
Newtons het kort daarna teruggeveg, met twee onverdoelde drieë deur Gamian Poggenpoel (senter) en Renferd Dazel (losskakel) wat die rustydtelling op 10-7 te staan gebring het.
In die tweede helfte het die hitte en fiksheidspeil van die spelers sy tol begin eis, met hanteerfoute en slordige spel wat kop begin uitsteek het.
'n Goeie stukkie spel deur Newtons skrumskakel, Rod Claasen, het uitgeloop op 'n drie deur die slot, Jerome Hendricks. Dazel verdoel en Newtons wen 17-7.
Newtons speel Saterdag weg teen Tulbagh.
Oorgretigheid het Rangers die naweek sy wedstryd teen Laer Paarl gekos. Die agterlyn se onvermoë om die voordeellyn oor te steek, het daartoe bygedra dat Rangers se voorspelers voortdurend moes terugspeel.
Teen rustyd het Laer Paarl 17-3 voorgeloop, met goeie samespel tussen voor- en agterspelers wat die wedstryd in hul guns laat verloop het. Laer Paarl se verdediging hou en hulle wen 23-10.
M Adams druk Laer Paarl se twee drieë, met D Daniels wat met twee doelskoppe en drie strafskoppe slaag.
Jonathan Philander druk vir Rangers terwyl Mark Adams met 'n doel- en strafskop slaag.
Saterdag speel Rangers weg teen Kylemore. Vervoer vertrek om 12:30 vanaf Groenheuwel.
Die Young Peoples rugbyklub het sy seisoen op 'n hoë noot afgeskop toe hy Saterdag op Daljosafat die Superliga-span van Bellville/Tech met 31-24 ore aangesit het.
Die Tiere het vyf drieë in die wedstryd gedruk.
Die besoekers se groot pak voorspelers het aanvanklik die skrums en lynstane oorheers.
Die tuisspan het met sy fiksheid en balbesit beïndruk, met die spoed van die agterlyn wat veral in die tweede helfte te veel was vir die manne van Bellville.
Drieë vir Peoples is gedruk deur die vleuels Hugan Andersen en Charles Booysen, senter Donnie Pietersen, skrumskakel Barry Williams en Abass Hendricks. Pietersen (1) en Bernard Davids (2) het met doelskoppe geslaag.
Peoples speel Saterdag weg teen Saldanha. Die bus vertrek om 08:00 vanaf Essops Supermark. |