safetop
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Wednesday 7 August 2002

uitlefstreep

This site will be updated on: 15 August 2002 at 17:00

 Letters - Briewe


Misleidende advertensie 'n hele bedrogspul

[ Top ]


EK wil graag lesers waarsku teen 'n bedrogspul wat deur 'n advertensie in verskeie koerante bedryf word.

Vir 'n paar maande het die volgende advertensie verskyn: "Tiksters dringend benodig. Om handleidings/boeke te tik. Geen ondervinding nodig. Verdien R7 per A4 bladsy." Ensovoorts, met telefoonnommers van "konsultante".

Die voornemende tikster betaal dan R190 om te registreer, met die belofte dat sy voorsien sal word van gereelde tikopdragte, waarvoor sy vergoed sal word.

Ek het die geld elektronies oorgeplaas (geen wagperiode vir 'n tjek nie) op 15 Mei, en het sowat 'n maand later eers my eerste tikopdragte gekry, wat ek voltooi en weggestuur het.

Byna nog 'n maand later het ek reaksie, in die vorm van 'n een-bladsy kennisgewing van "tikfoute", ontvang.

Die oorspronklike tikwerk, met foute aangedui, word nie teruggestuur nie en die tikster word één geleentheid, na bogenoemde kennisgewing gegun om tikwerk te korrigeer of "lidmaatskap" (en die "registrasiefooi") word heeltemal verbeur.

'n Telefoonoproep na Reitz Personeel se kantore in Pretoria het 'n vae belofte dat oorspronklike opdragte aangestuur sal word, opgelewer, sonder dat die konsultant ooit probeer uitvind het wie ek is!

Vrae oor hoeveel tiksters geregistreer is en wat die maandelikse uitbetalings aan tiksters beloop, is aanvanklik begroet met doodse stilte, daarna het ek aangehou vir die "onderbestuurder", totdat ek moeg was daarvan en die telefoon neergesit het.

My registrasienommer dui daarop dat ek die 58 901ste persoon was wat op hierdie advertensie gereageer het.

Doen self hierdie som: teen R190 per registrasie is meer as R11 miljoen reeds ingevorder teen middel-Mei.

Geen advertensies het in die afgelope week verskyn nie, en my voorspelling is dat Reitz Personeel net so stilweg gaan verdwyn.

Dis so ironies dat mense wat op dergelike advertensies reageer, gewoonlik diegene is wat werklik 'n ekstra inkomste benodig, en dit skaars kan bekostig om R190 in die water te gooi om skelms te verryk.

Helga Louw

Paarl


Tolpad sal Paarlvallei verskriklik knou

[ Top ]


EK wil my kommer uitspreek oor die invloed wat die beoogde tolpad kan hê op Paarliete wat in die Kaap werk.

Ek is in 'n daaglikse saamryklub Paarl na Bellville. Indien die tolhek op die N1 by Kraaifontein gebou word, gaan dit baie beslis 'n duur storie wees vir ons padverbruikers, glo R15 per rit. 

As dít die geval gaan wees, gaan dit ons R150 per week kos en wat nog van die petrolgeld wat betaal moet word? 

Nee wat, dan moet ek maar liewer trein ry - ek het nie R850 om elke maand sommer net so uit te gee nie. Die trein sal my maar 'n skamele R88 kos vir die hele maand!

My kind gaan skool in Bellville en my man werk in Stikland vir 'n meubelmaatskappy, maar ek woon lekker in die Paarl en wil nie trek nie.

Ek hoop mense besef watse slag dit vir die Paarlvallei sal wees as hierdie planne voortgaan, want baie mense sal stad toe moet trek.


Almal kan tog nie dadelik gehelp word nie

[ Top ]


EK wil graag reageer op die brief wat gekla het oor die behandeling van 'n pasiënt by Paarl Hospitaal se ongevalle.

Ek was daardie aand ook daar met my pa en ons is goed behandel deur die "staffie" soos sy genoem word. Sy was professioneel en ek was bly dat sy almal dieselfde behandel, ongeag hulle kleur.

Die mense wat gekla het is op 'n ordentlike manier gevra om in die wagkamer te wag.

Ek is seker die verpleegster sou haar ingeneem het as haar bloeddruk en ander goed nie reg was nie.

Die mense wou nie by ons in die wagkamer wag nie en het buite rondgehang en in hulle kar gesit.

Dr Kruger kan trots wees op sy personeel en die verpleegster dat sy almal gelyk behandel.

Ek is seker die verpleegsters het goeie opleiding en sal weet as iemand dadelik aandag moet kry. Almal kan tog nie verwag om dadelik gehelp te word nie.


Wat gaan aan in Champagnestraat

[ Top ]


VERLEDE jaar is Champagnestraat, aan die rand van Wellington, netjies geteer. Moes 'n aardige klompie geld gekos het.

Maar o wee, skaars was die werkery klaar, of die gort is gaar. Dit was glo die verkeerde teer wat gebruik is.

Die motors wat die pad gebruik, spat vol swart teerstrepe. Met elke warm dag ry die vragmotors sulke riwwe uit die oppervlak.

Die manne wat weet, maak toe plan. Hulle gooi gruis oor die oppervlak. Nie net een keer nie. Sommer aanmekaar. Met elke warm dag.

Toe spat die motors weer vol gruisklippertjies, sommer sulke honderde kolletjies dat dit lyk of jy 'n nuwe soort verflaag oor jou motor het.

Die straat sal een van die dae weer heeltemal oorgedoen word, belowe die werkers met die gruislorries.

Nou hoekom verf ander werkers dan toe onlangs die sperstrepe op die teerpad?

Dit lyk dan nou so na 'n afgehandelde stukkie werk.

Klaar gedaan

Die munisipale bestuurder van Drakenstein, Jacques Carstens, reageer: Champagnestraat is gedurende Mei 2001 herseel. Die hoofpad is 'n provinsiaal gesubsidieerde hoofpad en die werk is volgens die spesifikasies van die owerheid voltooi.

Met die warmer weer wat na die wintertoestande ingetree het, het die pad begin "bloei". Die klipskerwe wat hierna aangewend is om die toestand te verbeter, is normale praktyk.

Klagtes is wel ontvang van 'n paar motoriste oor verfoppervlaktes wat met nat teerklippies bespat is, maar dit is deur die betrokke kontrakteur hanteer.

Die padmerke word geplaas omdat die veiligheid van die padverbruikers eerste gestel word. In nagtoestande en tydens reënweer is dit van uiterste belang om die merke in plek te hê.

Die herseelde oppervlak is nie volgens standaard nie en is reeds 'n geruime tyd gelede onder die aandag van die Distrikspadingenieur gebring vir die nodige aandag.


Viva die moderne vrou

[ Top ]


VROUEDAG het sy ontstaan te danke aan 'n optog en manifes wat dateer uit 9 Augustus 1954.

Waarskynlik is daar nie veel vroue wat Vrydag gaan lus hê vir 'n optog nie, maar wat van 'n Manifes vir die Moderne Vrou.

Miskien kan dit die volgende regte verskans:

* Die reg op ruimte om 'n professie te beoefen;

* Die reg om nie elke aand te kook nie;

* Die reg om soms laat te slaap;

* Die reg om soms koffie in die bed te kry;

* Die reg om nie altyd ander mense se klere op te tel nie;

* Die reg om nie na elke gesinslid die badkamer skoon te maak nie;

* Die reg om nie elke keer die toiletsitplek te moet laat sak as adam die gemakshuisie besoek het nie;

* Die reg om nie heeltyd te moet loop en ligte afskakel nie;

* Die reg dat huismense luister as 'n mens praat;

* Die reg om tuindienste aan te stel en nie al die tuinwerk self te probeer doen nie;

* Die reg om 'n nutsman in te roep as die huisman nie by die herstelwerk uitkom nie.

* Die reg om af en toe sonder kinders inkopies te gaan doen.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za