|
TER voorbereiding van Paarl Teaterklub se nuwe produksie "Die Vark en die Gousblom", word drie opvoerings gratis aan gemeenskapsorganisasies aangebied om geld in te samel.
Maandag word die opvoering aangebied ten bate van die Vereniging vir Serebraal Gestremdes (Ron Hendricks by 862-1554), Dinsdag vir die ACVV se geletterdheidsopleiding onder plaasarbeiders en Woensdag ten bate van die Agapé Vigs Ondersteuningsgroep (Zelda Fortuin by 872-1711).
Die "Vark en die Gousblom" is in die tipies Amerikaanse melodramatiese styl, en die verhaal is gebaseer op Bill Johnson se "Dirty Work at the Crossroads" wat uit 1890 dateer: Die skurk wat daarop uit is om die hart (bates?) van die pragtige blonde heldin te verower, al kos dit ook watse slinkshede en konkelwerk ... selfs moord!
In kort, 'n tong-in-die-kies sprokie waar die liefde en die goeie oorwin oor die bose.
Die produksie word vanaf 16 tot 31 Augustus in die Ou Meulteater, Paarl, opgevoer. Kaartjies vir 16, 17, 21 en 23 Augustus is reeds uitverkoop.
Kaartjies vir die ander opvoerings teen R25 per persoon by Print Right, Paarl (872-7209).
Besoek gerus ook die teater se webwerf by www.meulteater.co.za. |