|
OUERS wil die beste vir hul babas gee en wanneer dit by voeding kom is die beste kos vir babas moedersmelk. Borsvoedingsweek word dié week gedenk omdat al hoe minder babas moedersmelk kry.
Dekades van navorsing het bewys dat borsvoeding perfek geskik is om babas te voed en te beskerm teen siektes. Babas wat geborsvoed word, word minder in hospitale opgeneem, het minder oorinfeksies, diaree, allergieë en ander mediese probleme as bottelbabas.
In die Wes-Kaap begin 65,5% vroue binne die eerste uur ná kraam met borsvoeding en 86,5% binne die eerste dag.
Die gemiddelde tyd van eksklusiewe borsvoeding is net 12 dae in die Wes-Kaap. Nasionaal word net 10,5% van kinders onder drie maande eksklusief geborsvoed. Die getal val na 3,5% vir kinders tussen 4 en 12 maande.
Borsvoedingsweek wil al dié feite onder mense se aandag bring.
In 1956 het 'n paar Amerikaanse vroue besef die kuns van borsvoeding word nie meer van geslag tot geslag oorgedra nie en het met die eerste moeder-tot-moeder ondersteuningsgroepe vir borsvoedende mammas begin.
Die La Leche Liga hou maandelikse moeder-tot-moeder ondersteuningsgroepe waar ma's kan kyk, luister, vrae vra, kla en praat. Maak vriende met ander mammas, ontdek hulpbronne en help ander ma's.
By La Leche Liga word gepoog om 'n ma te laat glo in haar unieke vermoë om na haar baba se behoeftes om te sien en haar die selfvertroue te gee om keuses te maak wat vir haar en haar gesin die beste sal wees.
Die Paarl La Leche Liga vergader vandag om 10:00 op De La Roche. Die onderwerp is die gesonde voeding van mamma en baba. Vir 'n La Leche Liga byeenkoms naby jou, kontak Jonette Basson by 872-5297. |